Nathaniel Julies. Skermgreep: YouTube/ Kimberley A
Nathaniel Julies. Skermgreep: YouTube/ Kimberley Allenspach

Eldorado Park, wes van Johannesburg, is alsbehalwe die “goue een” soos wat die naam beloof. Dit was ook die tuiste van Bridget Harris en haar 16-jarige seun met downsindroom, Nathaniel Julies.

In 2019 is Eldorado Park as een van die brandpunte in die land beskryf waar geweld en veral dwelmmisbruik hoogty vier. Gewelddadige protesoptogte, hetsy teen bendes of swak dienslewering, is ook nie ’n vreemde gesig nie.

En die polisie beloof plegtig om seker te maak dat diegene wat met dwelms handel, vasgetrek sal word. Dit was wat die woordvoerder van die Gautengse polisie, lt. Kay Makhubela, in dieselfde jaar onderneem het. Hy het onder meer gesê dit is die polisie se mandaat om seker te maak dat die inwoners in vrede kan leef.

Vir Bridget het daardie belofte egter geen vreugde ingehou nie. Sy sou nooit weer vir haar seun ’n ietsie in die hand kan stop sodat hy self sy gunstelingkoekies by die nabygeleë winkel kan koop nie. Want op 26 Augustus het sy lewe brutaal tot ’n einde gekom.

Nathaniel se stiefpa, Clint Smith, en sy ma, Bridg
Nathaniel se stiefpa, Clint Smith, en sy ma, Bridget Harris. Foto: Getty Images/Gallo Images

Volgens getuies het die polisie haar seun, gewond en in alle waarskynlikheid reeds oorlede, agterin hul vangwa gelaai en hom by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg afgelaai waar sy hom later aangetref het, sy bors bedek met bloed.

Maar hoe het Nathaniel gesterf? En dít enkele meter van sy huis af?

Nathaniel Julies. Foto: Facebook
Nathaniel Julies. Foto: Facebook

’n Ongeïdentifiseerde familielid sê Nathaniel het by kinders gaan sit en gesels nadat hy sy koekies gekoop het. Die polisie het verbygekom en hom ’n paar vrae gevra, “maar hy kon hulle nie antwoord nie, want hy was gestremd”.

Die premier van Gauteng, David Makhura, het beweer Nathaniel het in die kruisvuur tussen die polisie en ’n bende in die gebied beland. Volgens hom het die polisie gereageer op ’n wenk oor gesteelde motoronderdele toe Nathaniel geskiet is.

“Ek is hewig ontsteld oor die gebeure wat tot die dood van ’n onskuldige seun gelei het,” het hy gesê.

Die plaaslike mediapersoonlikheid Leanne Dlamini het op Instagram die volgende gedeel: “Jou lewe was nie verniet nie. Jy was nie ’n bendelid nie. Jy was nie ’n dief nie. Jy was ons seun en ons sal veg vir jou.”

Die vloedgolf van bitterheid en woede het byna oorgekook toe inwoners op 27 Augustus verlede jaar ná Nathaniel se dood na die plaaslike polisiekantoor opgemars en gedreig het om die gebou aan die brand te steek. Minstens drie polisiebeamptes is tydens die voorval beseer en voertuie is beskadig.

Nathaniel Julie se begrafnis. Foto: Gallo Images/
Nathaniel Julie se begrafnis. Foto: Gallo Images/ Reuters//Siphiwe Sibeko

Vir die gemeenskap het geregtigheid vir Nathaniel se skokdood twee dae later gekom toe twee polisiebeamptes in verband met sy dood in hegtenis geneem is. Hulle was deel van Eldorado Park se misdaadvoorkomingseenheid.

Later het ’n derde arrestasie gevolg. Simon ‘Scorpion’ Ndyalvane, Caylene Whiteboy (toe 23) en Voster Netshiongolo het op 22 September in die hof verskyn op aanklagte van moord en dat daar met die moordtoneel gepeuter is.

Nathaniel se stiefpa, Clint Smith, en sy ma, Bridg
Nathaniel se stiefpa, Clint Smith, en sy ma, Bridget Harris. Foto: Getty Images/Gallo Images

Ndyalvane se regsverteenwoordiger het Whiteboy as die skieter uitgewys wat die noodlottige skoot afgevuur het. Maar Jeff Maluleke, Whiteboy se regsverteenwoordiger, sê sy het nie bedoel om Nathaniel dood te skiet nie. Sy het pas eers haar 12 maande lange opleidingskursus in die polisiediens voltooi en het op instruksies van haar senior (Ndyalvana) opgetree.

Die drie polisiebeamptes wat van die moord op Nathaniel Julies (16) beskuldig word in die Protea-landdroshof op 28 September 2020. Foto: Sharon Seretlo/Gallo Images via Getty Images
Die drie polisiebeamptes wat van die moord op Nathaniel Julies (16) beskuldig word in die Protea-landdroshof op 28 September 2020. Foto: Sharon Seretlo/Gallo Images via Getty Images

Die saak teen die drietal het op 19 Maart 2021 begin. Hulle word aangekla van onder meer moord, die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar en die besit van onwettige ammunisie.

Op 22 April 2021 is die saak in die hooggeregshof uitgestel tot Mei vir verdere ondersoek.

Bronne: iol.co.za, issafrica.org, mg.co.za, ewn.co.za, timeslive.co.za

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Maandagaand 21:00 op Via (Dstv-kanaal 147) uitgesaai.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe