UIT DIE ARGIEF: My man – ’n nommer tussen die lyke – deur Marie Opperman, Huisgenoot 23 Januarie 2005
Hulle was een oomblik nog bymekaar, toe is hy weg. En dit sou Dee Fitzsimmons 74 uur neem om haar Roy te vind en te laat balsem vir sy laaste tuiskoms.
Die artikel het in Huisgenoot (13 Januarie 2005) v
Die artikel het in Huisgenoot (13 Januarie 2005) verskyn.

Sy herken hom dadelik tussen die foto’s van die dooies op Krabi. Al is sy gesig geswel en verkleur, dra hy nog die groen T-hemp en kortbroek waarin sy hom die Sondagoggend laas gesien het. Die oggend dat hulle uit Thailand sou vertrek.

Dee Fitzsimmons (46) en haar man, Roy (58), van Randburg het pas klaar ontbyt geëet in hul hotel op die eiland Phi Phi en sy wou gou die wasgoed gaan haal by die mark voor hul hotel.

‘‘Nee, gaan pak solank in, ek sal dit kry en dan sommer ook reistjeks by die duiksentrum wissel,’’ het hy gesê.

Sy het in haar kamer op die tweede verdieping voor die venster gaan staan en die tsoenami sien kom. Dit was ’n muur van water wat die gebou waarin Roy was, heeltemal weggevee het.

Dee kon haar oë nie glo nie. Net twee minute tevore was sy en Roy dan nog by mekaar.

Die verwoesting wat die tsoenami op Phi Phi gesaai
Die verwoesting wat die tsoenami op Phi Phi gesaai het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit was 74 uur gelede, voor sy hom hier op die foto sien. Ure van onbeskryflike ellende, pyn, hartseer, verdwasing.

Die nommer van die kis waarin Roy lê, is op die foto hier voor haar. Sy gaan soek tussen die rye kiste na nommer 173.

Dis onhoudbaar warm en bedompig onder die seilafdak wat sommer op ’n oop stuk grond gespan is. Aan die een kant sit die beamptes wat doodsertifikate uitreik. Aan die ander kant is die foto’s en die kiste van sowat honderd dooies wat hier uit die see gespoel het.

Toe sy hom kry, sak Dee inmekaar en huil. Roy se gesig en die onderkant van sy liggaam is swart verkleur. Later sou ’n dokter sê dis omdat hy dae lank op sy maag in die see gedryf het. Hy het waarskynlik sy bewussyn verloor weens ’n harde hou agter teen sy kop, en toe verdrink.

Dit lyk asof die kis te klein is vir Roy, wat 120 kg geweeg het en meer as 2 m lank was, want sy knieë en arms is gebuig. Sy besef sy moet die lyk laat balsem. Sy begin vergeefs soek na droë ys om te verhinder dat sy liggaam verder ontbind.

Nou dat sy hom gekry het, lê nog ’n uitdaging voor. Sy moet hom huis toe neem. ’n Verdere nagmerrie-ondervinding wag op Dee – die stryd om haar man begrawe te kry voor die natuur dit eenvoudig onhoudbaar
maak . . .

Die foto wat sy daardie dag van Roy op Krabi gekry het, het sy ’n ruk lank by haar gedra, vertel Dee ’n week later in hul sitkamer in Randparkrif in Gauteng.

‘‘Ek wou eers sy seun vra of hy sy pa só wou sien, maar ek het dit toe opgeskeur,’’ sê die skraal, aantreklike donkerkop. ‘‘Vir die eerste ruk nadat ek hom gekry het, het ek sy gesig gesien soos hy in die kis gelyk het. Dit het gelukkig vervaag. Ek onthou hom nou soos tevore.

‘‘Ons was twee jaar getroud, maar agt jaar saam. Roy was ’n gesellige, joviale mens. Ons het ’n goeie, sterk huwelik gehad.’’

Sy praat byna sonder trane, byna emosieloos. Asof die gebeure in Thailand alle gevoelens uit haar geput het.

‘‘Ek huil af en toe,’’ sê sy. ‘‘Ek droom nie, want ek drink saans twee sterk slaappille. Tot met die begrafnis gister het ek ook kalmeermiddels gebruik.’’

Die begrafnis was op 4 Januarie, die dag waarop hulle van hul vakansie sou terugkeer.

‘‘Roy het ons vakansie in Thailand al vroeg laas jaar begin beplan,’’ vertel sy. ‘‘Ons het op 21 Desember op Phi Phi aangekom en sou vir Nuwejaar Maleisië toe gaan.’’

‘‘Op die aand van Kersdag het hy my hand vasgehou en gesê ek hoef nie bekommerd te wees as hy dalk iets oorkom nie – hy het ’n week voor ons vakansie vir my ’n polis uitgeneem. Dalk het hy ’n voorgevoel gehad.’’

Toe die golwe kom, het sy op die hotel se dak geskuil, en later teen ’n heuwel. Die water het teruggetrek en sy het te midde van die chaos in die puin na Roy gaan soek, maar daar was net niks. Daardie aand is hulle per boot na Phoeket geneem.

‘‘Die see was ’n massa rommel en lyke. Ek het besef Roy moet dood of bewusteloos wees. Anders sou hy my gekry het. Hy was so ’n soort man.’’

Op Phoeket het Dee aanvanklik in die stadsaal en in ’n Chinese tempel gebly. Iemand het vir haar klere gekoop, want sy het nie meer geld gehad nie.

‘‘In die drie dae dat ons vir verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse regering gewag het, het ’n Deense vrou, ene Julie, besluit om ons te help. Sy het ure lank in die bloedige son gestaan met ’n plakkaat om Suid-Afrikaners bymekaar te kry.’’

By die stadsaal het Dee na Roy se gesig op foto’s van dooies gesoek.

‘‘Dit was moeilik, want van die water was hul gesigte geswel. Ek het gedink foto nommer drie is Roy, en ineengestort. Toe het ek gerou. Maar toe ons by die kis kom, was dit iemand anders, ’n Italianer. Ek het besef ek moet eenvoudig sterk wees en aangaan tot ek Roy kry.

‘‘Toe het ek gedink foto’s 23 en 25 is Roy, en na hul liggame in verskillende hospitale gaan kyk. Daarna is ons na al die plekke waar daar kiste was en ek het na al die ongeïdentifiseerde mans gaan kyk.

‘‘My vriende het gesê hy leef dalk nog. Maar ek het geweet Roy is dood.’’

Eindelik het hulle gehoor nuwe lyke is gekry by Krabi, 250 km van Phoeket af. Daar het sy haar Roy eindelik gevind.

Sy het eers gehuil, vertel Dee.

‘‘Toe het ek kalm geraak. Ek het besef ek moet vinnig optree om sy liggaam te laat balsem.’’

’n Amerikaner wat in Thailand grootgeword het, het gehelp met die uitreiking van die doodsertifikaat en om ’n bakkie te huur waarmee die kis vervoer kon word.

‘‘By die Patong-hospitaal in Phoeket was die stank ondraaglik. Vragte kiste is van vragmotors afgelaai. Toe sien ek die beamptes skud hul koppe. Roy se vingerafdrukke is nie geneem nie, en hulle wou hê ons moes hom terugneem Krabi toe. Teen daardie tyd het vloeistof uit sy lyk gelek.

‘‘Ek het neergesak in ’n stoel en gehuil. Dit het vir my gevoel ek kan niks meer doen nie. ’n Jong Thaise dokter het tot my redding gekom.

‘‘Hulle het gevra dat ek Roy aan sy littekens identifiseer. Ek kon nie ’n litteken aan sy nek kry nie, en teen daardie tyd het my knieë onder my ingegee. Gelukkig kon die dokters dit later kry.

‘‘Hulle het die datum en plek van dood op die doodsertifikaat verander, sy lyk gewas, gebalsem, plat in ’n kis neergelê en dit verseël.’’

Die voorblad van Huisgenoot, 13 Januarie 2005
Die voorblad van Huisgenoot, 13 Januarie 2005

Toe sy terugkom by die stadsaal, was daar twee gesante van die Suid-Afrikaanse regering.

‘‘Hulle het gevra of hulle my kan help. Ek kon niks sê nie. Waarom was hulle nie vroeër daar nie?

‘‘Ek is nie kwaad omdat die regering my nie gehelp het nie. Ek is net oorweldig deur die hulp en liefde wat ek by die Thaise mense gekry het.

‘‘Al wat ek wou doen, was om my man te vind, en dit het ek reggekry. Ek het krag en energie iewers vandaan gekry om aan te hou.’’

Dee en ’n groepie oorlewendes, en vier kiste, is die volgende oggend vroeg op ’n reddingsvlug van Nationwide terug Suid-Afrika toe.

En eers nadat sy seker gemaak het haar geliefde Roy se kis is in die vliegtuig, het sy self ingeklim.

  • Heruitsendings van Huisgenoot: Ware lewensdramas is Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147).