My pa Bles . . . ’n amazing mens – Inge Kühne, Huisgenoot 6 April 2000
Op Vrydagaand 24 Maart kort voor middernag het Bles Bridges op die pad tussen Bloemhof en Wolmaransstad beheer verloor oor sy Toyota Hilux-bakkie. Die bakkie en sleepwa met klanktoerusting het die pad verlaat, omgeslaan en in ’n sloot beland. Bles is op slag dood. Leonie, sy vrou en die enigste passasier, is erg beseer.
Huisgenoot, 6 April 2000
Huisgenoot, 6 April 2000

Op die koffietafel in die sitkamer van Bles Bridges se groot siersteenhuis in Vereeniging lê twee boeke: ’n troosboekie vir donker tye soos dié, en ’n glansboek oor die lewe en dood van prinses Diana.

Langsaan, in die snoekerkamer met ’n uitsig op die swembad, staan ’n tafel toegepak met tientalle ruikers wat sedert Bles se dood ingestroom het. Party mense het dit sommer so stil-stil hier in die oprit voor die huis kom neersit  – ’n laaste eerbetoon van sy aanhangers aan een van die gewildste Afrikaanse sangers.

Geraamde goue plate en foto’s van Bles staan oral rond. Sunette, sy dogter, was besig om die vertrek op te knap, maar sedert sy dood die naweek staan alles stil.

Nou sit sy traanloos, kalm in die sitkamer en praat oor die pa wat sy beskryf as “ ’n amazing mens”.

My pa was gek daarna om iemand se held te wees. Myne, my kind s’n en duisende ander mense in die land s’n

Net ’n maand gelede nog het sy ’n liedjie geskryf oor ’n laaste afskeid, min wetend dat sy gou self daaruit troos sou moet put.

“Ek is seker dis wat my pa nou vir ons sou sing as hy kon,” sê sy.

Net my laaste wens voor jy gaan
Dat jy my sal onthou
Elke dag soos ek nou voor jou staan
Sonder trane oor hierdie afskeid
Sonder woorde wat verwyt
Net ’n glimlag wat sê
dat jy vir my net die mooiste wil hê

Herinnerings aan Bles is daar baie hier in die huis, en daar agter by die duiwehokke waar die stilte soos ’n swaar kombers oor alles hang.

Dit was by sy duiwe dat Bles op sy gelukkigste was. Soggens was hy net ná die eerste lig al by die hokke. Die duiweboerdery het begin as ’n stokperdjie, maar die laaste jare was Bles se duiwe ’n groot onderneming met ingevoerde kampioene wat vir duisende rande stuk gekoop en verkoop is.

“Alles wat hy aangepak het, het hy voluit gedoen. Met soveel geesdrif. Hy was die mens met die meeste gee in hom wat ek ooit geken het. Hy wou net hê almal moes gelukkig wees. Almal moes lag,” sê Sunette.

My pa was gek daarna om iemand se held te wees. Myne, my kind s’n en duisende ander mense in die land s’n

Langs die blomme staan Bles se ou kitaar. Hy het dit nou die dag nog vir ’n laaste keer ingestem.

“Voor hy vir ander mense gesing het, het hy altyd vir ons gesing met dié kitaar. Toe hy bekend word, het hy ál minder daarop gespeel. Net as hy hartseer was, het hy partykeer gaan sit en tokkel,” vertel Sunette.

Roem het vir Bles skielik gekom.

“In die 1960's was my pa die hoofsanger van ’n orkes. My oupa het die orkes op ’n keer gehuur om by die werk se Kersboom op te tree. Dis waar my ma en pa mekaar ontmoet het. Sy was toe 19.”

Bles en Leonie is ’n jaar later getroud.

Bles en Leonie. Foto: Gallo Images/Media24
Bles en Leonie. Foto: Gallo Images/Media24

“Hulle was arm, maar my ma het altyd gesê sy gaan nog in die grootste huis in Vereeniging bly en in die grootste Mercedes rondry. Toe ek hoërskool toe gaan, het my ouers my in ’n kunsskool in Johannesburg gesit. Hulle kon dit nie regtig bekostig nie.

“Maar daardie jaar het my pa begin sing, en toe hulle my aan die einde van st. 6 kom haal, het hy alles gehad waarvan my ma gedroom het.”

Bles het sy roem geniet.

“Hy was nie een van daardie sangers wat stilletjies agter ingekom het vir ’n vertoning nie. Hy het voor stilgehou waar almal hom kon sien en aan hom kon vat. Dan het hy handtekenings en drukkies uitgedeel.

“My pa was gek daarna om iemand se held te wees. Myne, my kind s’n en duisende ander mense in die land s’n,” sê Sunette.

Op die verhoog het Bles geleef. Daar het hy rose uitgedeel en die vroue se knieë lam gemaak met sy soet stem en flambojante maniertjies.

Bles Bridges. Foto: Gallo Images/Media24
Bles Bridges. Foto: Gallo Images/Media24

Tussen die goeie tye deur was daar ook slegtes. Vroeg in die 80's het Bles kanker gehad. In 1987 was hy weer gesond en op die kruin van sy sukses. Altesaam 28 000 mense het in daardie jaar na die Superbowl in Sun City gestroom om na hom te luister  – die eerste keer in die geskiedenis dat die Bowl uitverkoop was vir ’n plaaslike sanger.

Bles was ook ’n vurige man, en hier vroeg in die 1990's was daar die nuus van ’n ander vrou in sy lewe. Marietjie van Heerden het van haar man geskei om met Bles te trou. Bles en Marietjie het saam liefies vir foto’s poseer. Twee keer was Bles en Leonie se saak in die skeihof, maar die egskeiding het toe nooit gebeur nie.

Huisgenoot, 6 April 2000
Huisgenoot, 6 April 2000

“Mense se opmerkings daaroor het partykeer seergemaak, maar die teenkant, die liefde wat my pa van die mense gekry het, was duisend keer belangriker,” sê Sunette.

Marietjie woon en werk steeds in Vereeniging. Sy het vir Sunette gebel toe sy van Bles se dood hoor. Sy was baie hartseer.

“Dit is die verlede daardie,” sê Sunette afgetrokke. “Daar is nie meer dinge tussen ons nie. Ek sou nie sê ons is vriende met Marietjie nie, maar as ons mekaar iewers raakloop, groet ons.

“As my pa haar nog nou en dan gehelp het as sy hulp nodig gehad het, dan is dit tussen hulle. Marietjie het nog kontak gehad met my pa se ouers, maar ek glo alles tussen haar en my pa was verby. As dit nie so was nie, sou iemand dit lankal uitgesnuffel het. My pa was elke liewe dag hier by die huis.”

Maar deur dit alles het Bles aanhou sing. Verlede jaar was een van sy beste jare nog, sê Sunette. Vanjaar sou hy by die 200 vertonings gelewer het.

“Sy humeur was seker sy slegste eienskap, maar dit was ook sy beste. As hy kwaad was, het hy so gesê. Hy sou selfs onredelik wees. Maar as dit verby was, was dit verby. Hy het nooit verwyt nie,” sê Sunette.

“Ousus,” het hy altyd gesê, “As jy terugkyk, word jou nek styf.”

Die nuus van die ongeluk was skaars in die koerante of die eerste stories oor Bles se laaste aand het begin. Die gehoor by Bles se konsert by die Black Steer op Jan Kempdorp was go maar kleinerig en daar was stories dat hy gekrenk was daaroor. Daarom het hy die aand huis toe gery pleks van oornag, is gesê.

Dis alles snert, sê Sunette. “My pa was nie so nie. Hy het nooit omgegee of hy voor twee of 2000 mense optree nie.”


So lief was Bles daarvoor om op die verhoog te wees dat hy skoon rusteloos geraak het wanneer hy op Leonie se aandrang elke Januarie ’n blaaskans geneem het.

“Hy het dikwels gratis opgetree. Eenkeer by ’n duiweklub het hy daar gestaan met ’n plastiekstoel onder sy voete in ’n saaltjie met sulke blikklank en twee uur lank ’n vertoning gehou. Hy het presies dieselfde show gegee wat hy vir ’n skare sou gee,” sê Sunette.

Sy het haar pa se sangtalent geërf. Sy was 18 toe ’n platemaatskappy vir haar ’n kontrak aangebied het. Bles het gekeer. Hy het gesê sy is nog te jonk vir die kollig.

Einde verlede jaar was hy die een wat Sunette begin aanmoedig het om tog ’n CD te maak. Dit moes voor haar 30ste verjaardag in Junie uitgereik word, het hy gesê.

Die titelsnit is "Vrou alleen". Leonie het dit geskryf.

As die skemer daal
Het ek geen idee
Waar kry ek die krag vir die nuwe dag
Wat bring môre mee
Maar in die nag as die
wêreld stil bly staan
Sê ek die stryd van voor of aan
Vrou alleen
Besluit ek om weer op te staan

Sunette het vir haar pa ook een geskryf:

Hy dra my as ek nie meer
kan loop nie
Hy gee my wat geen geld
ooit kon koop nie
My pa het my diepste seer
verstaan.

“Ek weet nie of ek daardie een nou nog sal opneem nie,” sê Sunette en sy sluit hartseer haar oë. “Of miskien sal ek nog. Ek weet nie. Ons sou binnekort met die opnames begin het, maar ek dink dit sal nou eers moet wag."

Haar pa moet nou eers vandeesweek begrawe word – ’n groot begrafnis met baie blomme. ’n Soort laaste Sun City vir hom, sê Sunette.

As hy nog hier was, sou Bles saam met haar in die ateljee gewees het. Hulle sou die duet " ’n Vader is ’n vriend" saam gesing het.

Pa sê veel met weinig woorde
Doen soveel met een gebaar
En die musiek van ons akkoorde
Pas vir altyd bymekaar

“Weet jy, my pa was baie bang om dood te gaan. Hy was baie lief vir die lewe. Tog het hy baie gepraat oor ’n motorongeluk, omdat hy en my ma so gereeld gery het. Hy het gesê as hy seerkry, wil hy eerder dood wees, want hy sou dit nie kon verduur om net ’n halwe lewe te hê nie. Daarom voel ek nou dis beter so,” sê Sunette.

Bles is dood terwyl hy alles gehad het.

“Hy was nou op sy beste. Die huis is klaar, hy was gewild, sy duiwe het goed gelyk en hy was tevrede met waar sy kinders was. Daar was niks onvoltooids in sy lewe nie,” sê Sunette.

Net verlede jaar nog het sy heel grootste persoonlike oomblik aangebreek toe hy op ’n konsert in George vir sy held, P.W. Botha, gesing het.

Bles se enigste seun, Victor, hou voor die huis stil. Hy is ’n stil mens, soos sy ma, maar sy oë spreek luid van sy hartseer toe hy oor sy pa praat.

“Hy was nie vir my die sanger wat almal geken het nie,” sê hy. “Hy was net my pa.”

Heruitsendings van Ware lewensdramas
Heruitsendings vind Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) plaas.