Piramiedeskema: ‘Gee terug die winste’ — Marelize Potgieter en Joanie Bergh (Huisgenoot 5 November 2015)
Beleggers wat wins gemaak het uit oorlede Herman Pretorius se fonds, word nou gedagvaar – en baie het die geld lankal bestee.

Ivor* kon homself op die skouer klop dat hy so verantwoordelik met sy geld omgegaan het. Hy het dit mooi belê, en die winste wat hy uit sy belegging ontvang het, het hy wys bestee om onder meer vir sy kinders se studie te betaal. Hy is ’n verantwoordelike man wat sy geld raadsaam
bestuur.

Selfs toe iemand hom daarop attent maak alles is dalk nie heeltemal pluis by die Kaapse sakeman Herman Pretorius se Relative Value Arbitrage Fund (RVAF), een van die fondse waarin hy belê het, nie, het Ivor weer verantwoordelik opgetree en sy geld so gou moontlik daaruit onttrek.

Herman (55), die beleggingsghoeroe”.
Herman (55), die beleggingsghoeroe”.

Toe hy in 2012 die nuus lees Herman se fonds is as ’n piramideskema ontbloot, was hy omtrent verlig dat hy sy geld betyds onttrek het.

Tot nou.

Ivor is een van talle voormalige beleggers in RVAF wat nou deur die kurators van die fonds gedagvaar word om die wins terug te betaal wat hulle uit die RVAF ontvang het.

Doodgewone, onskuldige middelklasmense wat geen misdaad gepleeg het nie en wat nou geld sal moet opdok wat hulle meestal reeds bestee het. In sommige gevalle honderdduisende rande.

Ivor het by die balju gehoor hy moet ’n allemintige R300 000 terugbetaal.

“Ek het nie ’n clue gehad dit gaan kom nie. Nie ’n clue nie,” vertel dié ontstelde Kapenaar aan Huisgenoot. Hy gaan waarskynlik ’n verband op sy huis moet uitneem.

Hy is een van 106 mense wat deur ’n Kaapse prokureur, Uys van der Hoven, verteenwoordig word in ’n desperate poging om te keer dat hulle dié verwoestende bedrae moet terugbetaal.

Daar is waarskynlik nog heelwat sulke gevalle.

Die Herman Pretorius-beleggingsdrama het die land meer as drie jaar gelede soos ’n bom getref. Die RVAF was een van Suid-Afrika se grootste piramideskemas.

Sowat 6 000 beleggers het om en by R2,2 biljoen daarin belê.

Die fonds het in 2012 die eerste keer in die nuus beland. Die rooi vlae het begin wapper toe die aanlyn publikasie Moneyweb die fonds se opbrengs van tot 25 persent per jaar bevraagteken.

Herman (55), die “beleggingsghoeroe” aan die stuur van sake, was nie soos wetlik vereis by die Raad op Finansiële Dienste geregistreer nie.

Op 26 Julie 2012 het Herman ná ’n woordewisseling sy voormalige sakevennoot, Julian Williams, en toe homself doodgeskiet.

Sy vrou, Susan-Ann, is intussen gesekwestreer en haar huis in Welgemoed in Kaapstad se noordelike voorstede, met al die luuksemeubels, en ander eiendom, soos ’n spogvakansiehuis op Hermanus, is verkoop (Weelde met ander se geld, Huisgenoot 14 Augustus 2014).

Die luukse huis wat Herman Pretorius gebou het.
Die luukse huis wat Herman Pretorius gebou het.

’n Mens sou dink dié wat hulle betyds aan sy fonds onttrek het nadat hulle deur die jare darem ’n uitbetaling verdien het, kon ’n sug van verligting slaak.

Maar intussen is kurators aangestel om die RVAF se geld weer op te spoor. Hulle het begin om die een dagvaarding ná die ander uit te reik aan al die niksvermoedende beleggers aan wie die fonds oor die jare geld uitbetaal het.

Nou is die balju besig om selfs bejaardes in ouetehuise op te klop om die geld te eis.

Rynette Pieters van die Independent Advisory, een van die medekurators van RVAF, sê die wet eis dat alle geld wat uitbetaal is, weer ingevorder word om gelyk tussen die beleggers verdeel te word.

“Sommige ‘beleggers’ het winste gemaak en ’n goeie inkomste uit hul betrokkenheid by die skema verdien; ander het nie. Die reg dikteer dié wat ’n wins gemaak het, mag nie ten koste van die ander bevoordeel word nie.”

Baie beleggers wat nou moet opdok, is gefrustreerd omdat hulle hul geld in goeder trou aan makelaars gegee het.

Volgens Rynette kan dié beleggers wel eise teen hul makelaars instel as hulle geld verloor het.

“Van hulle het reeds na die ombudsman vir die finansiële bedryf gegaan en daar is bevindings in hul guns gemaak. Ander het reeds teen hul makelaars opgetree.”

Die sakeman

’n Klop aan die deur van sy onderneming en toe die dagvaarding het hom 20 jaar ouer gemaak, sê ’n sakeman van die platteland. Hy is al langer as 15 jaar by die finansiële wêreld betrokke en het so vas in die RVAF-produk geglo dat hy self daarin belê het.

“Ek is in 2000 aan Herman voorgestel. Hy het eerlik en intelligent gelyk,” sê Johan*.

Hy het ’n paar honderdduisend rand in die skema belê en sê in daardie tyd was die opbrengste van die skema soortgelyk aan ander bekende effektetrusts; daarom het geen rooi ligte geflits nie. Herman het kwartaalliks aan kliënte terugrapporteer oor hoe die skema vaar en die opbrengste bekendgemaak. Hy het glad nie onraad vermoed nie.

’n Paar jaar voor Herman se dood het Johan sy geld onttrek en toe – drie jaar ná Herman se dood – ’n dagvaarding van ’n paar honderdduisend rand ontvang.

Johan sê wat waarlik ontstellend is, is die feit dat die likwidateurs jou laat voel jy het iets verkeerds gedoen.

“Hulle bel seweuur in die oggend, of in die aand. Net om ’n mens in die hande te kry.”

Die vrugteboer

‘Ek kan nie die geld terugbetaal nie, en dis te du
‘Ek kan nie die geld terugbetaal nie, en dis te duur om te appelleer’, vertel die vrugteboer. Foto: Misha Jordaan

Toe hy die koerant oopslaan en Herman Pretorius herken as die man wat sy sakevennoot en homself geskiet het, was hy “papgeslaan”.

Pieter* en sy pa, wat toe al in sy 70’s was, het in 2006 meer as R1 miljoen by Herman belê. Toe hy lees van al die mense wat al hul geld verloor het, was hy dankbaar hy het al in 2010 uit die fonds onttrek.

Pieter en sy pa word nou gedagvaar om R1,5 miljoen aan die kurators terug te betaal. Die vrugteboer sê ook hy het die skema deeglik nagevors en geen rede gehad om die geldigheid daarvan in twyfel te trek nie.

Die uiteinde: die balju wat kom klop aan die plaasopstal se deur.

Gaan hy die geld terugbetaal?

“Ek kan nie, en dis duur om te appelleer. Maar die ergste is dat onskuldige mense soos my pa, wat nou in sy 80’s is, ook hierby betrek word”

Hy voel nie hy het iets verkeerds gedoen nie, al laat die likwidateurs hom voel hy het oneties opgetree.

Rynette sê by navraag die likwidateurs speel geen rol by die tydsberekening van die aflewering van dagvaardings nie; dis ’n formele proses wat deur onafhanklike prokureurs en die balju hanteer word.

* Skuilname.

WEES VERSIGTIG

Loop lig vir die glibberige strategieë van kansvatters met piramideskemas, maan Justus van Pletzen, uitvoerende hoof van die Vereniging van Finansiële Tussengangers.

Die mense wat die skemas bemark, is gewoonlik flambojant en het vir alles antwoorde.

“Hulle bied gewoonlik ’n skema wat glad nie strook met die gereguleerde finansiële instrumente en huidige rentekoerse nie. Hulle sal altyd klem lê op buitensporige waarborge en beloftes,” waarsku hy.

Justus beveel aan verbruikers moet eers op die webtuiste FSCA die status van die adviseurs nagaan om seker te maak watter produkte en dienste hulle wel gelisensieer is om te bemark.

Piramideskemas word gewoonlik deur verwysings van ander beleggers bemark, want die een kry kommissie op die volgende een se verwysing.

“Al gaan dit hoe beroerd met jou finansies, is dit nie die moeite werd om kanse te vat nie. Raadpleeg eerder ’n gelisensieerde finansiële adviseur om jou te help om die nodige antwoorde te kry.”

Wanneer en waar?
Huisgenoot: Ware Lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Episodes word die daaropvolgende Maandag om 14:00 herhaal.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.