book-icon Uitgawe 1 Julie 2021

Ware lewensdramas: Ma's boesemvriende ná een seun se organe ander s'n red

akkreditasie
Nadat een ma se seun dood is, het 'n ander ma se seun sy longe ontvang. Vanaand 21:00 op 'Huisgenoot: Ware lewensdramas' op VIA (DStv-kanaal 147) word hierdie aangrypende verhaal herbesoek.
'My seun se longe is in ’n ander man oorgeplant – nou’s sy ma my vriendin' deur Joanie Bergh, Huisgenoot 1 Julie 2021
Een seun sterf; 'n ander kry sy longe en 'n nuwe lewe. Nou deel die twee ma’s hul lief en leed as hegte vriendinne.

Hulle gesels so gemaklik soos boesemvriendinne wat al jare lank mekaar se lief en leed deel, en lag hartlik saam. Maar wanneer die twee ma’s oor hul seuns begin praat, wel trane in albei se oë op.

'n Hegte vriendskap het tussen Lisa en Anna-Mart g
'n Hegte vriendskap het tussen Lisa en Anna-Mart gevorm ná die operasie. Foto: Corrie Hansen

Want Lisa Smorenburg (54) moes byna twee jaar gelede haar enigste kind, Storm (18), aan die dood afstaan nadat hy ernstige kopbeserings in ’n ongeluk opgedoen het en breindood verklaar is.

Maar uit daardie tragedie is die wonderwerk gebore waarvoor die ander ma, Anna-Mart van der Merwe (53), jare lank gebid het. Albei Storm se jong, gesonde longe is in haar seun, Andries (nou 25), oorgeplant toe sy eie longfunksie al so verswak het dat daar vir sy lewe gevrees is.

Nee, hul trane is nie van hartseer nie, keer die twee ma’s vinnig. Dis eerder trane van dankbaarheid oor ’n gespaarde lewe en oor ’n laaste wens wat waar kon word.

“Storm wou nog altyd mense gehelp het, en ek is net dankbaar hy kon dit doen,” sê Lisa oor haar seun wie se organe – ook sy hart, niere, kornea en lewer – ná sy skielike dood vir oorplanting geskenk is.

“Sy hart is op Langebaan en sy niere iewers op Worcester,” vertel Lisa waar sy en Anna-Mart nou buite ’n restaurant op Stellenbosch onder ’n akkerboom sit.

Dit is dieselfde restaurant waar Andries die hoofsjef is en nou in die kombuis flink van die een hoek na die ander draf om borde met smullekker geregte gereed te kry. In sy borskas dra hy die longe wat Storm vir hom geskenk het en wat dit vir hom moontlik maak om eindelik sy passie vir die kookkuns uit te leef.

Andries se lewe het verander, en vandag leef hy sy
Andries se lewe het verander, en vandag leef hy sy droom as sjef uit by ’n restaurant op Stellenbosch. Foto: Corrie Hansen

“Die eerste keer in 25 jaar kan my kind nou leef,” sê Anna-Mart oor haar seun wat van jongs af teen sistiese fibrose moes veg. Dié genetiese siekte tas onder meer die longe aan.

“Ek het in my dagboek gaan kyk: Op 5 Junie 2001 het ek vir Andries gebid. Hy was toe drie jaar oud, en sistiese fibrose is toe pas by hom gediagnoseer,” vertel die ma van drie wat op ’n plaas by die Breërivier, tussen Worcester en Ceres, in die Wes-Kaap woon.

Dan las Lisa by: “Op daardie selfde dag, 250 km verder op Mosselbaai, is Storm gebore.”

En nooit sou dit twee ma’s – toe nog wildvreemdelinge vir mekaar – kon raai hoe hul seuns se lewensjare later verweef sou raak nie. Of dat hul eie lewenspaaie sou kruis nie. En dat dit alles tussen hulle ’n hegte vriendskap sou smee.

Lisa, Andries en Anna-Mart het 'n unieke vriendska
Lisa, Andries en Anna-Mart het 'n unieke vriendskap ontwikkel. Foto: Corrie Hansen

Haar seun sou op 5 Junie 20 geword het, vertel Lisa, ’n navorser by die departement van landbou op Riversdal in die Wes-Kaap.

Storm sou waarskynlik nou ’n student gewees het en sy eie motor gehad het, mymer sy terwyl ’n koel Bolandse briesie deur haar hare waai en rooi-en-geel herfsblare laat grond toe dwarrel.

“Maar ek gaan nie sit en sanik nie,” sê sy.

“Ek het ’n ete saam met vriende gereël; ons gaan sjampanje drink en lekker dans,” voeg sy moedig by oor die viering van haar lieflingseun se lewe en sy 20ste verjaardag.

Van die oorkant van die tafel neem Anna-Mart haar hand en druk dit vertroostend, want sy weet dit kan nie vir haar vriendin maklik wees nie.

Dit was juis op Storm se 18de verjaardag dat Lisa vir hom die skaatsplank present gegee het wat hy so graag wou gehad het – ’n geskenk waaroor sy haarself dikwels ná sy dood sou verwyt. Maar later het sy besef ’n mens kan nie jou seun in watte toedraai en vir altyd beskerm nie.

Daardie noodlottige Donderdag, 23 Augustus 2019, was in die eksamentyd by die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal waar Storm toe ’n lewenslustige matriekleerder was.

In sy blou-en-wit skooluniform was hy die oggend op pad na die skoolsaal om Afrikaans te gaan skryf. Hy het op sy skaatsplank gespring en aan vriende se bakkie vasgehou, maar die draai in die pad het vermoedelik vir hom te erg geraak.

Toe laat los hy, val agteroor, en sy kop tref die pad. Hy het onmiddellik sy bewussyn verloor.

Die 18-jarige Storm wat in 'n skaatplankongeluk oo
Die 18-jarige Storm wat in 'n skaatsplankongeluk oorlede is. Hy was 'n orgaanskenker en sy gesonde paar longe is na Andries oorgeplaas. Foto: Verskaf

Ure later, in die hospitaal op Mosselbaai waarheen hy oorgeplaas is, het Lisa se hart in duisende stukkies gebreek toe Storm breindood verklaar is.

Daar by sy sterfbed het die enkelma onthou hoe hulle eenkeer oor orgaanskenking gepraat en hy gesê het dis iets wat hy graag sou wou doen.

Wanneer Lisa aan daardie dag terugdink, kan sy die trane nie keer nie. Ook Anna-Mart se gemoed skiet vol en sy gee vir haar vriendin ’n sneesdoekie aan.

Was dit nie vir Storm se onselfsugtige daad nie, sou haar oudste seun waarskynlik nie meer vandag geleef het nie. 

Ná ’n jare lange stryd teen sistiese fibrose het Andries se longkapasiteit tot net 17% gedaal. Hy moes noodgedwonge agt maande tevore uit sy werk as sjef bedank. Hy was permanent aan ’n suurstoftenk gekoppel terwyl hy op ’n long-oorplanting gewag het.

Daarsonder sou hy nog net meer as ’n jaar kon oorleef, het dokters gereken.

En toe kom die oproep van sy dokter met die nuus waarop hy toe al 15 maande lank gewag het: Hulle het ’n paar gesonde longe vir hom gekry.

Twee dae ná Storm se ongeluk is sy longe tydens ’n sewe uur lange operasie in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad in Andries oorgeplant.

Andries in Augustus 2019 in die hospitaal kort nad
Andries in Augustus 2019 in die hospitaal kort nadat hy die longoorplanting ondergaan het. Foto: Verskaf

“ ’n Storm het my lewe getref met nuwe longe,” het hy ’n dag ná sy ontslag uit die hospitaal aan Huisgenoot vertel. Dieselfde dag het Andries ook die eerste keer Storm se ma, Lisa, ontmoet. Toe, net 12 dae ná die operasie, was Andries bleek, maer en nog baie swak.

Vandag, waar hy in die kombuis sy slag agter die kospotte wys, is hy byna onherkenbaar. Daar is kleur in sy wange, hy het gewig aangesit, is vol energie en glimlag breed.

Al is daar ’n kans dat sy liggaam in ’n stadium die longe kan verwerp, leef hy intussen voluit, sê Andries. Hy het Storm, ’n kranige rugbyspeler, nooit ontmoet nie, maar dit is danksy sy longe dat hy nou ’n gesonde, nuwe lewe lei. Elke oggend gaan hy 3 km draf – iets wat hy voorheen nooit sou kon vermag het nie.

Soos gewoonlik met orgaanskenkings is sy skenker se naam aanvanklik nie bekendgemaak nie, maar toevallig was daar iemand wat Storm en Andries albei geken het en wat twee en twee bymekaargesit het. Sy is ’n kollega van Storm se ma en ’n niggie van Andries se pa.

Sy het Lisa en Anna-Mart aan mekaar voorgestel en later het hulle ook bevestiging gekry dat Storm se longe inderdaad in Andries oorgeplant is.

Dit was geen toeval nie, glo Anna-Mart, maar deur die “groot genade” van die Here dat die identiteit van die skenker en sy ma aan hulle bekend geword het.

Die wonderwerk dat Andries ’n tweede kans op die lewe gegun is en ook dat sy die geleentheid gegun is om Lisa by te staan, het haar laat besluit sy moet hierdie verhaal van hoop en geloof deel, sê Anna-Mart.

Haar boek, Stilte voor Storm, het pas verskyn. Sy en Lisa lewer ook saam motiveringspraatjies.

Anna-Mart het ’n boek geskryf oor die twee seuns e
Anna-Mart het ’n boek geskryf oor die twee seuns en hul families se reis, 'Stilte voor Storm'. Foto: Corrie Hansen

In Anna-Mart het sy ’n beste vriendin gekry, en sy het as’t ware nog ’n gesin bygekry, sê Lisa. Die twee ma’s sit ure om die kombuistafel en gesels wanneer Lisa op die plaas by Anna-Mart, haar man en hul drie seuns gaan kuier.

Die wete dat dit goed gaan met Andries en dat hy vrylik kan asemhaal danksy Storm se longe, is salf vir haar gemoed.

“Dit was ongelooflik goed om sy verhaal te hoor en te weet ons kon hom help met ’n nuwe lewe,” het Lisa ná hul eerste ontmoeting in September 2019 aan Huisgenoot gesê. “Dit help met die rouproses.”

Min het sy toe geweet sy sou in sy ma ’n vriendin vind wat haar tree vir tree sou bystaan op haar pad na troos en berusting. 

  • Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandagaande om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees