So baie om voor te lewe – Danél Blaauw, Huisgenoot, 2 Mei 2009
’n Tweede gewas is uit oud-Bok Ruben Kruger se brein gesny, maar moed opgee is nie ’n opsie nie.

Hy kom kaalvoet by die voordeur uitgestap. Kleintjie, die bruin pekinees, is al om sy hakke en speel vriendelik rondom die paar bruingebrande bene wat by sy kniebroek uitsteek.

Ruben Kruger het op 38 steeds die lyf van die vuurvreter-Bok-flank wat in 1995 ’n rugbynasie se hart warm laat klop het as lid van die seëvierende rugbyspan wat die Wêreldbeker verower het.

Waar hy in die inrit van sy Toskaanse huis in Silver Lakes in Pretoria groet, straal hy gesondheid en fiksheid uit. Maar van nader sien jy die snye op sy kaalgeskeerde kop – ’n teken dat alles dalk nie so wel is met een van rugby se geliefde seuns nie.

Die oud-Bokheld Ruben Kruger by die drie vroue in
Die oud-Bokheld Ruben Kruger by die drie vroue in sy lewe: sy vrou, Lize, die driejarige Isabella – wat hy vashou – en Zoë (6). Foto: ER Lombard

Oor ’n koppie koffie gesels hy asof dit doodnormaal is dat ’n kankergewas – die tweede in twee jaar – kort tevore uit sy brein gesny is. Want net so onverskrokke soos hy voorheen sy teenstanders op die veld platgevee het, benader hy die nuwe teenstander teen wie hy nou al nege jaar baklei. En verloor is buite die kwessie. Daarvoor het dié ysterman te veel om voor te lewe.

‘‘Ek wou nie tou opgooi nie, ek wou terugveg,’’ vertel hy oor sy reaksie nege jaar gelede toe die gewas op sy linkerbreinlob die eerste keer opgemerk is. ‘‘Dis nou nog nie ’n keuse om moed op te gee nie. My kinders is nog te klein; ek kan hoegenaamd nie nou gaan lê nie.’’

Sy geloof hou hom geanker en sy gesin is die rede waarom hy sal bly veg.

Ruben in kenmerkende styl op die rugbyveld teen Wa
Ruben in kenmerkende styl op die rugbyveld teen Wallis, 2 September 1995. Links is Japie Mulder en in die middel André Joubert. Foto: Gallo Images/Foto24/Jan Hamman

‘‘Ek wil sien hoe my dogters matriekafskeid toe gaan en trou,’’ vertel Ruben terwyl die driejarige Isabella saggies oor die littekens op sy voorkop vryf. Hy het juis sy oudste, Zoë (6), se eerste skooldag in Januarie misgeloop omdat hy in die Pretoria-Oos-hospitaal was ná die operasie.

Gelukkig is hy daardie middag ontslaan en kon hy haar by die skool gaan oplaai.

’n Paar dae ná sy ontslag was hy terug by die agentskap wat hy saam met twee vennote besit, ’n onderneming waar hulle drukkers, kopieerders en faksmasjiene voorsien en in stand hou. Hy is ook betrokke by eiendomsontwikkelings in Pretoria en George waar hy huise bou.

’n Gewas is nege jaar gelede toevallig by hom ontdek toe hy vir ’n roetine-ondersoek hospitaal toe is weens ’n harde stamp teen die kop in ’n rugbywedstryd.

‘‘Die dokters kon nie bepaal hoe groot die gewas was nie omdat die tegnologie toe nog nie so goed was nie,’’ vertel hy. ’n Biopsie is gedoen en dit was toe wel groot, maar gelukkig nie kwaardaardig nie. Dit is nie verwyder nie omdat dit geleë was in die motoriese deel van sy brein wat alle spierfunksies beheer en verlamming kon veroorsaak en sy spraak aantas as iets sou skeefloop met die snyery.

Maar daarmee was Ruben se rugbyloopbaan verby.

Die dokters moes ’n gat in sy skedel boor en enige harde stamp kon nou tot skedelbreuk of bloeding lei.

Dit was in dié tyd dat hy besluit het om hom na die Nigeriese geloofsgeneesheer T.B. Joshua te wend. Tonge het geklap toe hy en die oud-Bullespeler Jaco van der Westhuizen, wat met knieprobleme gesukkel het, in 2000 Lagos toe is sodat T.B. vir hulle kon bid.

‘‘Dit was ’n persoonlike ervaring,’’ sê hy. ‘‘Daar was destyds ’n groot bohaai daaroor, maar ek het dit nie gedoen sodat mense daaroor kon praat nie. Dit was ’n geestelike reis.’’

Sy vrou, Lize, het hom deur dik en dun bygestaan. ‘‘Jy hoor eers die ergste scenario en dan moet jy daaruit sin maak en ’n pad begin stap. Ons is groot Christene; in enige situasie draai jy maar na jou Skepper toe,’’ sê sy.

Ons het nie nagte wakker gelê en gevrees die gewas groei nie. Wat jy oor jou uitspreek, gebeur.

Terug by die huis het hy vas geglo hy is genees, maar hy het nie dadelik weer vir ’n breinskandering gegaan nie. Ses maande later, in Februarie 2001, is hy terug Lagos toe om dankie te sê dat hy genees is. Ses jaar lank het dit goed gegaan. Hy het elke jaar ’n breinskandering ondergaan en so normaal moontlik probeer leef.

‘‘Ons het nie nagte wakker gelê en gevrees die gewas groei nie. Wat jy oor jou uitspreek, gebeur,’’ sê Lize. Maar in Januarie 2007 het die kanker weer aan sy deur kom klop en dié keer was dit kwaadaardig.

Hy is terug dokter toe nadat hy ’n vreemde drukking begin voel het. Die dokters het aanbeveel dat die kwaadaardige gewas dadelik verwyder word. Daar was nie tyd om weer na T.B. te gaan nie. Hy is ’n paar uur ná die skandering in die hospitaal opgeneem en die volgende oggend geopereer.

‘‘Ek kon nie anders nie. As hulle dit daar gelos het, was ek binne drie maande aan my regterkant verlam.’’

Hy drink soggens en saans hande vol pille, maar me
Hy drink soggens en saans hande vol pille, maar met ’n glimlag, want dis ook ter wille van sy gesin. In die blikkie is fyn gemaalde sampioene uit Japan waarmee hy sy immuunstelsel opbou. Foto: ER Lombard

Daarna moes hy vir 33 bestralingsessies gaan en het hy chemoterapie gekry in die vorm van ’n pil wat hy ses maande lank vyf dae per maand moes drink. Behalwe ’n effense naarheid het hy nie newe-effekte ervaar nie.

In hul Desembervakansie verlede jaar het die tweede terugslag hulle getref. Ruben was aan die bestuur toe hy naby Hanover in die Karoo ’n vreemde prikkel in sy vinger voel. Die gevoel het deur sy hele lyf versprei. Toe sy gesig begin lam raak, het hulle besef daar is groot fout.

Hy is dadelik hospitaal toe – en skanderings het gewys ’n nuwe gewas van sowat 5 cm in deursnee het diep in die sentrale deel van sy brein gegroei, die deel waar boodskappe na die res van die liggaam oorgedra word. Vyf dae later is die kwaadaardige gewas uitgehaal.

Met nuwe behandeling wat nog net die afgelope agttien maande in Suid-Afrika beskikbaar is, is ’n skyfie wat chemoterapie vrystel, ingeplant in die holte waar die gewas was.

‘‘Die skyfie bevat ’n chemoterapeutiese middel wat oor weke vrygestel word,’’ verduidelik dr. Chris Jordaan, Ruben se onkoloog. ‘‘Dit word gewoonlik net by pasiënte ingeplant wanneer die breingewas ’n tweede keer groei.’’ Haar pappa se siekte was veral vir die klein Isabella traumaties.

Toe sy onlangs ’n piepgeluid hoor, het sy haar ore toegedruk en gesê sy hoor die hospitaal. Ook Zoë was bang sy sou soos Pappa geopereer moes word toe sy haar kop onlangs gestamp het. Dis nie aldag maklik nie. Maar Ruben veg voort.

Ek is nie bang vir doodgaan nie. Ek is reg daarvoor. Ek wil net nie nou gaan nie . . .

Hy sien homself steeds as ’n eks-rugbyspeler en nie as ’n rolmodel omdat hy kanker oorwin het nie, sê die oud-Bok. Sedert mense van sy stryd teen die kanker gehoor het, word hy gereeld op straat voorgekeer wanneer iemand ’n geselsie oor kanker en hul eie stryd met hom wil aanknoop.

Daarom het hy nou besluit om ’n organisasie op die been te bring waardeur breinkankerpasiënte mekaar kan ondersteun.

‘‘Ons wil ’n webtuiste begin waar al die jongste navorsing oor breinkanker beskikbaar is,’’ sê Lize. Die plan is ook om kenners en ander medici te kry om bydraes te lewer. Intussen lewe Ruben voluit. ‘‘Daar is nog te veel dinge wat ek wil doen,’’ sê hy.

‘‘Ek wil my kleinkinders sien. En ek het ’n plaas naby Vrede waar ek eendag wil boer. Ek is nie bang vir doodgaan nie. Ek is reg daarvoor. Ek wil net nie nou gaan nie . . .’

  • Ruben het op 27 Januarie 2010 gesterf. Hy was 39 jaar oud.
Heruitsendings van Ware lewensdramas
Heruitsendings vind Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) plaas.