book-icon Uitgawe 23 Julie 2020

Ware lewensdramas: Het kankerlyer se eie familie haar vermoor?

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
In Junie 2020 is ’n soektog van stapel gestuur na Debbie Venter (52) nadat sy die vorige maand vermis geraak het. Vanaand in ‘Huisgenoot: Ware lewensdramas’ om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) herbesoek ons die saak waarin Debbie se halfsuster en swaer in verband met haar moord in hegtenis geneem is.
Benoni-vrou sterf glo nie aan kanker: het familie haar vermoor? Jana van der Merwe, Huisgenoot, 23 Julie 2020

Toe die kanker haar erg verswak, het haar halfsuster en dié se man na vore gekom om haar by te staan – nou word hulle van haar moord verdink.
Debbie Venter het servikale kanker gehad toe sy ve
Debbie Venter het servikale kanker gehad toe sy vermoor is. Foto: Facebook

Sy was sonder kind of kraai en al so verswak deur die kanker dat sy nie meer na haarself kon omsien nie.

Maar die tenger vrou van Benoni was nie gereed om dood te gaan nie, vertel ’n vriendin, en sy het geglo sy sal ten spyte van haar siekte nog voluit kon leef.

Maar toe was dit nie die kanker wat haar lewe eindelik geneem het nie – dit was moord.

En dit aan die hand van een van haar eie geliefdes; die een wat haar in haar kankerstryd versorg het.

Niemand na aan Debbie Venter (52), by wie servikale kanker verlede jaar gediagnoseer is, was in staat om haar te versorg nie. Oplaas het die voormalige verkoopsverteenwoordiger ’n hartverskeurende Facebook-pleidooi aan die wêreld gerig.

Debbie het gesê Danieta is baie goed vir haar. Sy het haar soms met ’n blommetjie bederf as sy vir haar ontbyt bring.

Op 9 Februarie skryf sy: “Ek is dringend op soek na iemand wat my kan inneem. Al wat ek nodig het, is iemand wat kan toesien dat ek drie etes per dag kry en my wasgoed een keer per week kan doen. Ek kan nie veel bekostig nie, maar dit is onderhandelbaar.”

En toe, net weke voor die aanvang van die inperking, kry Debbie die wonderlike nuus: Haar halfsuster, Danieta van Rhyn (39), en dié se man, Gert (39), sal na haar omsien.

Debbie was innig dankbaar en het by die Van Rhyns op Bronkhorstspruit gaan woon, vertel haar vriendin Madelain du Plessis (53), ook van Benoni.

“Debbie het gesê Danieta is baie goed vir haar. Sy het haar soms met ’n blommetjie bederf as sy vir haar ontbyt bring.”

Alles het perfek geklink. En hoekom dan nie? Debbie het immers haar veel jonger halfsussie grootgemaak ná die skielike afsterwe van hul ma, Hester.

Op 24 Mei het Debbie verjaar. “Danieta het glo vir Debbie ’n braai gereël, maar sy was te siek. Net die inperking het my gekeer om haar op haar verjaardag te gaan sien,” vertel Madelain.

Net vyf dae later, op 29 Mei, het Sheryll Smith (53) van Pretoria ’n kennisgewing oor ’n vermiste vrou op sosiale media gesien.

Dit is hoegenaamd nie aanvaarbaar dat jy almal wat jou lief het, bystaan, versorg, ondersteun, en onderskraag so die rug toekeer nie!! Ons almal het jou so baie lief!!!

En tot haar skok het sy besef dis haar vriendin Debbie. Volgens die kennisgewing deur die Pink Ladies-Faceboekgroep is Debbie se motor laas by ’n BP-vulstasie in Pretoria gewaar, sowat 50 km van Bronkhorstspruit af.

Sheryll en Madelain het Debbie se selfoonnommer oor en oor gebel, maar vergeefs. Daardie dag het Danieta haar halfsuster by die Bronkhorstspruitse polisiekantoor as vermis aangemeld.

En op 1 Junie tier Danieta op Debbie se Facebookblad: “Debbie as jy die boodskap op jou wall sien, asb reageer net!! Dit is hoegenaamd nie aanvaarbaar dat jy almal wat jou lief het, bystaan, versorg, ondersteun, en onderskraag so die rug toekeer nie!! Ons almal het jou so baie lief!!! Asb laat iemand net weet dat jy OK is? Of antwoord jou foon. Ek persoonlik het al meer as 7 oproepe jou foon kry lui tot voicemail, of jy druk dood??? Asb my sussie, ek smeek jou!!”

Danieta het dié opspraakwekkende in­skrywing op Fa
Danieta het dié opspraakwekkende in­skrywing op Facebook gemaak nadat Debbie verdwyn het. Foto: Facebook

Die kankerlyer se vriendinne het vermoed sy is dalk gekaap of het dalk iewers ineengestort en alleen in ’n hospitaal beland, “want Debbie was nie een van daai mense wat jou oor haar sal laat worry nie”, vertel Sheryll. Sy het die ergste begin vermoed.

“Terwyl sy weg was, het ek ’n baie nare droom gehad,” vertel Sheryll.

“Ek het gedroom hulle kry haar in haar kar waar sy so tussen die deur en sitplek in die fetusposisie lê. Twee dae later het hulle haar lyk gekry.”

Dit was weens ’n veldbrand dat brandbestryders twee weke ná haar verdwyning op haar lyk in Lindopark, Pretoria, afgekom het. Haar hande was agter haar rug vasgemaak en daar was ’n plastieksak oor haar kop.

Haar moordenaars het Debbie, wat ten tyde van haar dood net 42 kg geweeg het, in ’n stormwatersloot ingeprop. Van haar motor was daar g’n teken nie.

“Dit het gevoel of my hart uit my bors uit breek,” vertel Madelain oor die oomblik toe sy die verskriklike nuus kry.

Debbie se liggaam was deur die veldbrand verskroei, en dit het die amptelike uitkenning vertraag. En terwyl die vriendinne nog op bevestiging gewag het dat dit wel Debbie se oorskot is, het die tweede skok gekom.

Die polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem – haar “weldoeners”, Danieta, haar eie halfsuster, en Gert.

Debbie het ná haar ma se afsterwe basies vir Danieta grootgemaak. Toe Danieta hoor Debbie is siek en soek ’n plek om te bly, het sy na bewering gesê dit is nou haar beurt om na haar sussie om te sien.

Debbie se twee vriendinne vertel sy het voor haar verhuising na die Van Rhyns bitter min oor haar jonger halfsuster gepraat.

Madelain het net geweet dat Debbie en Danieta deur die jare “aan en af” kontak gehad het. Debbie was nog op skool toe haar ouers, Piet en Hester, geskei het. Hester het daarna weer getrou en Danieta gehad, maar laasgenoemde was nog ’n peuter toe Hester skielik oorlede is.

“Ek weet Debbie het ná haar ma se afsterwe basies vir Danieta grootgemaak. Toe Danieta hoor Debbie is siek en soek ’n plek om te bly, het sy na bewering gesê dit is nou haar beurt om na haar sussie om te sien,” vertel Madelain.

Madelain het Debbie op 16 Maart die laaste keer gesien toe Danieta haar gaan haal het om na Bronkhorstspruit te neem. “Sy het baie seer gehad daardie dag. Sy het geruk van die pyn en was baie bleek.

Sy het toe haar pilletjies gedrink en net by my gesit tot sy beter gevoel het,” vertel Madelain. Haar eerste indrukke van Danieta was goed.

“Sy was ’n aantreklike vrou, maar haar kleredrag het my laat dink aan iemand wat swaarkry.”

Gavin Bekker van Pretoria en sy suster Chiné ken die Van Rhyns al jare. En volgens hulle het dit onlangs maar sleg gegaan met die egpaar.

“Danieta is eintlik ’n baie nice mens,” vertel Gavin (35). Chiné beweer sy het twee jaar gelede haar vriendskap met Danieta beëindig.

Danieta was eens ’n finansiële adviseur en Gert ’n Transnet-veiligheidsinspekteur. Maar toe sy weer sien, het Danieta as kelnerin begin werk en was Gert werkloos. Sy het die twee se huwelik as stormagtig beleef, en van Debbie se bestaan het Chiné nooit gehoor nie.

“Danieta het my vertel dat sy ná haar ma se dood tussen ooms en tannies grootgeword het.

Dit was juis vir haar ’n leemte dat sy nie ’n familie het nie.” Madelain hervat haar vertelling.

“Danieta het my kop so deurmekaargesmokkel. Sy het my aanhou vra of Debbie nie by my uitgekom het nie. Maar ek kon nie sien hoe Debbie in daardie siek toestand sommer net die pad sou vat nie.”

Die ondersoekbeamptes in die saak, ao. Gerda Tosen en sers. Verusca Marais, het intussen uitgevind ’n groot bedrag geld is van Debbie se bankrekening na Gert s’n oorgeplaas. Dit was glo Debbie se uitgekeerde lewenspolis.

Huisgenoot het betroubaar verneem die bedrag wat oorgeplaas is, het R80 000 beloop. Terselfdertyd het Danieta en Gert uit Bronkhorstspruit verdwyn.

Dit was Gavin wat die twee kort daarna in ’n Spar in Pretoria gewaar het.

“Jirder, ek het nog vir Danieta gesê: ‘Kyk hoe lyk julle! Ek wil julle amper nie groet nie.’ Ek ken hulle; hulle het nie altyd so sleg gelyk – en geruik – nie,” vertel hy.

“Danieta het toe vir my gesê: ‘Moenie worry nie; een van die dae het ons weer ’n bietjie geld.’ Dit was haar woorde.”

OP 4 Julie is Danieta en Gert by ’n huis in Queenswood, Pretoria, aangekeer. Naby die einste Spar waar Gavin hulle aangetref het. En drie dae later het hulle in die beskuldigdebank gestaan.

Danieta van Rhyn, Debbie se halfsuster, en haar ma
Danieta van Rhyn, Debbie se halfsuster, en haar man, Gert, in die beskuldigdebank weens die moord. Foto: Deaan Vivier/Netwerk24

Kol. Solly Magongwa, takbevelvoerder van die Bronkhorstspruit-speurdiens, het aan Huisgenoot bevestig die egpaar is van ontvoering, moord, regsverydeling en bedrog aangekla.

Hul borgaansoek sou op 14 Julie aangehoor word. Solly het bevestig dat Debbie se identiteit met haar vingerafdrukke bevestig moes word omdat haar liggaam gebrand het.

Intussen spook Debbie se dood by haar vriendinne.

“Dis net so verskriklik, as ons net geweet het. Ek bid net sy het nie gely nie. As hulle dit gedoen het, is hulle bleddie monsters,” sê Sheryll.

“Dit was wreed. Ek kan nie dink hoe bang sy in daardie laaste oomblikke moes gewees het nie,” sê Madelain.

“Debbie het nie so iets verdien nie. Sy was bang vir die kanker, maar ek dink sy sou dit kon oorwin het.” 

  • Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandagaande om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees