So stukkend oor ons seuntjie – Jana Smit, Huisgenoot 11 Augustus 2016

’n Dag en ’n half voor sy tragiese dood het ons Tereza Troskie-Herbst en haar man se kortstondige bondeltjie geluk, wat deur ’n surrogaat gedra is, op kamera verewig.

Oor sy beeldskone swartkopma se skouer lê die mensie oor wie se koms sy ouers so lank gedroom, gehoop en gebid het – ’n babaseun met fyn donker haartjies en ’n kuiltjie in sy ken.

Net drie dae nadat ’n surrogaatma die lewe aan Jayden Ben geskenk het, het Tereza Troskie-Herbst en Bennie Herbst hul kosbare bondeltjie vir Huisgenoot gewys.

Kortstondige geluk: ouboet Jamie (links), ma Terez
Kortstondige geluk: ouboet Jamie (links), ma Tereza en pa Bennie by Jayden Ben. Foto: Francois Prinsloo/Raising Flags Productions

Ouboet Jamie Troskie (18) was ook daar en duidelik in sy skik met sy langverwagte bababoetie.

Maar een en ’n halwe dae ná dié fotosessie het die vreugde en opwinding in die gesin se huis in Bloemfontein plek gemaak vir rou toe die piepklein baba skielik oorlede is.

Hulle het Jayden nog die vorige aand sy voeding gegee en soos gewoonlik sy winde uitgevryf, het Bennie oor die foon aan Huisgenoot vertel. Toe hulle hom neerlê, het dit geklink asof daar vloeistof in sy keel is. Die volgende oomblik het bloed by sy neus uitgekom.

Met Jayden in Bennie se arms het hulle hospitaal toe gejaag, waar ’n dokter hom 90 minute lank probeer bybring het. Maar om 23:39 op Sondag 31 Julie is hul babaseun dood verklaar.

“Ons is so stukkend,” het Bennie (36) die volgende oggend in ’n SMS aan Huisgenoot hul emosies verwoord. Oor die foon het Tereza (47) onophoudelik gehuil, maar tussen haar snikke deur gevra dat Huisgenoot vir hulle die foto’s stuur van Jayden se enigste fotosessie.

Daarop is die kosbare oomblikke verewig toe sy en Bennie die baba kon vashou wat so kort in hul lewe was . . .

Bennie en Tereza is skaars vyf dae saam met hul su
Bennie en Tereza is skaars vyf dae saam met hul surrogaatseuntjie gegun. Foto: Francois Prinsloo/Raising Flags Productions

Eers nadat Bennie die naam Jayden Ben vir hul baba gekies het, het hulle uitgevind wat Jayden beteken: “God het gehoor”, het Tereza, ’n voormalige Mev. Suid-Afrika, vroeër aan Huisgenoot vertel. En dit was die regte naam vir hul seun; vir hulle was Jayden immers ’n verhoorde gebed.

Nadat Tereza twee jaar tevore ’n histerektomie ondergaan het, het sy en Bennie besluit om met die hulp van ’n surrogaatma hul droom van ’n eie baba te bewaarheid (Ons baba ná kankerskrik, 18 Februarie 2016).

Bennie het Tereza se seun, Jamie, uit haar vorige huwelik met die Bloemfonteinse magnaat Boet Troskie, help grootmaak vandat hy twee jaar oud was. Maar hy het gebrand om ook ’n biologiese pa te word.

Bennie met die seuntjie waarvan hy gedroom het. Fo
Bennie met die seuntjie waarvan hy gedroom het. Foto: Francois Prinsloo/Raising Flags Productions

Jayden is verwek met een van 14 eierselle van Tereza wat voor haar histerektomie op 5 Mei 2014 geoes is. Nadat dit in vitro met Bennie se sperma bevrug is, is dit op 14 Desember in die surrogaatma (32) van Odendaalsrus ingeplant.

Sy verwagte geboortedatum was 10 Augustus en alles was klaar gereël vir die keisersnee in Bloemfontein se Mediclinic. Maar toe word hy twee weke vroeër, op 27 Julie, met ’n noodkeisersnee in Welkom gebore.

“Bennie en Jamie was in Bloemfontein en ek is vroegoggend Welkom toe vir werk,” het Tereza, ’n sakevrou wat ’n reeks biltongkraampies besit, vertel toe sy stralend haar babaseun vir Huisgenoot wys.

Maar om agtuur daardie oggend het die surrogaatma se ma Tereza uit Odendaalsrus gebel en gesê haar dogter kry kraampyne. Toe Tereza 10 minute later daar aankom, het sy besef hulle gaan nie Bloemfontein haal nie. Drie oproepe later is ’n bystanddokter by Welkom se Mediclinic gereël.

Die paramedici wat ontbied is om die 32-jarige te vervoer, het bevestig die plasenta het geskeur en ’n noodkeisersnee moes uitgevoer word. Tereza het agter die ambulans aan hospitaal toe gejaag. Op pad het sy Bennie gebel en gesê hy moet gou kom. Hy werk as verkoopbestuurder by ’n onderneming in Bloemfontein wat mediese toestelle verskaf.

Om 11:03 is Jayden gebore. Hy het 3,4 kg geweeg en was 51 cm lank.

Ná sy geboorte het sy pa hom eerste vasgehou en toe sy ma. ’n Rukkie daarna het Jayden vreeslik gehuil. Maar toe Tereza na hom gaan en hy haar stem hoor, was hy dadelik stil.

“Dis ongelooflik; die liefde was net daar,” het sy vertel.

Tereza se surrogaatbaba was ’n gebed wat verhoor i
Tereza se surrogaatbaba was ’n gebed wat verhoor is. Foto: Francois Prinsloo/Raising Flags Productions

Met Huisgenoot se besoek twee dae later het die nuwe ouers genoem hulle het die vorige nag min geslaap.

“Omdat hy op 36 weke gebore is, is Jayden se dermpies nog nie gereed vir melk nie en is sy magie seer,” het Tereza verduidelik. Hulle het vir hom spesiale druppels daarvoor gegee. Boonop het hy geelsug gehad.

Al het sy babakamer vir hom reggestaan, het die kleinman snags op ’n groot kussing in die vorm van ’n olifant tussen sy ouers op hul dubbelbed geslaap. Eers later sou hy trek na sy eie kamer, waar twee mandjies met speelgoedleeus uit die dak hang. Teen die muur is ’n aanhaling van Napoleon geverf: Let him sleep for when he wakes, he will move
mountains!

Die babakamer waarin Jayden Ben nooit geslaap het
Die babakamer waarin Jayden Ben nooit geslaap het nie. Foto: Sharo Seretlo

Maar nou sal daardie dag nooit aanbreek nie. Want toe Jayden se lewe kortgeknip word, het dit ook ’n einde gemaak aan sy ouers en ouboet se planne en drome vir hom.

Jamie, wat vanjaar in matriek is, was baie opgewonde oor sy bababoetie. Die belangrikste lewensles wat hy vir Jayden wou geleer het, was om altyd homself te wees.

Die Sondagoggend het Tereza klein Jayden saamgeneem kerk toe om met hom te spog, vertel past. André Lombard van die CRC-kerk in Bloemfontein.

Ons het alles gedoen wat menslik moontlik is – gehuil, gesnik, gesmeek.

Teen halfelf die aand het André ’n oproep van die bekommerde ouerpaar gekry kort nadat hulle met Jayden na die Mediclinic in Bloemfontein gejaag het.

“Teen daardie tyd was daar nie meer asemhaling nie, maar nog ’n hartklop,” vertel André. “Ek is dadelik hospitaal toe. Ons het alles gedoen wat menslik moontlik is – gehuil, gesnik, gesmeek.”

Dit blyk bloeding uit Jayden se neus het in sy longe beland. Al sal geen geregtelike ondersoek gedoen word nie, sal ’n nadoodse ondersoek wel uitgevoer word, sê André. Hy was tot drieuur Maandagoggend saam met Bennie en Tereza by die hospitaal.

Terwyl hy daar was, het hy Luco Chrispin van Avalon-begrafnisondernemers in Bloemfontein gebel.

“Ek het Bennie en Tereza sowat twee uur kans gegun om saam met klein Jayden deur te bring,” vertel Luco.

Hy het twee kombersies saamgeneem om Jayden in toe te draai. “Tereza het Jayden vir Bennie aangegee en Bennie het sy seun self in die voertuig getel.”

Tydens die swangerskap het ’n hegte band tussen Tereza en die surrogaatma ontwikkel. Dit het haar diep geraak om te sien hoe die surrogaatma die lewe aan haar en Bennie se baba skenk.

“Toe sy daar lê en hulle sny haar oop, toe besef ek sy doen dit vir ons,” het sy aan Huisgenoot gesê.

Nadat sy en Bennie met Jayden huis toe is, het hulle nog getrou elke dag met die surrogaatma oor die foon gepraat. Toe Huisgenoot die surrogaatma die dag ná Jayden se dood bel, het sy hartverskeurend gehuil.

“Ek wil nie nou daaroor praat nie,” het sy gesê, “nie nou nie.”

  • Huisgenoot ware lewensdramas word Maandagaand 21:00 op Via (Dstv-kanaal 147) uitgesaai.