Toe hy ná maande se harde werk skielik van die opspraakwekkende hof­saak wegstap, het die tonge geklap.

Want hoekom het Xander Bylsma se advokaat hom uit die bloute aan sy moord­verhoor onttrek? Was dit omdat hy iets weet wat die res van ons nie weet nie?

Nou, sowat drie maande nadat dié regsverteenwoordiger hom van die jong moordverdagte se saak verwyder het, kyk Niven Rai jou reguit in die oë en sê: “Ek glo in hom; ek glo hy is onskuldig.”

Hy het geen ander keuse gehad as om hom aan die saak te onttrek nie, sê Niven (40). Nadat daar “botsende belange” ontstaan het, was dit die “etiese ding” om te doen, verduidelik hy. Was dit nie daarvoor nie, sê hy, het hy Xander steeds in die hof verteenwoordig.

Adv. Niven Rai en die dubbele moordbeskul­digde Xa
Adv. Niven Rai en die dubbele moordbeskul­digde Xander Bylsma, hier by hom in die hooggeregshof in Mmabatho, het tydens sy moordverhoor ’n hegte band gevorm. Foto: Susan Cilliers

Xander (20) word daarvan beskuldig dat hy sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (16) in die oggendure van 26 Mei 2018 in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella in Noordwes dood­gewurg het.

Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough is in die meisies- koshuis van die Hoër­skool Stella vermoor

Daarna het hy na bewering Sharnelle se lyk aan die koshuistrap­reling gehang en Marna s’n in die bad­kamer agtergelaat om dit na selfdood te laat lyk.

Maar ondanks die bewerings en die staat se saak teen Xander – en die feit dat hul paaie geskei het – hou Niven vol die volle verhaal moet nog onthul word.

“Ons wat na aan Xander is, ken sy kant van die storie – dít wat die publiek nog nie weet nie,” sê hy.

En wat is dít? Dit mag Niven nog nie onthul nie.

“Hy het nog nie die kans gehad om dit (aan die hof) te vertel nie,” verduidelik hy.

En sal Xander se weergawe van die gebeure die land skok wanneer die verhoor hervat word en hy eindelik in die getuiebank verskyn?

“Ja,” sê Niven, “ek glo dit sal . . . ”

Dit was ’n gelaaide en emo­sionele oomblik toe die twee mekaar moes groet nadat Niven hom in Mei aan Xander se saak onttrek het.

Daar, in die selle onder die hooggeregshof in Mmabatho, het hulle mekaar omhels. Xander het gehuil; Niven ook.

Ons het gespot dat hy my sou leer jag nadat hy vrygespreek is. En dan sou ek hom leer kerrie maak.

“Xander het gesê ek is die broer wat hy nooit gehad het nie,” vertel Niven nou in ’n restaurant in Umhlanga, sy tuiste noord van Durban. Hulle het in die byna ses maande wat hy Xander verteenwoordig het ’n hegte band gevorm, sê hy.

“Ons het baie goed met mekaar klaargekom. Ek glo in hom. Ons het vriende geword. Ons het gespot dat hy my sou leer jag nadat hy vrygespreek is. En dan sou ek hom leer kerrie maak.”

Eerbiedig, saggeaard. Hy het nog ’n kinderlike kyk in sy oë.

Hy beskryf sy voormalige kliënt as ’n “sagte seun”.

“Ek moes al baie mense in my loopbaan oordeel. Maar dit wat ek in die media gelees het en die Xander wat ek ontmoet het, is wêrelde uitmekaar,” sê hy.

“Hier het jy die prentjie van ’n monster, ’n koelbloedige dubbele moordenaar, maar daar waar ek saam met hom is, is hy nog pure tiener. Eerbiedig, saggeaard. Hy het nog ’n kinderlike kyk in sy oë.

“Ek dink dís wat my hartsnare geroer het. Dit was baie hartseer.”

Dit was Desember verlede jaar toe Niven, ’n voormalige staatsaanklaer en landdros, onverwags ’n oproep kry. Dit was van die Noordwes-prokureur Moolman Wessels, wat toe pas deur Xander en sy familie as sy regverteenwoordiger aangestel is nadat sy eerste prokureur hom aan die saak onttrek het.

Xander se borgtogverhoor was op hande, en Moolman wou Niven as advokaat in die hof betrek.

Hoekom dan Niven, wat meer as 800 km van die Noordkus van KwaZulu-­Natal na Mmabatho vir die verhoor sou moes reis?

“Ek weet nie regtig nie,” sê hy.

“Ek was toevallig by ’n kapingsaak op Stella betrokke. Ek vermoed die verdagte was dalk saam met Xander in aanhouding en het hom van my vertel.”

Die kapingsaak is later teruggetrek.

Toe Niven die eerste keer vir Xander in die Rooigrond-gevangenis net buite Mahikeng besoek, het hy “drie kritieke vrae” aan hom gestel, sê hy.

“Hy het sonder om daaroor te dink my vrae beantwoord. Dit was vir my baie geloofwaardig. Ek het nie gehuiwer om sy saak te vat nie.”

Hy swyg oor wat dié vrae en antwoorde was.

Niven, ’n enkelpa, vertel hy het sy loopbaan in 2007 by die Regshulpraad as staatsprokureur begin. As jong man het hy fotostaatmasjiene herstel om vir sy deeltydse regstudie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal te betaal. Voor hy as advokaat begin praktiseer het, was hy ook drie jaar lank ’n landdros; voor dít sewe jaar lank ’n staatsaanklaer.

Niven, van Umhlanga, was voorheen ook ’n aanklaer
Niven, van Umhlanga, was voorheen ook ’n aanklaer en landdros.

“Ek was al aan alle kante. Ek is baie kieskeurig oor watter beskuldigdes ek verteenwoordig,” sê hy.

Om Xander te verteenwoordig het baie van Niven geverg. Vir hul menigte konsultasies moes hy telkens van Durban na Johannesburg vlieg en dan sowat 300 km ver met ’n gehuurde motor na die gevangenis buite Mahikeng ry.

“In die tronk kon ek hom net 40 minute op ’n slag in ’n groot kantoor tussen ander mense sien.”

Maar daar, terwyl hulle in gedempte stemme praat, het hy en die vermeende moordenaar in sy tronkoorpak mekaar gevind.

Na verneem word, word Xander se regskoste betaal deur sy pa, Monté, wat tans die Bylsma-familieplaas verkoop.

Niven wil hom nie hieroor uitlaat nie, maar sê oor die pa wat met elke verskyning vierkant agter sy seun in die hof staan: “Ek dink nie hy sal sy seun so ondersteun as hy nie in sy onskuld glo nie. Hy sou vir hom gesê het: ‘Wees ’n man,’ nie ‘Kom ek smeer dit vir jou toe’ nie. Nooit.”

“Hy vat dinge soos dit kom. Hy is nie iemand wat sy kop in sy hande laat sak nie.”

Oor Xander se hartgebroke ma, Mercia, sê hy: “Ek wil nie raai waardeur sy moes gaan nie. Maar ek dink dit het so goed ge­gaan as wat dit kan met haar seun wat deur twee moordklagte in die gesig gestaar word.”

Geen bewyse

Tydens Xander se mislukte borgtogaansoek verlede Oukersdag het Niven in die hof aangevoer daar is geen DNS of ander forensiese bewyse wat Xander met die moordtoneel verbind nie.

Hy het ook aangevoer Xander sou nie Sharnelle se lewelose liggaam oor die trapreling kon lig om van die tou om haar nek te hang nie.

Maar op 7 Maart – met die aanvang van ’n binneverhoor oor Xander se bekentenis aan die polisie – onttrek sy tweede prokureur, Moolman, hom toe aan die saak weens “botsende belange”.

Dit was nadat die staat ’n klank­opname van Xander se gesprek met die privaat speurder Chris Saunders in die hof ingedien het.

Monté het ’n nuwe prokureur in Moolman se plek aangestel en Niven het volhard en as advokaat aan Xander se sy gebly.

Maar op 15 Mei het Xander tydens kruisondervraging aan die staat onthul die privaat speurder was in die vertrek toe hy sy bekentenis aan die polisie gemaak het.

Die staatsaanklaer het Xander hieroor oor die kole gehaal. Hy het gevra hoekom die hof nie vroeër dié nuwe getuienis gehoor het toe die polisiebeampte wat die verklaring afgeneem het onder kruisondervraging was nie.

Xander sê toe hy het dit wel aan Niven genoem. Niven het hom daarna aan die saak onttrek, maar wil nie nou verder uitwei oor dié “botsende belange”, soos hy dit beskryf, nie.

Tog wys hy nie vinger na sy voormalige kliënt nie.

“Ek dink dit was meer ’n misverstand as enigiets anders,” sê hy bloot.

“Ek sal nie sê Xander het al ooit vir my gelieg nie,” voeg hy by.

Want ondanks die feit dat hy gevoel het hy kan sy kliënt nie meer in die hof verteenwoordig nie, beskou hy die jong Xander steeds as ’n vriend; iemand oor wie hy besorg bly.

“Ek sal altyd daar wees vir hom.”

Wat nou voorlê
Regter Ronald Hendricks sal op 5 en 6 September uitspraak lewer in die ­binneverhoor oor die toelaatbaarheid van die bekentenis en die uitwysings wat Xander aan die polisie gemaak het.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.