Arianne Riederer (42) het op haar tuisdorp, Bergdietikon, in die Switserse kanton Aargau gedraf toe ’n buiserd haar aanval.

“Dit was asof ’n sandsak op my val," sê sy. "Ek was verskriklik bang.” In die weke ná die aanval het sy ’n hoë koors, pyn in haar ledemate en hoofpyn gehad. Letsels het ook ná die aanval aan haar nek begin verskyn.

Haar huisdokters en dokters by die streekhospitaal van Limmattal het eers aangeneem dit was die een of ander virus en het dit met pynstillers en teeninflammatoriese medisyne probeer behandel.

Ná vyf dae is Arianne op eie versoek uit die hospitaal ontslaan, al was sy nog nie gesond nie. Weke later was die ma ernstig verswak en is sy in die saal vir aansteeklike siektes van die provinsiale hospitaal in Baden opgeneem.

Foto: Magazine Features.

Daar is die regte diagnose eindelik gemaak toe dokters besef sy ly aan tularemie, ’n siekte wat as konynkoors bekendstaan.

Die dokters het antibiotikum voorgeskryf om die bakteriële infeksie te behandel en dit het gou resultate opgelewer.

“Ek het toe taamlik vinnig herstel,” sê Arianne. Ná 'n paar maande het die laaste van haar letsels heeltemal verdwyn.

Konynkoors is eintlik ’n dieresiekte wat hoofsaaklik knaagdiere en wilde hase aantas.

Die aangetaste dier vrek binne ’n week nadat dit besmet is. Die siekte kan ook deur middel van bosluisbyte of direkte kontak met aangetaste diere oorgedra word, sê Switserland se federale kantoor vir openbare gesondheid (BAG).

Die regeringsorganisasie maan veral honde-eienaars in die omtrek van die Constancemeer om op hul hoede te wees, want ’n ongewoon hoë aantal hase het dié (Europese) lente die siekte opgedoen.

Die vrou se sewe jarige seun het ’n prentjie oor die aanval geteken. Foto: Magazine Features.

Tot in 2011 was die getal menslike besmettings sowat 10 per jaar. Maar verlede jaar het die syfer drasties gestyg tot 130 gevalle. As dit nie behandel word nie, kan dit tot die dood van 5 tot 15% besmette mense lei.

Daar bestaan nie ’n entstof teen die siekte nie. Volgens BAG is die risiko dat jy aan die siekte sal sterf minder as 2% as jy die regte antibiotikum-behandeling kry.

Ná ’n ondersoek deur onder andere F. Ehrensperger is gevind dat die voël “as ’n oordraer gedien het en net die F. tularensis aan sy kloue of snawel gedra het”, maar sluit nie ’n besmetting van die voël self uit nie.

Volgens die ondersoek is verskeie ander drawwers kort ná die aanval op Arianne in dieselfde gebied deur ’n buiserd aangeval.

Minstens een ander mens is ook met tularemie besmet. Die siekte is na die Tulare-distrik van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië genoem waar die siekte in 1911 ontdek is.