Sy liefdeslewe laat die tonge al dekades klap. Die Rolling Stones-legende Mick Jagger is immers net so bekend as rokjagter as vir die treffers wat hom beroemd gemaak het.

Nou gons dit weer, dié keer oor die pa van agt se jongste liefie. Noor Alfallah (23) is 51 jaar jonger as haar 74-jarige kêrel, ’n oupagrootjie.

Die ma van Mick se 11 maande oue seuntjie het tot onlangs nog planne gehad om vandeesmaand saam met hom vakansie te hou. Boonop het die ballerina Melanie Hamrick (31) onlangs in ’n onderhoud gesê hulle maak toe vir November en dan sien sy uit na ’n vakansie saam met haar baba en sy pa. Daarvan sal seker nou niks kom nie, tensy Noor as babaoppasser saamgaan.

Noor, ’n aspirantfilmvervaardiger, pryk op al wat ’n poniekoerant se voorblad is sedert haar verhouding met Mick op die lappe gekom het. Hulle is glo al twee jaar lank in ’n verhouding, maar het die kat in die donker geknyp terwyl Melanie, sy meisie van drie jaar, swanger was met hul seun. “Mick wou sy verhouding stilhou om Melanie nie te verneder nie,” vertel ’n skindertong.

Die aap was egter uit die mou toe Mick en sy jong blaar onlangs saam gewaar word op ’n paar romantiese afsprake in Parys.

1. Sy eerste liefde: Chrissie Shrimpton

Mick was ’n 19-jarige student in Londen toe sy pad met die 17-jarige model s’n kruis. Mick was toe allesbehalwe ’n hartebreker. Trouens, pelle van Chrissie se ousus, Jean – een van die wêreld se eerste supermodelle – het gereeld geskinder oor hoe lelik Chrissie se kêrel is. So het Philip Norman in sy biografie Mick Jagger onthul.

Toe die groep beroemd raak, het dit na Mick se kop gegaan en het hy die kat in die donker begin knyp, al was hulle verloof. Hy het Chrissie (nou 72) in 1966 gelos vir die sangeres Marianne Faithfull. Chrissie was so ontsteld dat sy ’n oordosis slaappille gedrink het. Mick het betyds op haar afgekom, maar om ’n mediasirkus te vermy, het sy bestuurder glo met haar hospitaal toe gejaag en haar onder ’n ander naam ingeteken.

2. Die sangeres: Marianne Faithfull

Marianne het in die 1960’s roem verwerf met haar liedjie As Tears Go By. Mick en Keith Richards (73), die Stones se kitaarspeler, het dit geskryf. Dat Marianne getroud was, het Mick nie gestuit nie. Net maande nadat sy in November 1965 ma geword het, het sy en Mick ’n affair aangeknoop en het sy haar man gelos.

Die sangeres het nie juis besadig geleef nie, en toe die polisie in 1967 tydens ’n dwelmklopjag op Keith se huis toeslaan, het hulle Marianne aangetref met net ’n langhaarmat wat haar naaktheid bedek. Sy het haar later aan dwelms en drank vergryp nadat sy in 1968 verwag en op sewe maande ’n miskraam gehad het.

Hul paadjies het in 1970 geskei nadat sy glo uitgevind het Mick het met Keith se meisie, Anita Pallenberg, gekafoefel.

3. Die aktrise: Anita Pallenberg

Dié Italiaanse aktrise en model het met drie Rolling Stones-rockers uitgegaan: Mick, Keith en wyle Brian Jones. Sy was juis nog in ’n verhouding met Keith toe sy hom glo met Mick verkul terwyl hulle twee saam aan die misdaaddrama Performance (1970) verfilm het. Anita is in Junie vanjaar in die ouderdom van 75 oorlede.

4. Die soveelste skelmpie: Marsha Hunt

Dié Amerikaanse model het in 1969 op die Mick-radar verskyn terwyl hy nog met Marianne uitgegaan het. Marsha het in November 1970 die lewe geskenk aan Mick se eerste kind, ’n dogter, Karis Jagger (47). Marsha (nou 71), wat beweer die omstrede Stones-treffer Brown Sugar is oor haar geskryf, was in die 1970’s in ’n hofstryd gewikkel om onderhoudsgeld uit Mick te kry.

5. Die enigste mev. Jagger: Bianca Jagger

Twee maande voor sy oudste spruit, Karis, se geboorte het Mick op ’n partytjie die beeldskone Nicaraguaanse Bianca Pérez-Mora Macias ontmoet. Hulle het agt maande later, in Mei 1971, in St. Tropez in Frankryk afgehaak toe Bianca vier maande swanger was met hul dogter, Jade (46). Bianca (72) het agt jaar later van Mick geskei weens sy ontrouheid.

6. langste verhouding: Jerry Hall

Mick is 22 jaar lank romanties verbind met die Amerikaanse supermodel Jerry Hall (61), by wie hy vier kinders het. Sy het haar verloofde, die musikant Bryan Ferry (72), gelos nadat sy Mick in 1977 ontmoet het. Hulle het in 1990 op die Indonesiese eiland Bali in ’n Hindoe-seremonie afgehaak. Die “huwelik” het net nege jaar gehou en hulle is in 1999 uitmekaar. ’n Hof het later bevind hul huwelik was ongeldig omdat dit nie aan al die wetlike vereistes voldoen het nie.

7. Die toekomstige presidentsvrou: Carla Bruni

Mick en dié Italiaanse model (toe 23) het mekaar in die vroeë 1990’s ontmoet terwyl hy en Jerry nog “getroud” was. Sy het toe aan die rocker Eric Clapton se arm gepryk. Eric het Mick nog gesmeek: “Asseblief, Mick, nie dié een nie; ek dink ek is verlief,” skryf Christopher Andersen in sy boek Mick: The Wild Life and Mad Genius of Jagger. Maar binne dae het Mick sy meisie afgevry. Jerry het hiervan uitgevind en Mick voor ’n ultimatum gestel. Toe los hy Carla. “Ek het gedink ek sou nooit weer op iemand anders verlief raak nie,” sê die 49-jarige Carla. Maar sy het – op die Franse politikus Nicolas Sarkozy (62). En sy het boonop presidentsvrou geword.

8. Die Brasiliaan: Luciana Gimenez

Die laaste strooi vir Jerry was toe sy uitvind die Brasiliaanse model Luciana Gimenez (toe 29) is swanger met Mick se kind. Luciana (nou 48) het in Mei 1999 die lewe geskenk aan ’n seun, Lucas. DNS-toetse het later bevestig Mick is sy pa.

9. Die modeontwerper: L’Wren Scott

Die Amerikaanse modeontwerper het Mick in 2001 by ’n fotosessie in Parys ontmoet. Hulle was nog saam toe sy in Maart 2014 op 49 haar eie lewe neem in haar woonstel in Manhattan, New York, terwyl Mick op toer was. L’Wren was glo kniediep in die skuld.

10. Die ballerina: Melanie Hamrick

Mick het Melanie (nou 31) kort voor L’Wren se dood by ’n Stones-konsert in Tokio ontmoet. Sy het hom ná L’Wren se dood genader. Drie maande later is hulle saam op ’n hotelbalkon in Zürich gewaar. Sy beskou haarself steeds as sy “topmeisie”.

11. Sy jongste liefie: Noor Alfallah

Noor kom glo uit ’n skatryk familie. Sy woon nog by haar ouers in hul spoghuis in Beverly Hills. Die gesin is stralerjakkers van formaat en Noor hang gereeld saam met beroemdes uit. Sy is al saam met die akteur Charlie Sheen (52) afgeneem en in 2013 het dit uitgelek dat die koning van pop, wyle Michael Jackson, se oudste seun, Prince (20), toe met haar kleinsus, Remi Alfallah (20), uitgaan. Nou is Noor self aan die arm van ’n musiekikoon. “Sy het selfvertroue en pas goed in by die spogplekke waarheen hulle gaan,” sê ’n bron.

BRONNE: MIRROR.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, THESUN.CO.UK, ULTIMATECLASSICROCK.COM, TELEGRAPH.CO.UK, WIKIPEDIA.ORG, ROLLINGSTONE.COM, THEGUARDIAN.COM, W MAGAZINE

Foto's: Gallo Images/Getty Images; Facebook