Op 19 het Charmaine Phillips en haar min­naar, Pieter Grundlingh, 'n bloedspoor agtergelaat wat die land geskok het. Huisgenoot het met haar gesels kort voor sy op parool vrygelaat is.

Huisgenoot het in Augustus 2004 ’n eksklusiewe onderhoud met Charmaine gevoer, amper 20 jaar ná haar en Grundling se misdaadvlaag tot 'n einde gekom het.

Nuwe lewe van die ‘swetsende engel’ – Susan Cilliers, Huisgenoot 19 Augustus 2004

’n Wit traliehek keer jou voor die Kroonstad-vrouegevangenis. Dis huislik daarbinne waar jy koue gange en die swaar geluid van tronk­sleutels sou verwag. Groepies mense sit en kuier. Dis besoektyd.

'n Skraal vrou met rooiblonde hare stap behoedsaam-sku nader. Nie 'n spier verroer in Charmaine Phillips (40) se mooi gesig met die fyn plooie nie. Maar jy sien die skrik in haar blou oë wanneer sy hoor wie jy is. Sy wil nie praat nie. Sy is sku vir die mediastorm wat noodwendig moet kom.

Sy klink verfynd, goed opgevoed. Jy kan nie glo hierdie selfde Char­maine het 20 jaar gelede in 'n skok-orgie van geweld vier moorde saam met haar minnaar, Pieter Grundlingh (destyds 35), gepleeg nie. Charmaine was net 19 jaar oud.

Hulle het hul slagoffers se vertroue al daggarokend gewen, hulle dan vermoor en beroof.

Charmaine en Pieter se babaseun van ses maande het in die motor ge­slaap terwyl die walgdade gepleeg is – met 'n geskeurde handdoek as doek.

Die 'swetsende engel'

Charmaine het die koerantvoor­blaaie gehaal met haar uitdagende en vermakerige gedrag in die hof. Sy het gegiggel, hardop gevloek, na fotograwe gespoeg, kougom en skoene na hulle gegooi en tong uit­gesteek.

Die "swetsende engel", soos sy destyds gedoop is, het die galg net vrygespring omdat sy so jonk was en traumatiese kinderjare gehad het.

Charmaine is 124 jaar tronkstaf opgelê. Pieter is in 1985 gehang.

Nou sal Charmaine dalk op pa­rool vrygelaat word — die moorde­naar wat tot haarkapper en skilder getemper is.

Sy was ’n baba van die middel 1960's, een van agt kinders van 'n daggaverslaafde ma en alkoholis­-pa. Aggressie en gewelddadigheid oorheers die huishouding.

Op elf kloof Charmaine haar suster se kop met 'n bottel oop in 'n woede-uit­barsting.

Magda­lene Phillips probeer haar aggres­siewe man, Hoppy, vermoor toe Charmaine agt is.

'n Jaar later word Charmaine uit haar ouers se sorg verwyder. Sy beland in 'n skommel­rit tussen pleegouers en 'n weeshuis in Durban.

Op 11 kloof sy haar suster se kop met ’n bottel oop in 'n woedeuit­barsting. Op 'n ander dag breek sy ’n man se neus met een hou.

Kort na haar 13de verjaardag slaan haar besope ma se ewe besope minnaar haar dood.

Charmaine kry nagmerries, maak haar bed nat, suig haar duim tot bloedkolle onder haar vel verskyn, byt haar naels en kry woedeuit­barstings.

’n Welgestelde egpaar van La Lu­cia aan die Natalse Suidkus neem haar aan toe sy 15 is. ’n Jaar lank proe sy die heuning van ’n stabiele ouerhuis. Maar dis te laat vir ’n kind wat al te veel verrinneweer is.

Eendag bak Charmaine 'n koek, sit 'n briefie daarby en verdwyn. Daarin staan sy is jammer, maar sy kan nie by hul leefstyl aanpas nie.

Charmaine is 16 toe sy swan­ger word by 'n Griekse matroos. Hy verdwyn kort daarna en 'n egpaar neem die kind aan.

Toe wend Charmaine haar tot prostitusie. Tot 1981 toe sy Pieter, 'n konstruksiewerker en ketelmaker, ontmoet.

Pieter kom uit 'n skynbaar stabiele agtergrond, maar het na skool in 'n patroon van dagga- en dwelmmisbruik, diefstal en aanranding verval.

Pieter, Charmaine en hul buite-­egtelike baba, Pietertjie, voer 'n no­madiese bestaan op soek na werk.

Met geen geld vir hulself of melk vir die baba nie, word hulle wanho­pig. Armoede en gebrekkige morele waardes word nou die hittige broei­grond vir 'n koelbloedige tyd . . .

Bloedspoor

Hy sit vasgemaak teen 'n boom in Ntonjaneni in Natal. Dis 19 Junie 1983. Vernon Swart is 26 en hy smeek om sy lewe.

Charmaine be­lowe hulle al hom nie doodmaak nie. HuIle het hom pas beroof – die "vriendelike paartjie" wat hom saamgeneem het op 'n uitstappie.

Die volgende oomblik voel Char­maine die koeël uit Pieter se vuur­wapen by haar oor verbyswiep.

Vernon was haar en Pieter se tweede slagoffer.

Hulle het vier dae tevore saam met hul eerste slagoffer, Gerald Meyer (39), in die veld naby Um­dloti in Natal gedrink voor hulle hom beroof en vermoor het — soos hul ander slagoffer op 'n kort af­stand met 'n kopskoot.

Agt dae na Vernon is dit weer sulke tyd. Suid-Afrika se Bonnie en Clyde beroof Barend Greyven­stein (35) van sy bankkaart en skiet hom by die Kinros-dam buite Evander. Hy was saam met hulle na 'n partytjie.

Toe die "behulpsame " paartjie Martin Mofosi drie dae later in Bloemfontein 'n geleentheid huis toe aanbied, sou hy nooit kon raai dis sy laaste rit nie.

Die einde van die pad

Twee weke later, op 15 Julie 1983, ry Pieter en Charmaine op 'n gesteelde rooi motorfiets in Vereeniging. Hulle probeer vlug, maar iemand herken hulle en laat weet die poli­sie.

Daardie middag om eenuur word hulle in hegtenis geneem, twee dae nadat hulle Pietertjie by Pieter se broer Adam en sy vrou in Johannesburg afgelaai het.

Hul verhoor in die hooggeregshof in Pietermaritzburg het die land gaande. Pieter en Charmaine erken én ontken in verskillende stadiums dat hulle die sneller getrek het.

Ek hoop ek kry sigarette voor ek galg toe gaan.

Die hof beslis dit maak nie saak wie die sneller getrek het nie, al­ twee is skuldig omdat die moorde met albei se samewerking gepleeg is.

Charmaine kry vier keer lewens­lank; Pieter die galg.

Pieter hoor die doodvonnis uit­ drukkingloos aan ten aanskoue van 'n stampvol hofsaal.

"Ek hoop ek kry sigarette voor ek galg toe gaan," is al wat hy sê.

"Ek gaan plooie hê die dag as ek uit die tronk kom. Het pa nie vir my 'n bietjie dagga nie?" skerts Charmaine vanuit die beskuldigdebank met haar pa.

Hoppy (47) is vol tatoeëermerke.

Dis 'n vrolike Charmaine wat die trap na die hofselle aftrippel ná haar vonnisoplegging in Februarie 1984. Regter John Milne het die moorde as "verbysterend boos" beskryf.

Charmaine se slagoffers was blykbaar vir haar verteenwoordigend van haar ma se moordenaar.

"Hier­ die dronk bastard het my omge­krap, soos daardie dronk bastard wat my ma doodgemaak het," het sy glo tydens een van die moorde gesê.

Nuusflitse en foto's tydens die hofsaak. Foto's uit die argief.

Einde van 'n gesin

Toe Pieter in Augustus 1985 in Pretoria gehang word, was hy die laaste van sy gesin wat dood is.

Sy pa is jare tevore al dood; sy broer Teuns het 'n paar jaar tevore sy eie lewe geneem. In die jaar tevore (in 1984) is eers sy broer, Adam, en toe hul ma, Siena, aan natuurlike oorsake dood.

Met haar dood is 'n gebroke Siena (66) se uitgesproke wens van vroeër vervul: "Ag, Here, neem my nou maar weg. Ek kan die pyn en ver­driet nie meer verduur nie."

'Pietertjie'

Vir Pietertjie het Charmaine karre­tjies uit tronkseep gekerf. Pietertjie, wat deur 'n familielid beskryf is as 'n "harde kind wat 'n ma se liefde nodig het".

Dit was 'n bitter ironie dat sy jong lewe die hartseer patroon van sy ma s’n gevolg het.

Hy is van een pleegsorgouer na 'n ander aangegee en het mettertyd in ' n weeshuis be­land. Hy was later in 'n verbe­teringskool.

Vandag is Pietertjie 21. Charmaine het steeds kontak met hom. Toe sy van hom praat, skemer vir die eerste keer sagtheid van agter die sluier deur. Sy wil nie sê waar hy is nie.

Die tronkmense het haar leer ken as 'n eenkantmens wat medegevangenes en bewaarders pragtig skilder en die haarkappery bestuur. Haar haarkapvernuf is al met pryse be­loon.

Charmaine het dae lank gehuil toe haar kokketiel 'n paar jaar ge­lede oor die tronk se dakke weg­gevlieg het. Jy wonder wie gaan hier uitstap: die aggressiewe rebel of die oënskynlik getemperde vrou wat uit haar foute geleer het.

En Pietertjie. Sal die heling van moederliefde ook vir hom te laat kom, nes destyds vir sy ma?

Buite die tronk

Op Charmaine wag geen maklike tyd wanneer sy ná twee dekades vir die eerste keer werklik in die gemeenskap moet probeer inpas nie.

Wanneer hulle vrygelaat word, is som­mige oortreders so bang dat hulle letterlik in hul sel probeer wegkruip, sê Gerrit Steyn, bestuurder van maatskaplike dienste in die Kroonstad-gevangenis.

Die moeilikste is om weer verantwoorde­likhede te hê ná 'n lang tyd in die beskermde tronkomgewing, waar vir hulle gedink is. Hulle vrees ook dat hulle in hul ou weë sal verval.

"Oortreders word dus op hul vrylating voorberei vandat hulle hier instap," sê hy. Sielkundiges en opvoedkundiges kyk wat­ter rehabilitasie- en opleidingsprogramme die oortreder nodig het.

"As iemand moord gepleeg het, moet 'n aggressieprobleem in terapie aandag kry. Ons kyk ook wat die mens se belangstel­lings en opvoedingsvlak is sodat hy/sy beroeps­gerigte kursusse in die tronk kan volg."

Oortreders het toegang tot televisie, koerante en 'n biblioteek sodat hulle op die hoogte kan bly van hoe die wêreld verander.

Gerrit sê vrywilligers van buite-instansies soos banke maak oortreders touwys met die gebruik van byvoorbeeld kltsbanke en die bestuur van 'n begroting.

"Hulle word na winkelsentrums gevat om te sien hoe alles daar werk en geleer hoe om hulle in restaurante en rolprentteaters te gedra."

Die bewegings van 'n gevangene wat op parool vrygelaat word, word steeds deur die departement van korrektiewe dienste gemonitor.

Kans op rehabilitasie

Vroue pleeg selde alleen geweldsmisdade. Daar is gewoonlik 'n medepligtige, meestal 'n man. Sy is die lokaas, en die man pleeg die moord, sê Har­riet Klopper, dosent in vrouemisdaad aan die Universiteit van Pretoria se departement kriminologie.

Met die Bonnie-en-Clyde-sindroom waarvan Charmaine en Pieter 'n voorbeeld was, is die man gewoonlik 'n soort vaderfiguur vir die heelwat jon­ger vrou uit 'n onstabiele agtergrond — dikwels 'n vrou wat sonder 'n pa grootgeword het.

Geen ondersteuning

Hoewel Charmaine sewe broers en susters ge­had het, het sy nie 'n ondersteuningstruktuur ge­had nie. Toe sy en Pieter gevang word, het haar broer Leo reeds tronkstraf weens gewapende roof uitge­dien. Haar jonger broer Mark was by dieselfde rooftog betrokke.

Nog 'n broer en suster was in 'n veiligheidsplek en 'n ander suster in 'n inrigting vir sielsiekes, soos ook haar oorlede ma, Magdalene, by geleentheid.

'Nuttige burgers'

Talle mense, selfs moordenaars, word gerehabiliteer en pleeg nooit weer 'n misdaad nie. Baie werk en word nuttige burgers. 'n Moordenaar sal selde weer moord pleeg ná vrylating omdat so 'n mis­daad gewoonlik binne 'n spesifieke situasie of emosionele konteks plaasvlnd.

Reeksmoordenaars is die uitsondering.

Die moordenaars Sonja Swa­nepoel en Marlene Lehnberg het ná hul vrylating byvoorbeeld in die samelewing verdwyn en waarskynlik nie weer misdade gepleeg nie.

Tog is dit onmoontlik om te voorspel of selfs ie­mand wat goed in die tronkmilieu aangepas het en 'n modelgevangene was, werklik gerehabiliteer is, sê prof. Aubrey Theron, psigo-kriminoloog en hoof van die departement kriminologie aan die Universi­teit van Pretoria.

Psigopate

Psigopate se prognose is swak, en al pleeg hulle nie weer 'n misdaad nie, bly hul gedrag antisosiaal. Psigopatiese vroue sal waarskynlik steeds impulsief optree, drank en dwelms misbruik of seksueel uitlokkend wees.

Maar selfs psigopate bots ná 40 minder met die gereg, vermoedelik omdat hulle uitgebrand raak van al die kopstamp met die wet en moontlik ook omdat daar 'n soort verstadigde ryping kom, sê Aubrey.

"Die pleeg van sekere misdade is onmoontlik in die tronkomgewing. As iemand dus uit die gekontroleerde omgewing is, kan hy weer oorgaan tot misdadigheid. Mense wat jonk tronk toe is, kan selfs in die tronk gesoute misdadigers word deur blootstelling aan geharde misdadigers wat al die truuks in die misdaadboek ken."

Die hof het destyds gemeen Charmaine is 'n psigopaat, maar sy is nooit as een geklassifiseer nie omdat sy nie altyd tipies soos een opgetree het nie.

Sy het byvoorbeeld 'n baie hegte band met haar ma gehad en was besonder geheg aan haar seun, terwyl psigopate normaalweg nie hegte bande met ander mense vorm nie.

'n Psigopaat is tipies emosioneel onvolwasse, wil altyd sy sin hê en het geen verantwoordelik­heidsin nie. Daar is 'n gebrek aan emosionele diepte en die lewe draai net om hulself. Etiese en morele waardes ontbreek ook. Hulle is geweten­loos, meesterlike manipuleerders, leer nie uit foute nie en glo hulle is immuun teen die gereg.

Die wêreld in 1984

Hoe het die wereld gelyk wat Charmaine Phillips in 1984 vir 'n tronksel verruil het?

  • JR van die TV-sepie Dallas was een van die grootste varke op die kassie.
  • Die Cressida Gli 6, Renault 5, Mazda 323 en Volkswagen­-minibus was blink uit die boks.
  • Almal het bespiegel of prins Andrew (toe 23) en die wilde Koo Stark se verhouding sou werk.
  • Ronald Reagan was president van Amerika.
  • Die Pretoriase Akademiese Hospitaal was nog die H.F. Verwoerd-hospitaal.
  • P.W. Botha het sy staatspresidentsvinger geswaai en prof. Carel Boshoff het as voorsitter van die Broederbond bedank.
  • Dr. Danie Craven was voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad.
  • Die Pretoria-bom het die land geruk en Suid-Afrika is nie toegelaat om aan wêreldsport deel te neem nie.
  • Apartheid was springlewendig — soos diensplig, Kubane in Angola en die "Rooi Gevaar" aan ons landsgrense.
  • Die ANC was 'n "ondergrondse boosheid" wat onderdruk moes word.
  • Fanie en Melanie het alles in Huisgenoot ontdek.
  • Die jongste ontwikkeling in klanktegnologie was die M255 X-kassetspeler.
  • Almal het uitgesien na die eerste "CD-plaatjie" wat binnekort na Suid-Afrika sou kom.
  • Zola Budd was atletiek se nuwe wonderkind.
  • Suid-Afrika se Rosenkowitz-sesling was 10 jaar oud.
  • Prinses Caroline van Monaco en Stefano Casiraghi is stil en blitsig getroud – was daar dalk ’n broodjie in die oond?
  • Op Suid-Afrika se enkele TV-kanaal was: Verspeelde Lente, Boekevat, Die Kraaines, Uit en Tuis, Dis My Geheim, Magnum, Wielie Walie, Die Voortreflike Familie Smit, Maja die By, Simon and Simon, Mattewis en Meraai, Oompie in die Ruimte en Derrick.
  • Uitsendings was op weekdae net  tussen 17.30 nm. en middernag en op Saterdae vanaf 14.30 nm.
  • Op middelblad-plakkate in Huisgenoot het Tom Selleck (Magnum), Isabella Adjani, Brooke Shields, Sylvester Stallone (Rocky), John Tra­volta, Farah Fawcett, Christoper Lambert (Tarzan), skooldae­ sterre soos Ben Kruger en Ilse Schmidt, David Hasselhoff (Knight Rider) en Nastassja Kinski gepryk.
  • Roger Moore was nog James Bond.
  • Almal het gewonder wie die Kavalier nou eintlik is.
  • Tuisrekenaars was 'n nuutjie en is mikrokompers genoem.
  • Richard Gere se hare was nog bruin.
  • 'n Manspak het R79,99 gekos en 'n paar goeie skoene R9,99.
  • Vir nege stukke Kentucky-hoender het jy R7,99 betaal.
  • 'n Mercedes-Benz 200 het R16 940 gekos, 'n BMW 518i sou jou R13 750 uit die sak jaag en 'n Honda Ballade 'n skrale R8 545.
  • By die Holiday Inn kon jy teen R39 per persoon 'n kamer (bed en ontbyt) vir 'n hele naweek kry.
Charmaine en Pieter

Pieter Louis David Grundlingh was van Ermelo afkomstig. Sy familie het geglo dwelms en ’n tydjie agter tralies het hom van ’n gawe outjie in die mees gesoekte voortvlugtige in die land laat ontaard.

Charmaine het in Durban, Johannesburg en Germiston gewoon. Haar vriende het beweer sy was ’n rebel wat enigiets vir aandag sou doen, maar dat sy nooit regtig ’n kans (in die lewe) gehad het nie.

’n Landwye soektog na die twee het drie weke lank die nuus oorheers en mense is gevra om op die uitkyk te wees na ’n rooi Kawasaki 1000cc.

Op 15 Julie 1983 is die twee voortvlugtiges in hul spore gestuit. Drie maande later erken Peter in die hof dat hy al vier mans vermoor het.

Hy is op 30 Julie 1985 gehang.

Charmaine is kort ná middernag op 20 Augustus 2004 op parool vrygelaat. Sy het versoek dat dit stil moet gebeur en korrektiewe dienste het aan haar versoek voldoen.

Dr. Irma Labuschagne, forensiese kriminoloog, het Charmaine as ’n kwesbare en terughoudende meisie beskryf wat boonop baie mooi is. Sy moes ’n verslag aan die paroolraad voorlê voor ’n besluit oor haar parool geneem is.

“Tydens my onderhoude met Charmaine kon ek geen aanduiding vind dat sy enigiemand, hetsy emosioneel of fisiek, doelbewus wou seermaak nie.

“Sy vertel nie leuens nie en manipuleer nie mense soos wat in die hof beweer is nie.”

In 2013 verskyn ’n fliek getiteld Durban Poison wat gebaseer is op die Peter en Charmaine se pad van selfvernietiging en moord.

Waar is Pietertjie?

Charmaine het na bewering tydens haar tyd in die tronk soveel moontlik geld wat sy met haresny en skilderwerk in die tronk verdien het, afgeknyp en aan Pietertjie te stuur.

Pietertjie was 21 jaar oud toe hy en sy ma eindelik nader aan mekaar kon beweeg. Hy was glo sy ma se ewebeeld, maar dit was nie al ooreenkoms tussen die twee nie.

Hy het met die verkeerde groep mense deurmekaar geraak. Dwelms het gevolg. En toe die tronk . . .

Hy is na die Kroonstad-gevangenis oorgeplaas sodat hy nader aan sy ma kon wees.  

Pietertjie kon egter nie aan sy dwelmhel ontsnap nie. Hy het hom tot prostitusie gewend en MIV opgedoen. In Maart 2006 sterf hy in Vrededorp, na bewering in sy slaap. Hy was 23 jaar oud.

Wie was die oorspronklike Bonnie en Clyde?

Bonnie Elizabeth Parker (24) en Clyde Chestnut Barrow (25) het Amerika tydens die Groot Depressie van 1929-’33 saam met hul bende deurkruis.

Hoewel hulle na bewering banke by die dosyne beroof het, was vulstasies en klein winkeltjies op die platteland hul gewildste teikens.

Die duo en hul bende het waarskynlik nege polisiemanne en verskeie burgerlikes doodgemaak voor hulle op 23 Mei 1934 naby Sailles in die deelstaat Louisiana in ’n lokval gelei en deur die polisie doodgeskiet is.

Ekstra bronne: iol.co.za, mg.co.za, allafrica.com, wikipedia.org, news24.com