Nog lief vir my ‘risiko-kind’ – Marida Fitzpatrick, Huisgenoot 7 Maart 2013
Vergewe, sê die Bybel – dis die woorde van Dorothea Brits oor haar seun ná die bylaanval wat onder andere haar man geëis en haar feitlik blind gelaat het. Sy gesels met Marida Fitzpatrick.

Toe hulle daardie dag met hul tweedehandse groen Mercedes-Benz Johannesburg toe ry, was die N3 vol padwerke, maar hul toekoms was groot en mooi en oop.

Die jong Willem en Dorothea Brits was van Harrismith op pad na Braamfontein om hul nuwe baba te gaan haal. Martin was ses weke oud en het by die Christelike Maatskaplike Raad op sy aanneemouers gewag.

“Ek kan jou die datum sê,” sê Dorothea in ’n yl stem. “31 Mei.” 1984. Haar mond trek in ’n moeisame glimlag. “Ek was dadelik verlief op hom. Hy was die mooiste baba. Spierwit haartjies gehad, spierspierwit.”

Haar oë, wat eintlik nie meer kan sien nie, kyk ver die verlede in. “En blou ogies. Pragtige kind. Baie mooi.”

Die rede hoekom Dorothea byna blind is en haar predikantman én aanstaande skoonseun dood, is dat iemand hulle met ’n byl aangeval het (Vergewe hom, sou my pa sê, Huisgenoot 29 November 2012). En die rede hoekom haar klein gesig elke nou en dan in verdriet vertrek, is dat die polisie dink daardie iemand is Martin.

Op papier is sy te jonk om in die Eliza Liddell-tehuis te wees. Net 59. Maar sy lyk tuis hier tussen die verswakte bejaardes op Harrismith. Broos en feitlik blind sit sy in die klein sitkamertjie aan die punt van die gang. Gebreek.

“Ja. Ja, stukkend,” sê sy sag en haar bleek vel trek in ’n diep frons op haar voorkop.

Agter haar kop lê ’n lappie oor die roomkleurige bank se rugleuning en op die koffietafel staan ’n rangskikking van vals sonneblomme op ’n wit-en-goue doilie.

Die tehuis op Harrismith waar die oud-predikantsvr
Die tehuis op Harrismith waar die oud-predikantsvrou nou woon.


Sy onthou niks van die tyd ná die aanval op 8 November verlede jaar by hul huis, die pastorie by die NG kerk Kerkenberg, nie.

“My eerste duidelike herinnering is van so vier, vyf weke gelede.”

Dorothea Brits. Foto: Dino Codevilla
Dorothea Brits. Foto: Dino Codevilla


In die tyd wat sy vergeet het, is daar aan haar brein geopereer, want sy het skedelfrakture gehad ná die aanval. Haar hare is nog donsig waar dit afgeskeer is vir die operasie.

“My fisioterapeut sê ek was die eerste ruk soos ’n lappop. Ek weet ek kon nie my waterbottel opgetel kry nie.” Sy moes van voor af leer eet, sit, staan, loop. Haar sig is erg belemmer en die dokters het vir haar gesê sy het net 25 persent sig oor in die regter-boonste kwadrant.

Van haar tyd in die hospitaal onthou sy niks, maar sy onthou die aand in die rehabilitasiesentrum toe die besef haar binnedring: Haar man is dood.

“Hulle het dit blykbaar van die begin af vir my gesê, maar een nag het ek dit skielik verstaan. Ek was in die bed en dít wat hulle heeltyd gesê het, het net deurgekom na my toe. Ek was kwaad, ek was kwaad vir die Here, ek was hartseer omdat ek geweet het ek gaan my man nie weer sien nie. In daai stadium het ek nog nie rêrig ’n besef gehad van my kind nie.”

Sy kry trane in haar oë. “Ek wou nie langer leef nie; ek wou vir die Here sê: Vat my ook weg, hoekom spaar jy my lewe?” Sy pers haar lippe saam.

Oor die feit dat hul seun Martin (29) aangekla word van poging tot moord op haar, en van die moord op sy pa en Gerhard Vermeulen − haar dogter, Thea, se verloofde − is sy eers vaag, raak dit net liggies aan, verwys daarna as “die ander goed” en sê: “Ja, dit was net baie, baie sleg.” Sy kyk af, frons diep.

Willem Brits. Foto verskaf
Willem Brits. Foto verskaf

“Ek weet net in ’n stadium het ek en die Here baie baklei. Ek het baklei; die Here het geluister.”

Later het sy na haar oudio-Bybel begin luister en sy wys die klein, donker, digitale klankspeler wat sy bly vashou.

“Ek het hom saamgebring om jou te wys.”

Een van die teksverse het vir haar berusting gebring, want sy is baie gelowig. “Die Here het hierdie ding eintlik geweet en wie’s ek nou om te vra: Hoekom het dit met my gebeur?”

Dan keer sy terug na Martin.

“Toe die besef kom dat hy nou al weer sy lewe opgemors het, was dit net ’n geweldige skok. Ek weet nie of Martin . . . ”

Sy maak nie die sin klaar nie. Iets soos verwarring kom oor haar.

“Ek weet nie wat hom besiel het nie.” Mymerend: “Hy was nie ’n wreedaardige ou nie.”

Martin het by hulle gewoon nadat hy omtrent ’n jaar tevore uit die tronk op Frankfort in die Vrystaat vrygelaat is. Hy het vyf jaar gevangenisstraf uitgedien omdat hy geld verduister het by die maatskappy waar hy voorheen gewerk het. Hy is tans in aanhouding terwyl hy wag vir die moordverhoor.

Dorothea en Willem wou baie graag kinders hê, maar het albei vrugbaarheidsprobleme gehad en besluit om aan te neem. Hulle het drie seuns en een dogter aangeneem – Martin is hul tweede kind.

Omdat hy kort ná sy geboorte, voor die aanneming, twee keer breinvliesontsteking gehad het, het die maatskaplike werkers hom beskryf as ’n “risiko-baba” – ’n woord wat nou wrang weerklink.

Sy sê hy was altyd ’n stil, saggeaarde kind, “ ’n dromer”. Nooit probleme, rebelsheid, bakleiery nie, “nooit, nooit, nooit nie”. En sy verhouding met hulle was altyd goed, selfs nog in die tyd voor die aanval.

Toe hy destyds tronk toe is, het dit hulle geweldig geskok.

“Ek kon dit nie glo nie. Dit maak nou nog nie vir my sin nie, want hy kon ons nooit regtig sê hoekom hy dit gedoen het nie.”

Sy medebeskuldigde in die saak oor die bylaanval, Elliot Mhlambi, het hy in die tronk ontmoet.

“Ek weet nie of daar enige rehabilitasieplaasgevind het in die tronk nie. Inteendeel.”

Sy maak haar oë toe, skielik deur hartseer oorval. “Hy het op my verjaardag uit die tronk gekom: 21 Oktober 2011. Hy was ’n jaar by ons; hy het nie gewerk nie.”

Sy wil hom graag weer sien.

“Ek wil hom beslis sien, maar ek weet nie of ek nou al sterk genoeg is nie. Maar ek sal graag wil weet hoekom.” Sy skud haar kop.

“Ja,” sê sy moeg, “ek weet nie hoekom nie. As hy dalk gedink het hy gaan iets erf of so, sou hy geweet het hy maak ’n groot fout, want hy het ons finansiële sake geken. Ek glo nie dit was al motief nie. Dit pla my. Ek wonder, ek wonder. Ek wens ek weet.”

Sy is nie kwaad vir hom nie, sê sy, net teleurgesteld.

“Ek dink nie my liefde vir my kind sal ooit minder word nie.”

Al wat haar hierdeur dra, is haar sterk Christelike geloof. “En ons hemelse Vader sê vir ons vergewe, vergewe elke keer.” Ná langer as ’n uur se praat hieroor, is sy gedaan, kan ’n mens sien. Haar mond hang; haar kop val terug teen die rugleuning.

Ons groet en sy vra ons moet dit asseblief ’n “oorwinningstorie” maak.

“Ek wil hê die mense moet weet daar is wonderwerke.”

Martin Brits en Elliot Mhlambi.
Martin Brits en Elliot Mhlambi.


Toe ons terugry na Johannesburg, is daar weer padwerke op die N3, nes daar was toe hulle Martin gaan haal het 29 jaar gelede. En daar’s ’n moeilike, smal stuk tussen Harrismith en Vrede.

FOTO'S: TUMELO LEBURU, PAPI MORAKE, GALLO IMAGES/FOTO 24/CONRAD BORNMAN
  • Ware lewensdramas word twee weke na uitsending, op Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) heruitgesaai.