Babita Deokaran, ’n amptenaar in die Gautengse ges
Babita Deokaran, ’n amptenaar in die Gautengse gesondheidsdepartement, was ’n sleutelgetuie in ’n tenderbedrogskandaal en is doodgeskiet. Foto: Facebook.

Sy was die soort vrou wat haarself sou verontrief om ander by te staan; die soort mens wat enigiets vir haar naastes sou doen.

Toe haar ouer broer en sy vrou ’n paar weke gelede siek word met covid-19, het Babita Deokaran hulle genooi om by háár huis te kom isoleer. 

Daar was niemand anders om na ouboet Sunil en sy vrou om te sien nie, het Babita gedink. Sy het meer as genoeg plek tuis gehad en het daarop aangedring om hulle te ondersteun terwyl hulle teen die siekte baklei. 

Maar ’n dubbele tragedie het ná daardie liefdesdaad afgespeel. En op ’n wrede manier het albei tragiese sterftes met die pandemie verband gehou, maar op verskillende maniere.

Want Sunil het sy stryd teen covid-19 verloor, en nou, net weke later, is sy suster ook weg – afgemaai in ’n wrede moord wat skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur het. 

Babita was die 53-jarige direkteur van finansies by die departement van gesondheid in Gauteng en ’n sleutelgetuie wat die spesiale onder­soekeenheid bygestaan het in hul ondersoek na bedrog van R330 miljoen met die aanskaf van persoonlike be­skermende toerusting. Dié toerusting moes gebruik word om mense toe te rus terwyl hulle werk om die pandemie hok te slaan. 

Die koeëls wat vir Babita bestem was, het uit die bloute gekom.

’n Doodgewone rit skool toe op daardie Maandagoggend op 23 Augustus het vir Babita en haar tienerdogter nes enige ander dag begin. Min het die twee, wat ’n hegte verhouding gehad het, geweet hul oggendgeselsie in die verkeer en daardie afskeid sou hul laaste wees.

Die enkelma is met haar tuiskoms kort ná agtuur buite haar woonkompleks in Winchester Hills, Johannesburg, doodgeskiet nadat ’n vlaag koeëls op haar grys Mercedes-Benz afgevuur is.

Sy is in haar kar afgemaai.
Sy is in haar kar afgemaai. Foto: Shiraaz Mohamed/Daily Maverick.

Dit was op die oog af ’n kapingspoging, maar geen van haar persoonlike besittings is daarna uit die motor gesteel nie. 

Nou blyk dit dit was ’n weldeurdagte moordplan en dat haar moordenaars haar meer as ’n maand lank fyn dopgehou het. 

Terwyl sy nog in rou was oor die dood van haar broer weens covid, was die mense wat háár wou laat boet vir haar besluit om pandemieverwante bedrog oop te vlek, besig om haar laaste dag te beplan.

Haar liefdevolle gebaar teenoor haar broer was kenmerkend van die soort vrou wat Babita was, sê haar familie.

“Ja, dit was ’n risiko vir haar en haar dogter – baie mense sou dalk nie dieselfde gedoen het nie uit vrees dat hulle sou siek word,” sê Tony Haripersadh, Babita se swaer en die familiewoordvoerder.

“Maar dit was die soort onbaatsugtige mens wat sy was. Sy wou nooit hê enigeen moes ly nie en was nooit iemand wat van verantwoordelikheid wegskram nie.”

Sy was net so toegewyd aan haar familie soos wat sy aan haar werk was.

Dapper Babita – of Batha en Babs soos haar naasbestaandes haar genoem het – word nou onthou vir hoe toegewyd sy was daaraan om die regte ding te doen. 

Sy het jare lank in Johannesburg gewerk en aan haar loopbaan gebou, maar Babita se wortels lê aan die ooskus van die land. Sy het as een van agt kinders in Durban grootgeword, en sy en haar broers en susters was onafskeidbaar. 

“Ons is ’n hegte familie,” sê haar broer Rakesh. Hy en sy suster Shamilla en Tony deel vandag met Huisgenoot hul herinneringe van die dapper vrou wat in Augustus hoofopskrifte gehaal het. 

“Ons het gelukkige kinderjare gehad en daar is net goeie herinneringe,” sê Rakesh. “Sy was ’n pragtige, opgewekte baba wat nie net ons hart gesteel het nie; sy was ook die uitgebreide familie se oogappel. Haar glimlag was aansteeklik.

“Ons suster was lief vir lees en reis en kosmaak – jy het haar altyd in die kombuis aangetref.”

Babita is buite haar woonkompleks in Winchester Hi
Babita is buite haar woonkompleks in Winchester Hills, Johannesburg, doodgeskiet. Foto: Shiraaz Mohamed/Daily Maverick.

Sy het hard gewerk. Nadat sy in 1987 gematrikuleer het, het sy as tydelike werker by die departement van gesondheid gewerk en net ’n paar rand verdien.

“Nadat sy hooggeplaaste beamptes binne ’n paar maande met haar werksetiek beïndruk het, is sy na die parlement in Kaapstad om as persoonlike assistent vir die destydse uitvoerende direkteur van onderwys te werk,” sê Tony.

“Sy het kort daarna ’n permanente pos losgeslaan by die raad van afgevaardigdes, en sy het gevorder tot een van die hoogste posisies wat enige vrou nog daar bereik het.”

Babita Deokaran word nou as “heldin en patriot” on
Babita Deokaran word nou as “heldin en patriot” onthou. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Babita het ’n passie vir syfers en boekhouding gehad en het die loopbaanleer by die departement geklim. Sy het by Unisa studeer en ’n graad in plaaslikeregeringsfinansies behaal.

“Sy was ’n ywerige akademikus wat altyd na uitmuntendheid gestreef het,” sê Rakesh. “Sy was versot op lees.”

Sy was net so toegewyd aan haar familie soos aan haar werk. Sy was die tannie wat dikwels vertel het van haar liefde vir bak en het gereeld kookwenke met haar broers- en susterskinders gedeel.

Babita (voor) en haar sibbes. Agter van links is S
Babita (voor) en haar sibbes. Agter van links is Shamilla Haripersadh, Sunil, Meera en Rakesh Deokaran. Tweede ry van links is Shaleen Ramgulam, Soorash Deokaran en Renu Williams. Foto: Facebook.

Sy was die suster wat video-oproepe gemaak het  om soos ’n “moederhen” te hoor hoe dit met haar broers en susters gaan.

Sy het geleef vir haar dogter, sê haar familie, en sy was vasbeslote om haar waardes aan haar kind oor te dra. 

“Haar wêreld het om haar 15-jarige gewentel” sê Tony. “Sy sou alles uithaal om haar gelukkig te maak en haar te laat glimlag.”

Sy het daarvan gehou om ander te laat lag, sê hy. “Ons het mooi herinneringe van familievakansies en spesiale tye waar ons onbeheers saam met Babita lag. Sy was soort van die gom wat die familie bymekaargehou het – iemand na wie almal kon gaan.”

Rakesh beaam dit. “Haar borrelende geaardheid het lig en lewe na ’n vertrek vol mense gebring.”

Sy het ’n ongelooflike nalatenskap, sê haar geliefdes. 

Dapper Babita word nou onthou vir hoe toegewyd sy
Dapper Babita word nou onthou vir hoe toegewyd sy was daaraan om die regte ding te doen. Foto: Facebook.

“Babita was ’n merkwaardige vrou. Ma, suster, dogter. Sy het na almal omgesien. Ongeag hoe besig sy was, sy was altyd daar vir haar geliefdes.”

Die moord op Babita het die land geruk. Pres. Cyril Ramaphosa het in sy nuusbrief daarna verwys en haar ’n “heldin en patriot” genoem.

Sy was een van sowat 300 getuies in die tenderondersoek, maar sy het nooit direkte doodsdreigemente aan haar familie genoem nie. 

’n Week ná haar moord is sewe verdagtes – wat na bewering elkeen R400 000 betaal is om die moord uit te voer – in hegtenis geneem en het hulle in die landdroshof in Johannesburg verskyn. 

’n Inwoner by die kompleks waar sy vermoor is, het beeldmateriaal gedeel waarin ’n wit BMW en dié se nommerplaat sigbaar is, het die Sunday Times berig. Dit het tot ’n deurbraak gelei. 

“Dit is belangrik dat dié wat die opdrag vir Babita se moord gegee het – ongeag wie hulle is of watter mag hulle het – daarvoor boet,” het die Ahmed Kathrada­stigting in ’n verklaring gesê en beter beskerming gevra vir fluitjieblasers wat die sluier oor bedrog of korrupsie lig.

Haar kollegas onthou haar as ’n beginselvaste vrou.

“Sy was ’n eerlike, toegewyde staatsamptenaar en leermeester,” het Refilwe Mafolo op ’n Facebook-herdenkingsblad vir Babita geskryf.

“Sy het geglo in my potensiaal, en sy was baie lief vir boekhouding en ’n uitstekende mentor. Sy was dapper en het haar man gestaan. Haar dood sal ’n voorbeeld wees van die etiese, korrupsievrye leiers wat ons eens gehad het.”

Babita se familie ondersteun haar dogter deur die moeilike tyd, nes sy vir hulle sou doen. Haar naam sal altyd sinoniem wees met dapperheid en vreesloosheid, sê hulle. En hulle sal bly baklei tot geregtigheid geskied.

“Dit is nie net ’n geveg vir Babita nie, dis ’n geveg vir alle fluitjieblasers,” sê Tony. “Ons wil hê alle fluitjieblasers moet veilig wees en beskerm word.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe