Sy is deur ’n kennis as “meedoënloos vriendelik en commendably gemaklik in haar eie vel” beskryf.

Dis Hannah Cornelius (21), die Matie-student wie se wrede moord skokgolwe deur die land gestuur het. Sy en haar vriend, Cheslin Marsh (toe 20), is Saterdagoggend, 27 Mei 2017, in die vroeë oggendure aangeval toe hulle in ’n geparkeerde voertuig in Birdstraat, Stellenbosch, gesels het.

Cheslin is ernstig aangerand en Hannah het op ’n grusame manier aan haar einde gekom.

’n Ouer se smart

Vir haar 16de verjaardag wou sy nie iets vir haarself hê nie, maar het eerder geskenkpakkies vir die kinders van die nabygeleë informele nedersetting saamgestel en dit saam met die gesin se tuinier gaan aflewer. Dis hoe sy elke verjaardag daarna gevier het.

So het Hannah se pa, Willem Cornelius, op 8 November 2018 in die Kaapse hooggeregshof getuig tydens die vonnisoplegging van die mans wat skuldig bevind is aan haar moord.

Om mense te help, was ’n deurlopende kenmerk van Hannah se lewe.

“Sy was ’n merkwaardige kind op die randjie daarvan om ’n merkwaardige vrou te word,” het Willem oor sy enigste dogter gesê.

Sy vrou, Anna (56), het volgens hom soos handomkeer verander ná Hannah se dood; van een van die sterkste en bekwaamste vroue wat hy geken het tot iemand wat niks meer gehad het om te gee nie.

Sy het haar rug gekeer op ’n suksesvolle regspraktyk en al haar energie aan die Hannah Cornelius-stigting gewy sonder om enigsins aan die impak daarvan op haar gesondheid ag te slaan.

“Niemand weet werklik wat daardie vroegoggend gebeur het toe sy die koue en stormagtige Atlantiese Oseaan ingegaan het nie,” het hy getuig.

Andries, hul seun, verstaan nie die konsep van dood nie. 

Bedtyd elke aand die afgelope jaar en ’n half sal hy voor ’n geraamde foto van Hannah gaan staan en sê: “Hannah moet nou huis toe kom, haar vakansie is nou klaar.”  

Willem is self lank voor sy aftrede as landdros medies ongeskik verklaar. Hy het getuig dat hy wel sou bedank het, selfs al is hy nie medies ongeskik verklaar nie. Sy kommer was dat hy nie langer onpartydig sou wees in die beroep wat hy die afgelope 35 jaar as ’n roeping beskou het nie.

“Daar is geen ware vrede of antisipasie, hoop en verwagtings vir die toekoms nie, maar net om vir my seun soveel van ’n lewe te bied so lank as wat ek kan,” het Willem getuig.

Hy het ook gesê hy kan nie anders nie as om skuldig te voel oor die publisiteit wat die saak geniet het terwyl die kwesbaarste lede van die gemeenskap, vroue, kinders en bejaardes, oënskynlik daagliks aangerand, vermoor en mishandel word.

“My dogter sou saamgestem het dis nie billik nie.”

Die vonnisse
  • Nashwill Julies (28), Vernon Witbooi (32), Geraldo Parsons (26) en Eben van Niekerk (27)  het tereggestaan op aanklag van moord, poging tot moord, motordiefstal, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en verkragting.
  • Op 12 November 2018 is Witbooi en Parsons in die Wes-Kaapse hooggeregshof elk tot 115 jaar met twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moord en verkragting van Hannah.
  • Van Niekerk is 128 jaar en twee lewenslange vonnisse opgelê terwyl Julius effektief 22 jaar tronkstraf opgelê is vir die ontvoering en roof van Hannah en Cheslin.

Bronne: iol.co.za, news24.com, ewn.co.za


Wanneer en waar?
Huisgenoot: Ware Lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Episodes word die daaropvolgende Maandag om 14:00 herhaal.