Sy hou haar oë eers neergeslaan wanneer sy vreemdelinge ontmoet, en in winkelsentrums vermy sy oogkontak. Tog kan Chantel Struwig aanvoel wanneer mense haar op straat aanstaar. Dan draai sy die ander wang – letterlik.

Want die donkerrooi, amper pers geboortevlek wat die mense twee keer laat kyk, is minder opvallend aan die regterkant van haar gesig. “Niemand weet regtig hoe om my te hanteer nie,” sê Chantel (18).

“My vriendinne sê altyd vir my hulle sien dit nie eens nie, maar ek weet hulle sien dit, want dit sal vir altyd daar wees.”

Met ons aankoms by haar ouerhuis in Doornpoort, Pretoria, ontvang sy ons eers skaam en kyk grondlangs. Toe sy haar kop lig, tref haar blink, blou oë jou en dis asof haar breë, vriendelike glimlag jou verblind. Eers wanneer jy daarby verbykyk, sien jy die geboortemerk oor die grootste deel van die pragtige meisie se gesig. Met dié merk het sy ’n liefde-haat-verhouding.

Chantel Struwig
Op Wêreldgeboortemerkbewustheidsdag in 2017 het sy besluit om haar merk vir die wêreld op Instagram te wys met blinkers daarop. Foto: Verskaf.

“Die Here kon nie net een skakering kies nie, toe seën hy my met twee,” het sy by ’n foto op haar Instagramblad oor die persrooi kleur daarvan geskryf. By nog ’n foto van haar wat uitbundig lag, is haar inskrywing ewe positief: “As jy jouself aanvaar, sal die wêreld jou aanvaar.”

Al probeer sy steeds in haar daaglikse lewe vreemdelinge se vraende oë ontwyk, wys Chantel dapper haar gesig in die sosiale media – met geboortevlek en al. Die besef dat daar ander soos sy op aarde is, laat haar genoeg moed daarvoor bymekaarskraap.

In die tyd rondom Wêreldgeboortemerkbewustheidsdag op 15 Mei 2017 het Chantel die Instagramprofiel van Paige Lauren Billiot, ’n Amerikaanse aktrise en rolprentmaker, ontdek.

Met ’n soortgelyke geboortevlek op haar gesig het Paige (nou 26) model gespeel vir haar eie veldtog, genaamd Flawless Affect, om mense te bemagtig wat met die een of ander “tekortkoming” saamleef, soos dit soms in die samelewing beskou word.

Chantel het op die plek besluit dis wat sy ook gaan doen: Sy gaan haar geboortemerk aanvaar, daarop trots wees en dit aan die wêreld wys. Sy het haar ma, Nicky (46), gevra om ’n fotosessie te reël.

Pleks van die merk te probeer wegsteek, het Chantel blinkers daarop aangebring en toe vir die kamera geglimlag. “Mense gaan in elk geval na my staar; daarom kan ek dit netsowel die moeite werd maak,” sê sy met ’n wip van haar lang, blonde hare.

Chantel Struwig
Op dié dag in 2018 het sy dit weer gedoen, dié keer met rooi buitelyne wat die merk omlyn. Foto: Verskaf.

Met Wêreldgeboortemerkbewustheidsdag verlede jaar was sy selfs dapperder. Toe het sy met haar ma se rooi lippotlood die buitelyne van die merk omlyn en foto’s hiervan met haar sowat 8 000 Instagramvolgelinge gedeel. Onder hulle tel bekendes soos die akteurs Ruan Wessels en Crystal-Donna Roberts.

Uit die oorweldigende reaksie op die foto’s kon Chantel aflei mense hou eintlik van haar “andersheid”. Tog erken sy dis nie maklik om dag vir dag daarmee saam te leef nie. Maar selfs al beleef sy ’n slegte dag, probeer sy positief bly.

“As ek hierdeur kan kom,” beduie sy met ’n handbeweging in die rigting van die geboortemerk, “help ek ander mense om te sien hulle kan ’n paar puisies oorkom.”

Nog voor sy kon kruip, loop of praat, het vreemdelinge tussen winkelrakke haar ma gevra hoekom sy nie Chantel soos “ander soortgelyke kinders” by die huis hou nie.

Te midde van die verwarring en onsekerheid nadat die jongste van haar twee dogters met ’n wynrooi vlek aan haar gesig gebore is, het sy self met vrae geworstel soos: “Wat moet ek nou doen? Moet ek hierdie kind wegsteek of wys ek haar vir die wêreld?” erken Nicky.

Sy bly ’n oomblik lank stil toe sy terugdink aan die oomblik toe sy Chantel die eerste keer vasgehou het. Toe sy die merk op haar pasgebore baba se gesiggie sien, was haar eerste gedagte of sy dalk tydens haar swangerskap iets verkeerds gedoen het. Chantel se ousus, Nicole (nou 24), is dan nie met so ’n merk gebore nie.

Die dokters het vermoed die vlek kan ’n teken van Sturge-Weber-sindroom wees, ’n seldsame toestand wat tot epilepsie kan lei, en dit het Nicky verder ontstel. Maar ná vele doktersbesoeke is daardie moontlikheid uitgeskakel.

Die besluit of sy haar kleinding sou wegsteek of nie was op die ou end glad nie moeilik nie. “Ek het haar oral saam met my geneem; ek wou haar vir die wêreld wys,” vertel Nicky, wat vir die Suid-Afrikaanse Weermag werk, en glimlag trots. “Ek dink as my ma my weggesteek het, was ek nie die persoon wat ek vandag is nie,” sê Chantel en glimlag terug.

Wanneer dié twee saam inkopies doen en mense staar haar dogter aan, skop Nicky se moedersinstink opnuut in. “Sy gee hulle daardie regte kwaai ma-kyk,” sê Chantel. En as haar ma nie by is nie, vat haar skoolmaats se ouers enige nuuskieriges op dieselfde wyse kort. “Almal is beskermend oor haar,” vertel Nicky. “Wanneer ek dit sien, gee dit my moed.”

Van jongs af het Chantel laser- en infrarooibehandeling ontvang om die merk te verwyder of ligter te maak, maar vergeefs. Sy het ook chemoterapie ondergaan vir haar lip wat geswel het.

“Ek moes in ’n stadium die eerste Saterdag van elke maand in die hospitaal opgeneem word, onder narkose gesit word, en dan is chemo in my lip ingespuit. Dit was vir my baie erg,” vertel sy van die behandeling wat sy as 14-jarige ontvang het.

View this post on Instagram

Ander: “jy lyk soos ‘n graad een” Ek: “ya”

A post shared by C.J.S. (@chantelstruwig) on

“Die chemoterapie wat Chantel ontvang het, is dieselfde as vir kankerpasiënte. Dit het die selle in die liparea verminder in die hoop dat die lip minder sou swel,” verduidelik Nicky. Dit het geel blase op haar onderlip laat vorm en haar so siek laat voel dat sy soms weke lank uit die skool moes bly.

Ná twee jaar van chemoterapie vir haar lip het Chantel besluit om nie meer daarmee voort te gaan nie. “Ons het opgehou met die chemo, want Chantel het skool te veel misgeloop,” sê Nicky.

Al het Chantel nog nie volkome die merk op haar gesig aanvaar nie, het dit op ’n manier al deel van haar geword. Vir ’n onlangse bal by die Afrikaanse Hoër Meisieskool, waar sy vanjaar in matriek is, het sy die geboortevlek onder grimering weggesteek.

Sy het gedink dit sou haar mooier laat voel, maar sy erken: “Ek het dit gehaat. Ek het besef ek hou glad nie van hoe ek met grimering lyk nie. Baie mense het my al gevra of ek op die matriekafskeid vanjaar grimering sal dra, maar ek weier.”

Tog kom die gedagte soms by haar op: “Hoekom ek?” Dan worstel sy met vrae oor hoekom juis sy gekies is om die merk te dra en die uitdagings wat dit meebring dag vir dag aan te pak – of “stappie vir stappie”, soos sy sê.

View this post on Instagram

A pop of individuality.

A post shared by C.J.S. (@chantelstruwig) on

Deur die jare het die kyke nie minder geword nie, en dit het ook nie makliker geword om dit te hanteer nie. “Dis moeilik,” erken sy, en haar glimlag verdwyn die eerste keer sedert sy in ons geselskap tuis geword het.

“Ek voel dis iets waarmee ek op my eie moes vrede maak, want al sê mense soms vir my ek is mooi of ek moenie toelaat dat die merk my onderkry nie, is ek op die ou end die mens wat dit moet glo.”

Sy glimlag weer skaam en kyk na haar hande. Daar is dinge wat sy graag nes enige ander tiener sou wou doen, soos om deeltyds as kelner te werk sonder dat mense snaaks na haar kyk of ongemaklik raak wanneer sy hul kos aandra.

Mense is soms wreed, vertel sy. Onlangs het ’n vreemde meisie kommentaar op een van Chantel se foto’s op Instagram gelewer: “Dit lyk asof jy bloed gedrink het, maar gelukkig is jy seker oulik.”

Sy glo nie in ’n oog vir ’n oog nie. “Ek het nie tyd vir sulke negatiwiteit in my lewe nie. Ek gebruik eerder vriendelikheid as ’n wapen,” sê Chantel, wat graag ná matriek ’n kursus in modeontwerp wil volg.

Toe sy vir Huisgenoot se fotograaf poseer, blink haar blou oë weer en sy lag gemaklik voor die kamera; net ’n pragtige tienermeisie op soek na haar plekkie in die son.

Ekstra bronne: Self.com, Epilepsy.org.uk