Bang tot die dood toe — Jana van der Merwe en Jana Smit (Huisgenoot 13 Julie 2017

Maande voor haar dood was Suna Venter so bang dat sy ’n verklaring by ons afgelewer het, ‘sou iets ernstigs gebeur’

’n Mens lees vrees in die jong joernalis se bleek gesig, daar waar sy met kleefband styf om die nek vroualleen in die verlate donkerte aan ’n boom vasgebind is, aan haar eie genade oorgelaat, op die Melvillekoppies in Johannesburg.

Die spookagtige beeld van Suna Venter, ’n senior SAUK-vervaardiger en een van die sogenaamde SAUK-8, is geneem ure nadat sy na bewering ontvoer is en net voor die polisie haar gered het.

Suna (32) het maande gelede self die foto’s van die skrikwekkende voorval aan Huisgenoot gewys. Dit was net een van talle traumatiese ontberings wat sy moes verduur, het die onwrikbare joernalis aan Huisgenoot vertel.

In ’n skokwending is Suna se lyk op Donderdag 29 Junie in haar woonstel in Fairland, Johannesburg, gevind nadat sy twee dae nie by die werk opgedaag het nie.

Die spanning van maande se hel het, volgens haar naastes, eindelik te veel geword.

Luidens ’n familieverklaring is stresgeïnduseerde kardiomiopatie, ’n harttoestand ook bekend as “gebrokehartsindroom”, drie maande voor Suna se dood by haar gediagnoseer. Dit word glo deur trauma en lang tye van onnatuurlike stres veroorsaak.

Foeta Krige, uitvoerende vervaardiger van RSG, sê Suna het geruime tyd medikasie gebruik om haar hartritme, wat soms te vinnig óf te stadig was, te beheer.

Die teistering teen haar en van haar mede-SAUK-8-lede het ’n maand ná hul skorsing in Julie 2016 met SMS-dreigemente begin, waarskynlik om hulle in hul optrede teen die SAUK van stryk te bring.

Daar was ook aanslae teen van die ander SAUK-8, maar dit was meestal net dreigemente. By Suna, daarenteen, het dit na bewering tot intimidasie oorgegaan.

Sy het haar naastes vertel daar is onder meer in Johannesburg by haar motor en woonstel ingebreek, iemand het deur haar motorvoorruit op haar geskiet, sy is ontvoer, sy is met ’n windbuks in die gesig geskiet en iemand het met haar remme gepeuter.

Sy het veral as een van die sogenaamde SAUK-8 beke
Sy het veral as een van die sogenaamde SAUK-8 bekend geword en is ná maande van hel, waartydens sy onder meer met ’n windbuks in die gesig geskiet is, vermoedelik weens gebrokehartsindroom oorlede.

Huisgenoot het voor haar dood verskeie gesprekke met Suna gehad: Die jong vrou het vir haar lewe gevrees en was duidelik erg gespanne.

Sowat vier maande ná Oktober verlede jaar se voorval op Melvillekoppie het sy ’n Huisgenoot-joernalis op 2 Februarie vanjaar ontmoet vir ’n informele gesprek.

Dit het gevolg op nog ’n voorval, een waar sy met ’n windbuks in die gesig geskiet is.

Sy was op Saterdag 14 Januarie op pad na vriende en het wegneemetes in Linden gekoop. Toe sy in haar motor klim, is op haar geskiet.

Suna het aan Huisgenoot vertel: “Ek het ses dae laas geëet. Ek is baie gestres. Werk ek in die dag, is dit stresvol; klim ek saans in die kar en ry huis toe, is dit . . .”

Die fyn joernalis het nie die sin voltooi nie en ’n rukkie stilgebly.

“Ek het nie regtig ’n ander roete (huis toe) as daardie een nie. Ek moet elke aand daar verbyry.”

Destyds wou sy nie hê ons moet ’n artikel oor ons gesprekke publiseer nie.  Sy het belowe ons sal mekaar “wanneer die tyd reg is” amptelik vir ’n onderhoud ontmoet.

“Ek belowe jou ek sal praat wanneer alles die dag verby is,” was Suna se woorde.

Ons sal nooit dié beloofde gesprek hê nie, want vir Suna is alles nou verby.

’n Betroubare bron met kennis van die polisieondersoek sê hy glo haar teisteraars wou haar “mal maak”; sy het “baie pille” begin drink om die spanning te hanteer.

SAUK-8

Maar al het Suna ’n voorgevoel gehad dat “iets ernstigs” weens die SAUK-drama met haar kon gebeur, het sy steeds geweier om die openbare uitsaaier te verlaat.

Suna het bekend geraak as een van die sogenaamde SAUK-8, werknemers van die openbare uitsaaier wie se diens in Julie verlede jaar opgeskort is nadat hulle kapsie gemaak het teen Hlaudi Motsoeneng, die destydse hoofbedryfsbeampte, se verbod op die uitsaai in nuusberigte van klank- of beeldmateriaal van gewelddadige protesoptrede.

Die groep SAUK-joernaliste het benewens Suna ook Foeta, Thandeka Gqubule, Jacques Steenkamp, Krivani Pillay, Lukhanyo Calata, Busisiwe Ntuli en Vuyo Mvoko ingesluit.

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika, wat ook die SAUK reguleer, het die uitsaaier ná hul afdanking beveel om die beleid ter syde te stel, maar daarvan het dadels gekom.

Suna (regs) en nog drie lede van die SAUK-8 (van l
Suna (regs) en nog drie lede van die SAUK-8 (van links): Foeta Krige, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp. Foto: Gallo Images/Sowetan/Vathiswa Ruselo

Ná ’n hewige geding in die arbeidshof is sewe van hulle, onder wie Suna, in September heraangestel. Die groep het dit nie daar gelaat nie en hulle tot die konstitusionele hof gewend om die parlement te dwing om ’n ondersoekkommissie na die openbare uitsaaier aan te stel.

Die aansoek is ter syde gestel, maar ’n parlementêre ad hoc-komitee is gevorm om die SAUK-raad te ondersoek.

Vier van die agt het in Desember voor die komitee getuig, maar nie Suna nie. Foeta het verlede jaar die eerste klag van intimidasie by die polisie in Florida ingedien weens die dreigboodskappe wat hulle ontvang het.

Suna en Foeta betoog vir mediavryheid. Foto: Gallo
Suna en Foeta betoog vir mediavryheid. Foto: Gallo Images/Beeld/Felix Dlangamandla

Een van die SMS’e wat aan Suna en Foeta gestuur is, het gelui: “The little girl is going to get hurt.

Suna het toenemend bekommerd begin raak, want sy het geweet sy is die “little girl” na wie hulle verwys.

“Wanneer iemand vir jou sê hulle sal jou kom seermaak, sal jy dit nie ligtelik opneem nie,” vertel ons bron met kennis van die ondersoek.

Dit duur voort, maar die vermoede is die boodskappe het óf gekom van binne of naby die SAUK, van iemand wat daar werk óf van iemand wat opdrag gekry het by ’n werknemer.

Ná elke SMS is van die betrokke SIM-kaart ontslae geraak.

“Al hoe jy die skuldige sal vastrek, is as jy die selfoon nog in hul besit vind. Ek glo nie dit sal nou meer moontlik wees nie,” meen die bron.

“Daar is geen bewys dat die aanvalle op Suna iets met die SAUK te doen gehad het nie,” het Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, by navraag gesê.

Volgens hom het hy destyds reeds, toe die SAUK-8 in die nuus was, namens die SAUK gesê die polisie moet die doodsdreigemente en voorvalle hanteer wat plaasgevind het.

“Ek is nie ’n dokter nie. Ek kan nie sê die stres (wat Suna ervaar het) is deur die SAUK veroorsaak nie. Stres kan deur baie dinge veroorsaak word. Ons loof Suna vir die standpunt wat sy destyds ingeneem het.”

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder, het teen druktyd aan Huisgenoot bevestig ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen. Hy het gesê die uitslag van die lykskouing wat die amptelike oorsaak van Suna se dood sal vasstel, is nog nie bekend nie.

Hoewel Suna ’n sterk vrou was, was sy ook die “sagte teiken” in die groep omdat sy die jongste was en sag voorgekom het, meen ons bron.

Tog het die dapper jong vrou haar soeke na reg en geregtigheid onverpoos voortgesit.

Een aand einde verlede jaar het iemand in die omgewing van Melville, Johannesburg, deur haar motor se voorruit geskiet. Die koeëls het haar rakelings gemis. Maar in ’n opvolg-SMS is sy gewaarsku: “Volgende keer gaan ons nie mis skiet nie.”

Dis ook in dié tyd dat Suna glo ontvoer is. Sy het ná die voorval aan Huisgenoot vertel ’n man het in haar woonstel te voorskyn gekom nadat sy op die bank voor die televisie aan die slaap geraak het.

“Ek onthou alles baie vaag. Dit was asof ek ’n blackout gekry het. Hy het met my in my motor na die Wespark-begraafplaas gery. Hy het ’n vuurwapen uitgehaal en met my deur die begraafplaas tot op Melvillekoppie gestap.”

Sy is beseer soos hy haar al vallende oor die klippe gesleep het. Hy het haar toe aan die boom vasgebind, het sy vertel.

“Hy het net vir my gesê: ‘Now you’re going to die like you were supposed to,’ ” het Suna in November verlede jaar telefonies aan Huisgenoot vertel.

Sy kon nie sê of die ontvoering verband gehou het met die ander voorvalle nie, maar het sy woorde aan haar bevraagteken:

“Hoekom sou hy dit sê?”

Die ontvoerder het toe, volgens haar, in ’n bisarre ritueel die droë gras saam met blare en stokke in ’n sirkel om haar met vuurjel aan die brand gesteek.

Die man het gevlug en sy kon haar hande loswikkel.

“Ek het my selfoon nog in my baadjie se sak gehad. Hy het dit nie geweet nie.”

Suna is in ’n skrikwekkende voorval glo ontvoer en
Suna is in ’n skrikwekkende voorval glo ontvoer en op die Melvillekoppies aan ’n boom vasgebind. Die foto’s is van haar geneem voor sy bevry is.
Tydens die nag van die beweerde ontvoering is klee
Tydens die nag van die beweerde ontvoering is kleefband herhaaldelik om haar nek en die boom gedraai.
Haar hande en voete is ook vasgebind.Suna is in ’n
Haar hande en voete is ook vasgebind.

So kon sy hulp ontbied. Maar sy kon nie die besonderhede van die ontvoering onthou nie en volgens die bron het sy die voorval ook aan die polisie baie vaag beskryf. Hy vermoed sy het pille gedrink voor sy ontvoer is; daarom kon sy nie alles onthou nie.

“Ek dink die spanning het haar toe al begin onderkry.”

  • Op ’n aand in November 2016, nadat sy laat gewerk het, het waarskuwingsliggies op die instrumentpaneel begin flikker toe sy haar motor aanskakel: Iemand het die remkabels gesny.
  • In Januarie 2017 het die windbuks-episode gevolg.
  • Die laaste voorval was op 9 Februarie 2017, toe al vier haar motorbande by die werk afgeblaas is.
Tydens een van die beweerde intimidasievoorvalle i
Tydens een van die beweerde intimidasievoorvalle is op haar in haar motor geskiet.
Haar kar se remsensorkabel is afgeknip.
Haar kar se remsensorkabel is afgeknip.

In April het Suna ’n dokument in die vorm van ’n verklaring oor die gebeure wat sy aan ons gerig het, asook nuusberigte wat sy daarby geheg het, by Huisgenoot se kantoor afgelewer, ’n opsomming van wat sy die vorige maande by die SAUK moes verduur. Sy het gespanne en moeg gelyk.

Die onheilspellende nota waarmee sy haar vertelling van die gebeure afgesluit het, spook steeds: “Ek verskaf die inligting aan jou sodat die waarheid nie verlore gaan nie sou iets ernstigs wel eendag met my gebeur.”

In haar eie woorde het Suna in die brief vertel daar was in Januarie ’n skeuring tussen haar en van haar mede-SAUK-8-lede en dat hulle hulself van die voorvalle gedistansieer het.

“Hulle het geïnsinueer ek word geteiken om redes wat niks met my betrokkenheid by die SAUK-8 te doen het nie.”

Foeta het verduidelik Suna was baie emosioneel oor die ontberings van intimidasie wat sy moes deurmaak. Maar hy meen die res van die groep, hy inkluis, het gevoel hulle wil nie die aanklagte voor die ad hoc-komitee bring en daardeur die aandag aflei van die werklike vraagstukke nie.

Dit het Suna stomgeslaan dat mense kon dink sy soek aandag.

Foto: Huisgenoot
Foto: Huisgenoot

“Ek het gesê oukei, verduidelik vir my hoe jy op jouself skiet. Hoe skiet jy op jou eie kar op ’n afstand van 30 m? Hoe SMS jy van ’n toring wat 20 km ver is van waar jy is wanneer jy die SMS ontvang? Hoe doen jy dit?” het sy aan Huisgenoot gevra.

Min mense het wêreldpolitiek so goed verstaan soos Suna.

Ivor Price, ’n voormalige SAUK-kollega, vertel al het hy en Suna nie altyd om dieselfde vuur gesit nie, het hulle “sedert die Hlaudi-drama nader aan mekaar beweeg”.

Hy beskryf Suna as iemand wat passievol was oor wêreldnuus.

“Min mense het wêreldpolitiek so goed verstaan soos Suna. Sy kon Arabies praat; min mense weet dit. Sy was die jongste van die SAUK-8 en die een wat waarskynlik die meeste misverstaan is.”

Suna het haar ook gereeld beywer vir die welsyn van mense in oorlogsones en was deel van verskeie humanitêre sendings na onder meer Libië en Sirië.

Sy het volgens dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, saam met die organisasie na Libië en Gaza gereis, maar self vir haar sendings na Sirië betaal.

Hoekom het Suna haar nie bloot uit die situasie verwyder nie?

“Sy het werkaanbiedings gekry. Ek het gewonder hoekom sy dit nie aanvaar nie, hoekom sy nie wegkom (van die SAUK af) nie,” het haar pa, dr. Philip Venter, leraar aan die NG gemeente Fairland, die Vrydag ná haar dood aan Huisgenoot gesê. Maar hy verstaan dit tog.

“Sy was altyd die rebel.” Philip het toegegee Suna sou nooit moed opgee nie.

Ons groot emosie is respek en waardering vir haar rebelse ideologiese idealisme oor kinders en oorlogsones.

“Dit was haar idealisme wat haar gedra het, en ons het die grootste respek daarvoor.

“Ons groot emosie is respek en waardering vir haar rebelse ideologiese idealisme oor kinders en oorlogsones.”

Jacques en Suna het hierdie tatoes tydens die SAUK
Jacques en Suna het hierdie tatoes tydens die SAUK-drama gekry. Hare lui: “Were you brave?”

Sy het ook op haar voorarm ’n veelseggende tatoe laat aanbring wat gelui het: “Were you brave?

Laaste wens

Suna se laaste wens dat “God by haar in lewe en dood moet wees”, het die NG gemeente Fairland, waarvan sy lidmaat was, die Sondag ná haar dood gehoor.

Ds. Theunis de Ridder, wat die diens gelei het, het aan Huisgenoot gesê Suna se ouers, Philip en Christa, en haar tweelingbroer en -suster, Wilhelm en Tessa (33), het nie kans gesien om die diens enkele dae ná hul geliefde Suna se dood by te woon nie.

Die dominee het die diens begin deur ’n groot wit kers ter nagedagtenis aan Suna aan te steek en die gemeente het opgestaan om ’n minuut van stilte vir haar te hou. ’n Somber atmosfeer het geheers en van die gemeentelede het gehuil.

Theunis het die diens met die Skotse sangeres en liedjieskrywer Emeli Sandé se weergawe van die gewyde lied Abide with Me afgesluit.

Hy het agterna aan Huisgenoot vertel die gemeente het die Sondag voor haar dood vir die eerste keer ’n aanddiens gehou. Hulle hou gewoonlik ’n Afrikaanse oggenddiens en ’n Sothodiens in die middag.

Suna, wat hom die aand bygestaan het, het versoek hy moet die diens afsluit met Emeli se weergawe van die lied. Maar weens WiFi-probleme kon hulle nie daardie Sondagaand die lied speel nie.

Hy het toe die Sondag ná Suna se dood die oggenddiens met die lied afgesluit, pleks van die gewone seënwense.

Dit was tjoepstil in die kerk toe die laaste woorde van die aangrypende lied in die ysige Johannesburgse oggendlug wegdryf en onder ’n grou hemel wegsterf:

Abide with me; fast falls the eventide;
The darkness deepens; Lord with me abide.
When other helpers fail and comforts flee,
Help of the helpless, O abide with me.
Hold Thou Thy cross before my closing eyes;
Shine through the gloom and point me to the skies.
Heaven’s morning breaks, and earth’s vain shadows flee;
In life, in death, O Lord, abide with me.

Wat is 'gebrokehartsindroom?'

Stresgeïnduseerde kardiomiopatie is ’n harttoestand wat skielike borspyne, moeisame asemhaling of floutes kan veroorsaak, sê dr.Jean-Paul Theron, spesialiskardioloog by die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Dit ontstaan dikwels na aanleiding van intense fisieke of emosionele stres. Die toestand veroorsaak dat ’n deel van die hart, gewoonlik die onderste deel, nie meer normaal funksioneer nie.

Dit lei tot vergroting in dié deel van die hart. Al is die simptome soortgelyk aan ’n hartaanval, verskil dit tog, want mense wat ’n hartaanval kry, het meestal ’n koronêre hartsiekte.

Stresgeïnduseerde kardiomiopatie herstel meestal ná een tot vier weke volkome, maar soms lei dit tot veel ernstiger hartprobleme, soos hartversaking, hartritme- of hartklepprobleme.

Wanneer en waar?
Huisgenoot: Ware Lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgsaai. Episodes word die daaropvolgende Maandag om 14:00 herhaal.
FOTO'S: GALLO IMAGES/BEELD/DEON RAATH, GALLO IMAGES/BEELD/FELIX DLANGAMANDLA, GALLO IMAGES/SOWETAN/VATHISWA RUSELO, VERSKAF