Dr. Piet – Die einde van 'n era – deur Elretha Louw, Huisgenoot 22 Desember 2005
Huisgenoot 22 Desember 2005
Huisgenoot 22 Desember 2005


Vir die oudminister en sy sekretaresse was dit ’n feëverhaal, maar nou is dit verby en al wat oorbly, is ’n wetlike kraaines.

Die dag begin soos enige ander vir dr. Piet Koornhof. Dis die Donderdagoggend twee weke voor Kersfees en soos altyd staan hy in sy meenthuis in Table View buite Kaapstad op, stort, trek aan en gaan vra vir Carla Adams vir koffie.

Carla versorg hom hier sedert Marcelle Adams, haar ousus en Piet se metgesel van baie jare, vroeg vanjaar besluit het om sak en pak Duitsland toe te trek met die kinders. En vandag weet Carla iets wat Piet nie weet nie.

Toe sy die koffiebeker vir hom aangee, weet sy dis die laaste keer dat sy dit vir hom sal doen.

Dit is die einde van ’n era vir die man wat op sy dag waarnemende staatspresidentwas en die land dertien jaar gelede geskok het toe hy sy vrou, Lulu, vir ’n jong vrou uit ’n eenvoudige agtergrond gelos het.

Vandag gaan Piet eindelik terug na Lulu toe.

Net die vorige dag het Piet se seun, dr. Johan Koornhof, ’n sakekonsultant van Stellenbosch, met hom kom praat. Marcelle (36) is weg en Piet (80) moet aangaan met sy lewe, het hy gesê.

‘‘Uncle Piet het ontsteld geraak soos altyd wanneer mense vir hom sê Marcelle gaan nie terugkom nie,’’ vertel Carla in die huis wat ná sy vertrek stil en leeg lyk. Die foto’s en Piet se graadsertifikate wat die kroeg in die binnehof vol gehang het, is weg.

Vir Carla het Johan gesê Piet is op die ouderdom waar hy vergeetagtig raak. Hulle wil hom eers na Lulu neem en dan aanstaande jaar na ’n plek waar hy professionele hulp kan kry.

Toe sê Johan vir sy pa hy sal hom die volgende dag kom haal, om ‘‘net vir die dag’’ in Stellenbosch te kuier.

‘‘Ek moes hom verseker ek sou hom die aand kom oplaai,’’ vertel Carla. ‘‘Ons kon hom nie die waarheid vertel nie, want dan sou hy geweier het om by die voordeur uit te gaan. Ek was hartseer en ontsteld toe ek vir hom die laaste koppie koffie maak. Ek het nie daarvan gehou om vir hom te jok nie.’’

Vyf minute nadat Piet saam met Johan daar weg is, het sy ander seun, dr. Gerhard Koornhof, ’n ANC-parlementslid, saam met ’n vragmotor daar opgedaag om sy trek Stellenbosch toe te neem, vertel Carla.

Hulle het Piet se bed, twee van die skilderye, ornamente, sy klere, boeke en sy foto’s – onder meer een van hom saam met Lulu en oudpres. F.W. de Klerk wat in die kroeg gehang het – ingepak. Die foto’s van Marcelle en die kinders het hulle egter agtergelaat.

Carla wys ’n geraamde foto van Maria (12), Marcelle se oudste wat Piet as sy eie kind grootgemaak het, en hul tweeling, Daniel en Samuel (8), wat sy met hom wou saamstuur. Gerhard het geweier omdat dit glo ‘‘te emosioneel’’ vir Piet sou wees.

‘‘Maar dis tog sy kinders,’’ sê Carla.

Piet, Marcelle Adams met haar dogter Annie op die
Piet, Marcelle Adams met haar dogter Annie op die skoot en hul tweeling, Daniel en Samuel, toe hulle nog saam was. Argieffoto

Die dag in Januarie vanjaar toe Piet vir Marcelle en haar vyf kinders op die Kaapstadse Internasionale Lughawe gegroet het, het hy vir Huisgenoot gesê hy sal by niemand anders as Lulu wil bly as hy nie meer vir
Marcelle het nie.

‘‘Maar in my kop is daar geen afskeid nie – hulle gaan net op ’n besoek,’’ het hy bygevoeg.

Marcelle (36) woon sedert Januarie in Bad Endorf in Beiere by die Duitse sakeman en kunsvlieënier Fritz Cherdron (56), wat sy vyf jaar gelede in Kaapstad ontmoet het. Hy is die pa van haar twee jongste kinders, Annie (amper vier) en Christina (vyftien maande).

In die twaalf jaar dat Piet en Marcelle saam was, was hy steeds getroud met Lulu (79), die vrou wat in sy jare as minister, waarnemende staatspresident en ambassadeur in die Verenigde State van Amerika aan sy sy was.

Hy het ook vertel hy praat nog elke dag met haar oor die foon. Marcelle en later Carla het hom gereeld Stellenbosch toe geneem om haar te gaan besoek. Nou het hy by haar in ’n ruim huis met ’n breë stoep en boomryke tuin in ’n stil straat ingetrek.

Vir die eerste keer in dertien jaar sal hulle vanjaar saam Kersfees vier.

‘‘Ons hou Kersfees godsdiens en bly by die huis,’’ sê hy. ‘‘Dit sal baie aangenaam wees om dit saam met Lulu en die seuns deur te bring.’’

Op die vraag oor ’n moontlike trek na ’n aftree-oord antwoord Piet: ‘‘Ek stel glad nie belang in ’n aftree-oord nie. Ek is gelukkig om kinders en ander mense te hê wat na my omsien.’’

Hy bly baie gelukkig in Stellenbosch.

‘‘Ek ken Lulu oor die vyftig jaar. Sy beteken oneindig baie vir my en sy sê ek beteken baie vir haar.’’

Hy hoor ook nog elke dag van Marcelle.

‘‘Sy kom vandag of môre terug. Ons sal eers hier in Stellenbosch bly, maar ek het ook nog die plek in Table View . . .’’

Uit Duitsland waar die wêreld wit van die sneeu lê, sê Marcelle sy sal wel ná Kersfees kom kuier.

Die dag voor Piet weg is Stellenbosch toe, het Johan haar gebel. ‘‘Hy het gesê hulle het besluit om Piet te gaan haal, want hy het behoorlike mediese behandeling nodig.

‘‘Ek het gehuil toe ek hoor hulle wil hom wegvat. Piet het altyd vir my gesê hy wil in ons huis doodgaan. Ek hoop dit is in sy beste belang dat hy na ’n plek gaan waar hy behoorlik versorg kan word, maar in my hart wens ek hy was nog daar in Table View.’’

Die huis in Table View. Foto: Corrie Hansen
Die huis in Table View. Foto: Corrie Hansen

Johan het ook gevra Marcelle moet Piet nie bel nie, maar drie dae later het hy haar uit Stellenbosch gebel.

‘‘Piet was ’n baie lang tyd deel van my lewe. Ek sal nog steeds met hom kontak wil behou. Ek het vir Fritz gesê dis snaaks, maar ek verlang regtig na Piet.

‘‘Die mense dink ek wil my brood aan albei kante gebotter hê, maar ek was so lank by Piet en ons het saam soveel deurgemaak. Daar is ’n spesiale band tussen ons en niemand kan dit wegneem nie.’’

Snags lê sy wakker van bekommernis.

‘‘Ek voel verskriklik. Hy het alles vir my gegee wat hy moontlik kon. Maar toe Piet my op sy oudag nodig gehad het, het ek besluit om weg te gaan om by iemand anders te wees.’’

Tog sê Marcelle sy het reg gekies.

‘‘Die kinders is gelukkig. Ek sal die lewe hier vir niks verruil nie. Maar dit gaan hartseer wees om ons huis in Table View binne te stap en Piet is nie daar nie . . .’’

Die huis is op hul albei se naam geregistreer. Piet se seuns wil dit nou verkoop, maar Marcelle wil dit vir haar kinders behou. Sy wag nou vir ’n voorstel van Johan.

Intussen leef Carla in onsekerheid oor hoe lank sy, haar man, Norman van Wyk, en hul kinders, Norman jr. (5) en Taina (2), nog daar sal mag bly.

‘‘Piet se familie en Marcelle moet dink aan wat ons alles prysgegee het om hier te woon,’’ sê Carla beslis.

Carla Adams wys na Piet se leë plek op sy rusbank.
Carla Adams wys na Piet se leë plek op sy rusbank. By haar is haar kinders, Norman jr. (5) en Taina (2) van Wyk. Foto: Corrie Hansen

Sy is hartseer dat Piet weg is.

‘‘Ek het geheg aan hom geraak, vir hom liefgeraak. Party dae het hy my Marcelle genoem en vir my seun Danny of Sammy, afhangende van watter een hy die meeste gemis het.’’

Toe hy weg is, het sy seker gemaak sy geliefkoosde sitkussing gaan saam en sy twee asbakke – een om die as in af te skud en een om die stompies in dood te druk.

‘Ek hoop hulle kyk mooi na hom. Ek dink hy sal baie gou verouder in ’n ouetehuis. Die gedagte dat Marcelle gaan terugkom, het hom aan die gang gehou.’’

Met die groetslag vang my oog die bordjie in ’n blombak op die stoep: ‘‘Fairies live here,’’ staan daarop.

Maar die feëverhaal van ’n invloedryke oudminister wat op sy jong sekretaresse verlief geraak het, is verby. Al wat oorbly, is ’n wetlike kraaines oor gedeelde besittings wat nog ontrafel moet word . . .

  • Heruitsendings van Huisgenoot: Ware lewensdramas is Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147).