Op 27 Maart 1985 kon niemand voorsien wat later die dag gebeur het nie — ’n ramp wat meer as 34 jaar later steeds onthou word.

Suid-Afrika is in rou gedompel toe ’n geel dubbeldekkerbus met 72 skoolkinders van die Hoërskool Vorentoe oor die brug by die Westdene-dam ry. Danksy die moed van talle het 30 kinders die ramp oorleef.

Geen groter liefde . . . om jou lewe te gee vir ander — Bessie Pienaar & Lynette Blignaut (Huisgenoot 11 April 1985)
Vyf keer het Pieter Koen ingeduik. Vyf keer het hy ’n lewe gered. Die sesde keer het hy nie weer opgekom nie. Hy sal onthou word as een van die stille helde op daardie verskriklike dag toe die skoolbus in die Westdene-dam gestort het.

Binne enkele oomblikke nadat die skoolbus daar­die verskriklike dag in die Westdene-dam gestort het, was Pieter Koen uit en bo, op die dak van die bus.

Maar onder hom, het hy ge­weet, is sy skoolmaats vasge­vang in die troebel waters. Die 17-jarige matriekseun het ingeduik, onder die water gevoel en ’n maat uitgetrek. Toe weer. Soos Wolraad Wol­temade is hy telkens in die wa­ter terug.

Vyf keer het Pieter ingeduik. Vyf keer ’n lewe gered. Die sesde keer het hy nie weer op­gekom nie . . .

“Vriende het gesê ek moenie oor Pieter bekommerd wees nie, want hy is ’n sterk swemmer,” vertel sy ma. “Party het vir my gesê hy is veilig, want hulle het hom op die bus se dak gesien. Ek was verlig en het na my dogter, Ronel (14), begin soek.” (Ronel, geen sterk swemmer nie, het tog uitge­kom.)

Die matriekseun Pieter Koen wat vyf kinders gered
Die matriekseun Pieter Koen wat vyf kinders gered voordat hy self verdrink het. Foto: Libby Edwards

“Pieter was nog sy hele lewe lank onselfsugtig en behulp­saam. Buitendien was hy fiks — hy was ’n langafstandatleet — en hy sou gedink het dat hy tot die einde kon uithou.

“Net die week tevore nog het hy sy vorms ingevul om aanstaande jaar onderwyskol­lege toe te gaan, maar ons is nie bitter nie. Die Vader het ons lieflike seun 17 jaar lank aan ons gegee. Wat moes gebeur, het gebeur. Ons is trots op ons kind, omdat hy tot aan die einde soos ’n kind van die Here opgetree het.”

Pieter Koen was maar een van die stille helde op daardie rampdag.

Heldemoed

Vandag nog kom die verhale van heldemoed uit van kinders en grootmense — wit en swart — wat daardie dag eenvoudig nie aan hul eie lewe gedink het nie, maar in die dreigende wa­ters gespring het om lewens te red.

Theo de Koker en Matthys Wehmeyer was twee sulkes. Hierdie twee rugbyspelers van Vorentoe se eerstespan het in die voorste bus gery, onbewus daarvan Theo se kleinsus, Eu­rika (15), in die noodlotsbus ag­ter hulle is.

“Skielik het ek ’n gegil ge­hoor. Ek het net betyds omge­kyk om te sien hoe die bus in die water wegsak. Ek en Matthys het die busbestuurder laat stilhou en dadelik uitge­spring,” vertel Theo.

“Ons het ons skoene en baadjies in die hardloop uitge­pluk en saam in die water ge­duik. Die eerste gesig wat uit die donker water opgekom het, was dié van ons vriend Deon Beukes.

“Hy was uitgeput en ons het hom weerskante aan sy arms beetgekry en met hom wal toe geswem. Toe is ons terug bus toe, waar ons so vinnig moontlik van die ander kinders begin uitduik het.

“Ek kan nie onthou hoeveel ons so uit die water gehaal het nie, maar die volgende oom­blik het Matthys ’n meisie by die venster uitgetrek. Tot my ontsteltenis het ek gesien dis my suster, Eurika.

Die twee rugbymaats Matthys Wehmeyer (links) en Th
Die twee rugbymaats Matthys Wehmeyer (links) en Theo de Koker, by Theo se suster, Eu­rika, een van die skoolkinders vir wie hulle gered het. Die twee seuns was in 'n ander bus voor die rampbus. Foto: Libby Edwards

“Ons het haar saam tot op die bus se dak gehelp, maar sy was bewusteloos. Die meeste mense wat gered is, se monde was oop. Ek weet nie wat vir my gesê het ek moet haar mond oopmaak nie, maar ek het.

Ek het my vinger in haar keel gedruk en haar tong agter uit haar mond ge­haal.

“Sy het haar tande opme­kaar gekners, maar ek het dit oopgedwing. Ek het my vinger in haar keel gedruk en haar tong agter uit haar mond ge­haal. Toe eers het die water uit haar keel gestroom. Mense van die ambulansspan het toe by ons oorgeneem.

“Ná Eurika het ek en Matthys nog vir Connie Preto­rius ook uit die bus gehaal, maar sy was reeds dood. So ook was die ander wat ons daarna uitgehaal het.

Later kon ons self nie meer swem nie, ons was te moeg.

“Ek beskou ons nie as helde nie. Enigiemand sou dit in die­selfde omstandighede gedoen het. Die ergste was dat ons op daardie bus se dak gestaan en geweet het daar is mense on­der ons, mense wat ons ken, wat besig is om dood te gaan. En ons kon niks daaraan doen nie . . .”

As hy oor iets jammer is, sê Matthys, is dat hulle nie meer kon doen nie.

“Ons het so vin­nig gehelp as wat ons kon, maar later kon ons self nie meer swem nie, ons was te moeg.”

Ook Coenraad Viljoen (15) was in een van die ander busse. Toe hy sien wat gebeur het, het hy dadelik ’n verbygaande motoris voorgekeer en ’n dom­krag gevra.

Met die domkrag in sy hand het hy na die bus geswem.

“Maar dit was te laat om die vensters uit te slaan, want die bus het toe al gesink.

“Dit was verskriklik. Almal het geskreeu en het teen die kante van die bus se vensters geslaan. Die meeste kinders was reeds bewusteloos, maar ek het iemand beetgekry wat in een van die vensters vasge­sit het. Ek het haar uitgekry en boontoe getrek. Nog iemand het uitgeput wal toe probeer swem. Ek het haar gehelp en toe self doodmoeg uit die water geklim.”

Nog ’n held is mnr. Izak Bouwer, wat besig was om petrol in sy motor te gooi toe ’n vrou met die nuus by die mo­torhawe aankom.

“Ek het die enkele kilometer na die dam soos ’n besetene afgelê. Daar was nog min mense op die toneel, maar oral het skoolklere en kinders op die water gedryf.

“Ek het niks anders om my raakgesien nie en blindelings in die water geduik. Die een gedagte wat die hele tyd by my opgekom het, was dat my nefie, Gerhard van der Bergh, in daardie bus is.

“Ek het onder die water probeer sien, maar kon nie. Alles was donker. Ek het toe maar voel-voel met my hande by die busvenster probeer kom. Telkens het ek die skoppende bene en grypende arms van skoolkinders vasgevat. Ek het hulle gehelp om tot op die bus se dak te kom.

Mnr. Izak Bouwer (regs) by sy nefie, Gerhard van d
Mnr. Izak Bouwer (regs) by sy nefie, Gerhard van der Bergh, vir wie hy uit die bus gehaal het. Mnr. Bou­wer was van die eerstes op die toneel en het ingeduik. 'Telkens het ek skoppende bene en gry­pende arms vasgevat. Ek het hulle ge­help om tot op die bus se dak te kom ... ' Foto: Libby Edwards

“Onder hulle was drie meisies en vier seuns. Almal van hulle leef. Die laaste van hulle was my nefie, Gerhard. Ek was so geskok en tegelyk verlig toe ek sy bekende gesiggie sien dat ek vir ’n oomblik nie geweet het wat ek doen nie.

“Instink het oorgeneem, ek dink verligting ook, want nadat ek hom tot op die bus se dak gehelp het, het ek ontsettend moeg geword. Ek was sowat 20 minute lank onophoudelik in die water.

“Toe ek uitklim, het ek die geskokte Gerhard reguit huis toe geneem."

Die skraal Wimpie van Aswegan (14), pastoriekind van die N.G. Kerk Westdene, het by die paal langs die be­stuurder gestaan toe die bus die water tref.

Die water het eers net tot by my nek gestyg en ek onthou dat ek diep asemgehaal het voor die donker water oor my kop gespoel het.

"Ek weet nou nog nie hoe ek uit daardie bus gekom het nie. Ek dink die water moes die voorruit uitgestamp het, want die vloed het my van my voete af gestoot. Al hoop was om aan die paal vas te klou.

“Later het dit nie meer ge­help nie. Ek is onder die ma­lende, skoppende kinders in. Almal het ’n vashouplek ge­soek. Die water het eers net tot by my nek gestyg en ek onthou dat ek diep asemgehaal het voor die donker water oor my kop gespoel het.”
 
Wimpie het ’n ligkol wat die son op die water gemaak het gesien en het soontoe geswem. Die water het hom teen die dak van die onderdeel van die bus vasgedruk. Hy het blinde­lings met sy hande gevoel tot hy by die stukkende ruit uitge­kom het.

“Die volgende oomblik was ek vry. Ek het my kop bokant die water uitgesteek en op die bus se dak geklim. Iewers on­der die water het iemand ge­spartel om bo te kom.

"Ek het weer diep asem ge­skep en weer onder die water ingesak. Dit moet ’n meisie ge­wees het, want ek het haar skoene gevoel. Sy het so ge­spartel dat ek haar omtrent nie kon vashou nie, maar iemand het my gehelp om haar op die dak te help.

“Ek het my baadjie uitgetrek en die mou om nog iemand in die water se arm probeer draai. Hy moet half bygekom het, want hy het dit vasgegryp toe ek hom dak toe getrek het.

“Die water het omtrent dadelik oor my kop ge­stoot. Ek het hande oral op my lyf gevoel.

“Daarna weet ek nie veel nie. Ek het in die water ge­spring en kant toe geswem, waar my pa my gekry het. Ek was nog altyd ’n gelowige mens, maar hierdie ramp het my geleer hoe wonderlik die Here is.”

Nog ’n seun wat naby die busbestuurder gestaan het, was die 14-jarige Petrus van Heerden.

“Die water het omtrent dadelik oor my kop ge­stoot. Ek het hande oral op my lyf gevoel. Ek het my oë oopge­maak en ’n vae ligkol op die water gesien. Dit was die son.

“Ek het in daardie rigting probeer swem en het by ’n venster uitgekom. Ek het my kop vinnig bokant die water uitgesteek en toe weer afgesak. Ek het geweet Bernard Les­sing, my vriend, is nog daar on­der.

“Ek het my hand deur die venster gesteek en hom beetge­kry. Saam het ons tot op die oppervlak geswem waar ie­mand hom by my geneem het. Ek is toe vir die tweede keer ondertoe, waar ek Karien Herman gekry het.

“Ek het haar boontoe ge­neem, maar sy het geen hartklop of polsslag gehad nie. Op die bus se dak het ek gesien sy is al blou in die gesig. Ek het by die Voortrekkers noodhulp ge­leer en het haar op haar bors geslaan. Iemand anders het my gehelp om mond-tot-mond­asemhaling toe te pas.”

Karien leef vandag. Nadat hy uitgeswem het, het Petrus druipnat en geskok die paadjie huis toe gestap. Sy ouers was nie daar nie en die bure het hom in ’n warm bad gesit.

Hulle kon egter nie keer dat hy kort daarna terug is na die toneel om na sy sussie, Elsa (17), te gaan soek nie. Maar dit was te laat. Sy was reeds dood.

“Ek het self nie geweet ek het dit in my nie, maar as jy geskok is, kry jy iewers die krag," sê John Gordon (15), ’n tenger skoolseun van 55 kg, wat drie van sy maats van ’n gewisse waterdood gered het nadat hy self eers ’n floute ge­kry het.

“Toe ek bykom, was die wa­ter oral om ons. Ek het gesien my vriend Flaggies Waldeck is bewusteloos en het met hom by ’n oop venster uitgeswem. Sy nooi, Lizette van Vuuren, het aan sy voet vasgegryp." John het albei tot op die dak gehelp.

Danie du Toit (links) bet uitge­kom, op die dak ge
Danie du Toit (links) bet uitge­kom, op die dak geklim _ en dadelik weer ingeduik om van sy maats uit te haal. John Gordon (regs) het sy vriend Flaggies Waldeck (middel) be­wusteloos uit die bus getrek. Foto: Libby Edwards

“Toe het ek teruggeduik en die meisie wat langs my gesit het, ook uitgehaal. Ek dink dit was Elize Venter.”

Die water het Danie du Toit (14) onderstebo gestamp, maar hy het by ’n agterruit uitge­swem en op die bus se dak ge­klim.

Een van die meisies se vuiste was stukkend, seker soos sy gespook het om ’n ruit te breek.

“Toe het dit eers tot my deurgedring wat gebeur het. Ek het dadelik in die water teruggespring. Ek het ’n meisie aan haar been gegryp en tot op die dak gestoot. En nog ’n mei­sie uitgetrek. Ek kon amper niks meer sien nie.

“Een van die meisies se vuiste was stukkend, seker soos sy gespook het om ’n ruit te breek.”

Johan Botha (26), ’n mon­teur-draaier, was een van die eerste op die ramptoneel. Sy ouerhuis is reg oorkant die dam. ’n Mens tel nie, sê hy, maar skat hy het so nege, 10 kinders uitgehaal en tot op die dak getrek.

“Ek was met verlof, verder was dit maar ’n gewone dag. Ek het saam met my broer, Buks (20), en twee vriende ka­fee toe gery. Net toe ons stil­hou, hoor ons my moeder gil: 'Die skoolbus is in die dam!' Ons het dadelik oor die straat gehardloop.

“Ek het oor die draad geklim en klere en al in die water ge­duik. Saam met my vriend Dirkie Lourens het ons kinders deur die klein, boonste ven­sters uitgetrek tot iemand later ’n domkrag aangegee het en ons ’n paar ruite kon breek.

“Die eerste vier kinders het al begin blou word, van die an­der was al taamlik blou. Toe besef ons die kinders op die dak is so verbouereerd dat hul­le nie juis kon help nie.

“Toe klim Dirkie self op die dak om kinders aan te vat en noodhulp toe te pas. Buks en Martin Pieterse het die kinders op die wal uitgehelp en arbeiders wat gou by was om toue in die water te gooi, het nog lewens gered omdat die kinders dit kon vasgryp.”

Jy is nie ’n held as jy 'n kind red nie. Dis bloot menslikheid, sê mnr. Freddie Mahner (40), mede-eienaar van 'n groente­winkel naby. die dam.

“Dit was etenstyd en ’n baie besige tyd van die maand. Ek wou my motor gaan haal.”

Mnr. Mahner woon oorkant die dam. “My vrou het in ons rigting gery en haar motorligte geflikker. Ek wis onmiddellik daar is groot fout en het my klere begin afpluk toe ek sien die mense drom saam om die dam.

Ons wil nie sê ons kinders is helde nie. Ek dink elkeen van daar­die kinders in die bus sal tot in lengte van dae helde bly.

“Ek en my swaer, Kenneth Nel, het dadelik in die water gespring en kinders begin uit­trek. Ek weet nie presies hoe­veel nie. Ek het eers ’n fris seun uitgehelp en toe ’n meisie tot op die dak getel. Ek het ’n slag afgesak na die onderste deel, maar die water het my opgedruk.”

Een van die vaders van hierdie jong helde sê: “Ons wil nie sê ons kinders is helde nie. Ek dink elkeen van daar­die kinders in die bus sal tot in lengte van dae helde bly. Meer as een mens, hetsy kind of vol­wassene, sal dalk nooit eers er­kenning kry vir hul aandeel om ons kinders te help nie.

"Ons sê net uit ons harte dankie, dankie vir die vreemde mans wat in daardie water ge­duik het om ons kinders te help. Dankie vir die skoolkin­ders wat hul maatjies probeer red het, dankie vir die noodhulpmense en ander wat by­stand verleen het, dankie vir almal."

Die Staatspresident, mnr. P.W. Botha, het opdrag gegee dat diegene wat in buitenge­wone omstandighede ander se lewe daar by die Westdene­dam gered het vir hul dapper­heid beloon word.

Hulle sal in aanmerking kom vir die Wolraad Woltemade­medalje vir dapperheid.

“Dap­perheid en onverskrokkenheid is van die menslike eienskappe waarsonder geen gemeenskap kan leef nie,” het pres. Botha gesê.

Ekstra bron: westdene1985.co.za 

Wanneer en waar?

Huisgenoot: Ware Lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Episodes word die daaropvolgende Maandag om 14:00 herhaal.