UIT DIE ARGIEF: Anni Dewani se SMS’e voor haar dood
In 2013 het Huisgenoot ‘n uitgelekte verslag met SMS’e bekom oor Anni Dewani wat tydens haar wittebrood in Suid-Afrika doodgeskiet is. Daardie boodskappe skilder ’n prentjie van ’n sielsongelukkige bruid . . .
Anni Dewani. Foto: Facebook (Memory of Anni Hindoc
Anni Dewani. Foto: Facebook (Memory of Anni Hindocha aka Dewani)

Op die oog af was sy die pragtige Sweedse bruid, hy die sjarmante Britse bruidegom. Toe word sy in November 2010 tydens hul wittebrood in Suid-Afrika doodgeskiet in wat na bewering ’n mislukte kaping was.

Vanweë Shrien Dewani se hoë profiel as lid van ’n bekende familie in Brittanje, het die nuus soos ’n veldbrand versprei en is Kaapstad weer gebrandmerk as ’n gewelddadige plek waar misdaad en moord hoogty vier.

Die wittebrood in Suid-Afrika was glo ’n verrassing vir Anni. Haar ouers het eers uitgevind waarheen die paartjie gevlieg het nadat hulle reeds na Kaapstad vertrek het.

Volgens Shrien het hy en Anni ’n lekker tyd op safari gehad, en in ’n onderhoud met die Britse poniekoerant The Sun vertel hy van hul medetoeriste het gesê hulle is skoon siek oor die geluk wat die pasgetroude paartjie uitstraal.

Hartseer bruid se skok-SMS’e - deur Lara Atson saamgestel (Huisgenoot, 3 Oktober 2013)

Sy wou van kleins af ’n “groot Indiese troue” hê, maar toe dié dag eindelik aanbreek, was Anni Hindocha sielsongelukkig.

Die bruid het nie eens haar huweliksnag saam met haar man deurgebring nie, blyk dit nou.

Die 28-jarige Sweedse skoonheid het in haar eerste nag as mev. Dewani ná haar spogtroue in Indië ’n slaapkamer met haar niggie gedeel, en nie met die Britse sakeman Shrien Dewani (33) nie omdat hy geweier het om met haar seks te hê.

Hy het op die rusbank geslaap en die niggies in die slaapkamer van hul suite.

Anni wou minstens drie keer haar verlowing en troue afstel, sê haar niggie Sneha Mashru in ’n polisieverklaring wat aan die Britse media uitgelek is.

In die vier maande voor Anni in November 2010 doodgeskiet is, het sy Sneha in teksboodskappe vertel hoe ongelukkig sy is.

“Ek wil nie met hom trou nie. Ek gaan die res van my lewe ongelukkig wees,” lui een boodskap. En: “ ’n Mens kan hom nie eens ’n drukkie gee nie. Ons het niks gemeen nie. Hy’s ’n perfeksionis.”

'Ek wil nie met hom trou nie. Ek gaan die res van my lewe ongelukkig wees.'

Sy “haat” hom en wil haar “doodhuil”, vertel sy in ander. Nou is sy inderdaad dood, en haar man word daarvan beskuldig dat hy haar moord beplan het.

Shrien se gedrag op die begrafnis was nie normaal nie, sê Anni se oom Ashok Hindocha aan Huisgenoot uit Mariestad, Swede.

“Hy wou nie hê Anni se ma moet alleen tyd saam met haar deurbring nie. Dit gaan nie goed met haar ma nie, en haar pa is ook nie meer dieselfde nie. Hy vra heeltyd: ‘Wat het met my dogter gebeur?’”

Die gemis is ook vir Sneha groot. Sy het intussen getrou. Anni sou haar hoofstrooimeisie gewees het.

Die twee was van kleins af groot maats. Hulle het gereeld in Engeland by vriende en familie gaan kuier. Anni en Shrien het mekaar in Mei 2009 daar ontmoet.

Dit was nie liefde met die eerste oogopslag nie, maar hy het haar voete onder haar uitgeslaan, het Sneha vroeër vertel.

Die niggies het 10 maande later Engeland toe verhuis. Maar daar was gou krake in die verhouding tussen Shrien en Anni.

Anni het voor haar troue vir haar niggie Sneha Mashru vertel hoe ongelukkig sy is in haar verhouding.

Shrien was ’n beheervraat en pedanties, het sy by Sneha gekla. Hy wou ook nie intiem wees nie, glo weens hormoonbehandeling wat hy gekry het vir onvrugbaarheid.

Pappa, hy is soos ’n Hitler, maar moenie bekommerd wees nie; ek sal trou,



Anni het toe die verhouding verbreek, want sy wou kinders hê, het Sneha in haar verklaring vir die polisie vertel. Maar Shrien het kort daarna laat weet die behandeling werk en hulle het toe hul verhouding hervat.

Hulle het in Junie 2010 verloof geraak.

Anni se 64-jarige pa, ’n elektriese kontrakteur, het aan die polisie vertel Anni wou die verlowing verbreek, maar sy het tog geglo Shrien gaan verander.

“Pappa, hy is soos ’n Hitler, maar moenie bekommerd wees nie; ek sal trou,” het sy gesê.

Anni Dewani se gesin kan steeds nie haar dood verwerk nie.

Shrien se ouma het eenkeer in trane uit Indië gebel, vertel hy. Dié het hom gesmeek om met Anni te praat, want hul familie se reputasie sou aan flarde wees as sy die troue afstel.

Die paartjie het toe besluit om “saam te speel” op hul bruilof, sê Sneha.

Anni wou skei voor hul wittebrood in Suid-Afrika, maar toe sy eers hier was, het sy laat weet dit gaan beter.

Twee dae later was sy dood, en nie lank daarna nie is haar man weens haar moord aangekla.

Shrien se gedrag in die dae ná sy bruid se dood is op kringtelevisiekameras in die Cape Grace-hotel in Kaapstad vasgevang en op ’n BBC-program uitgesaai.

Dit was 24 uur voor haar dood, en dit lyk of hy ’n vuurwapen met sy hande naboots en in ’n hotelgang na haar beduie.

’n Dag ná haar dood glimlag hy terwyl hy op sy selfoon met familielede praat. Britse koerante beweer nou die polisie sal Shrien se beweerde geheime homoseksualiteit as motief vir die moord voorhou. Shrien sou glo dié leefstyl wou voortgesit het.

Leopold Leisser (40), ’n prostituut van Birmingham, beweer in ’n polisieverklaring Shrien was sy kliënt toe hy en Anni reeds in ’n verhouding was. Hy sê Shrien het vir hom gesê Anni se familie sou hom “onteien” as hy haar los.

Shrien word al geruime tyd in ’n Britse kliniek vir posttraumatiese stres behandel. Sy appèl teen ’n regter se bevinding in Julie 2013 dat hy aan Suid-Afrika uitgelewer moet word vir verhoor, word nou op 22 Oktober aangehoor.

In die Britse media word beweer sy regspan sal dan versoek dat hy weens sy geestestoestand in Brittanje verhoor word.

Die BBC het vir sy TV-program Panorama ballistiese kenners gevra om die gelekte polisiedossier te bekyk. Die kenners meen nou die koeël wat Anni getref het, is dalk per ongeluk “tydens ’n struweling” geskiet.

Daar heers glo ook kommer oor die taxibestuurder Zola Tongo (32) se weergawe van die moord.

’n Oproep wat die miljoenêrsakeman van Bristol na bewering op die dag van Anni se moord na hom gemaak het, is nêrens op selfoonrekords te vinde nie.

Zola en nog twee mans is intussen weens moord tot tronkstraf gevonnis.

Anni se oom Ashok sê hulle het eers op haar troue van die teksboodskappe tussen haar en Sneha uitgevind.

“Anni was voor die troue sowat drie maande in Indië vir die troureëlings. My broer het geweet daar was spanning, maar ons het gedink dis net oor die troureëlings.”

Anni se boodskappe

Sy het dié SMS’e in 2010 vir Sneha gestuur toe sy by Shrien se familie gekuier het.

5 Augustus

“Mis jou so baie. Wil nie by dié mense wees nie. Ek weet nie wat om te doen nie. Ek is baie gemakliker op my eie. Ek haat hulle. Wil myself doodhuil.”

25 Augustus

“Ek voel leeg sonder jou. Kan nie verstaan hoekom ek so huil nie.”

Toe sy in Indië was vir die troureëlings

3 September

“My klere is katastrofies en ek het soveel om te doen dat ek nie by als uitkom nie. Voel asof almal my verlaat het.”

16 September

“Ek baklei baie met Shrien. Het vir hom gesê ek gaan huis toe. Wens ek het nooit verloof geraak nie.”

“Almal sê vir my hoe gelukkig ek is. Absoluut siek. Ons sien mekaar drie dae en dis net ’n bakleiery.”

21 September

“Ek wil nie met hom trou nie. Ek gaan die res van my lewe ongelukkig wees. As ek dit geweet het, sou ek nie verloof geraak het nie.”

“Dink jy ek sal iemand anders kry as ek die verlowing verbreek? Ek voel sleg omdat almal al hul kaartjies bespreek het.”

22 September

“Ek het vir my en sy ouers gesê ek wil nie trou nie.”

30 September

“Haat hom. Ek is nie gelukkig nie.”

Tydens hul wittebrood in Suid-Afrika

10 November

“Ek probeer. Hy is ’n oulike man, maar ek voel nie gelukkig nie.”

11 November

“Dit gaan nou beter. Dis moeilik om te verduidelik, maar sal jou so gou moontlik bel met my terugkeer. Ek haat die woord egskeiding.”

Meer oor die rolspelers

Omstreeks agtuur die aand van 13 November 2010 word Anni en Shrien deur Tonga opgelaai vir ’n aandjie uit.

Anni se pa, Vinod Hindocha, het omstreeks halftwaalf dieselfde aand ’n bloedstollende oproep van Shrien se pa gekry: “Anni is ontvoer en ons weet nie waar sy is nie.” 

Kort daarna bel Shrien sy skoonpa en sê vir Vinod hy is jammer, hy kon nie na Anni omsien soos wat hy belowe het nie. Vinod het geglo Anni lewe nog, maar die huilende Shrien herhaal weer dat hy nie na Anni kon omsien nie.

Die volgende oggend, Sondag 14 November 2010, is Anni se liggaam op die agtersitplek van hul huurmotor gevind met ’n enkele koeëlwond in haar nek.

Vinod se laaste gesprek met Anni word deur hom as “gespanne” en kort beskryf. Dit was vir hom ongewoon omdat Anni gek daaroor was om te gesels. Maar sy het vir hom gesê sy het baie om hom te vertel wanneer sy Dinsdag terugkeer huis toe.

“Dit was ons laaste gesprek.”

Op 16 November keer Shrien terug na Engeland en die dag daarna word Xolile Mngweni in hegtenis geneem vir die kaping en moord van Anni Dewani. Op 18 November word Mzwamadoda Qwabe ook deur die polisie vasgetrek en twee dae later ook Tongo.

Xolile Mngweni

Hy sterf in November 2014 as gevolg van ’n breingewas. Mngweni was glo die persoon wat Anni doodgeskiet het en is lewenslange gevangenisstraf daarvoor opgelê.

Mzwamadoda Qwabe

Hy het in die hooggeregshof in Kaapstad getuig hy het na Anni se lyk gekyk.

“Ek dink sy het plat gelê, maar ek kan nie met sekerheid sê of dit aan die linker- of regterkant van die agtersitplek was nie.” Hy het egter nie seker gemaak of sy die koeëlwond oorleef het nie. Hy is 25 jaar tronkstraf opgelê.

Zola Tongo

Die toergids/huurmotorbestuurder is vir 18 jaar tronk toe gestuur.

Van links na regs: Mziwamadoda Qwabe, Xolile Mngeni en Zola Tongo het tronkstraf gekry vir Anni se moord. Anni se lyk is in dié Volkswagen Sharan in die Kaapse township Khayelitsha ontdek.

Leipold Leisser

Leipold (45) het ook as die “Duitse Meester” bekend gestaan en was na bewering Shrien se minnaar. Drie weke ná Anni se moord het hy vir Shrien ’n teksboodskap gestuur om uit te vind of hy oukei is nadat hy gesien het Shrien se Gaydar-profiel is van die internet verwyder.

Die spanning van die hofsaak waar hy as getuie moes verskyn, het te veel vir hom geword en in November 2016 het hy homself in sy huis opgehang.

Regter Janet Traverso het tydens die hofsaak die meeste van Leisser se getuienis as van min belang verwerp en hom huis toe gestuur.

Shrien Dewani

Vroeg in Augustus vanjaar duik Dewani se naam op, vier jaar nadat hy deur regter Traverso vrygespreek is in verband met Anni se moord. Sy het bevind Tongo, Qwabe en Molombo het getuienis verdraai om Dewani te impliseer in Anni se moord.

Dié keer is hy in die nuus omdat sy geheime lewe, wat eens so ver van die openbare oog verberg was, nou heel openlik op Instagram gedeel word. Dewani het liefde gevind by ’n Brasiliaanse fotograaf, Gledison Lopez Martins. Die twee is ongeveer 19 maande in ’n verhouding betrokke.

Shrien Dewani (regs) met die man in sy lewe, Gledison Lopez Martins. Foto: Instagram.
BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, BBC.CO.UK, PRETORIANEWS.CO.ZA, FREELIBRARY.COM, PEOPLE.CO.UK, THEGUARDIAN.COM, DIEBURGER.COM
FOTO'S: ELITEPHOTOAGENCY.COM, GALLO IMAGES/AFP/Foto24/LULAMA ZENZILE/YUNUS MOHAMED, GREATSTOCK/CORBIS, PICtURENEt/AP PHOTO/SCHALK VAN ZUYDAM

Wanneer word Ware lewensdramas weer uitgesaai?
Heruitsendings vind Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) plaas.