Beau Brummell se dogter verpletter ná hartaanval nudis eis – Jacques Myburgh, 11 Junie 2020

As jy die naam Beau Brummell hoor, dink jy dadelik aan bleekwit boude, nostalgiese fotoboekies en nudisteoorde, maar vir sy dogter was hy ’n pa en die steunpilaar van hul familie.

“Ek het nooit die legende gesien wat almal anders gesien het nie. Ek het net my pa gesien. Die man wat altyd vir my omgegee het en my liefgehad het,” sê Cheyanne Bush. 

Cheyanne Bush
Beau Brummel saam met sy dogter Cheyanne Bush. Foto: Verskaf

Die kaalbaskoning (77) is op Donderdagoggend 11 Junie 2020 in die Mamelodi-hospitaal in Pretoria aan ’n hartaanval dood. “Dit was so skielik. Hy was nog gesond.”  

Beau se vrou, Cecilia (77), het hom Dinsdag hospitaal toe gevat nadat hy begin kla het dat hy nie asem kry nie. 

View this post on Instagram

A post shared by Beau Brummell aka Mike Bush (@beaubrummell1942)

“Ek het hom Dinsdagaand vir die laaste keer gesien. Ek het nog vir hom gesê hy moenie doodgaan nie. Sy woorde aan my was dat hy nie sal nie,” sê sy snikkend. 

Beau was wydbekend as ’n nudis en het in 1978 die nudisteoord Beau Valley, buitekant Bela-Bela, begin. Hy het gou ’n legende onder nudiste geword en het ook in die 1970’s in fotoboekies verskyn as die karakter Beau die ontembare

Hy het in Bronkhorstspruit saam met sy vrou en dogter gebly. 

“Dit is moeilik om te dink hy is weg. Hy was ons steunpilaar. Vir my was dit nooit vreemd om Beau Brummel se dogter te wees nie. Ek het in Beau Valley grootgeword. Ek was ook kaal. Ek het net my pa gesien en nie die kaalbaskoning wat almal anders gesien het nie.” 

Die familie gaan ’n privaat diens vir hom hou en hom veras. 

“Ons weet nog nie wat ons met sy as gaan doen nie. Sy as gaan vir eers saam met ons by die huis bly. Dit is wat hy sou wou gehad het. Om naby aan ons te wees.”

Meer oor Beau

Foto: Instagram/@beaubrummell1942
Foto: Instagram/@beaubrummell1942

Beau Brummell, oftewel Beau F. Bush,  het ook ’n paar pennevrugte die lig laat sien. Een van hulle is: Once we were naked: Beau Brummell’s nude extravaganza.

Daarin word hy beskryf as ’n plaasseun van Pretoria wat ’n flambojante rock en roll-ster (Beau Brummell Esquire) in Londen in die 1960’s was tydens die era van Tom Jones, die Beatles en die Rolling Stones.

Hy het die naam van George Bryan “Beau” Brummell aangeneem, ’n man wat ’n groot rol in mansmodes in Engeland gespeel het en ’n goeie vriend van koning George IV (wat toe nog ’n prins was), was.

Volgens Africa’s naked tribe: Life and times of a naturist, Beau Brummell, het hy saam met Tom Jones en die Rolling Stones op TV verskyn, sonder ’n draad klere in Hamburg met pragtige Duitse meisies en in cowboy-flieks saam met Clint Eastwood in Rome.

Foto: Instagram/@beaubrummell1942
  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Maandagaand 21:00 op Via (Dstv-kanaal 147) uitgesaai.