Verbeel jou jy gaan hospitaal toe om te kraam en jy kom huis toe met ’n nuwe long. Die laaste ding wat Mbali Mbatha (27) voorsien het toe sy vir haar dogter se geboorte hospitaal toe is, was dat sy mediese geskiedenis sou maak. Sy het senuagtig gewag dat hulle haar in die saal instoot vir ’n keisersnee.

Mbali is die eerste covid-19- pasiënt in Afrika wa
Mbali is die eerste covid-19- pasiënt in Afrika wat ’n long­oorplanting gekry het. Foto: Verskaf

Die feit dat sy pas van covid-19 herstel het, het die situasie senutergender gemaak. Maar die blydskapstrane was vlak toe haar dogtertjie haar opwagting maak. En daar eindig Mbali se herinneringe.

Die volgende wat sy onthou, is dat sy bygekom het – verward, want sy het nie die vertrek herken nie.

Min het sy toe besef twee maande het verloop en in dié tyd het sy Afrika se eerste begunstigde in ’n covidverwante longoorplanting geword. In November verlede jaar het sy covid- 19 opgedoen toe sy hoogswanger was.

Sy is hospitaal toe nadat sy gesukkel het om asem te kry, en daar het dokters gesê sy moet dadelik ’n keisersnee ondergaan.

“As ek vanself moes kraam terwyl ek nie asem kon kry nie, sou die gevaar te groot wees,” vertel Mbali vandag.

“Ek is ’n minuut gegee om my man te bel, en daarna is ek in die operasiesaal ingestoot.”

Aanvanklik het die prosedure glad verloop. Sy was selfs wakker toe haar baba haar eerste lewenslig aanskou.

Maar minute later het die suurstoftekort te erg geraak, en sy het haar bewussyn verloor. Dokters het haar in ’n geïnduseerde koma geplaas om haar lewe te red.

Haar man, Sizwe Mthiyane (37), ’n pastoor, sê nadat hul baba gebore is, het hy sy vrou elke dag in die hospitaal besoek.

“Dagin en daguit het ek Mbali daar sien lê, met geen aanduiding van herstel nie.”

Dr. Paul Williams by Mbali Mbatha. Foto: Verskaf
Dr. Paul Williams by Mbali Mbatha. Foto: Verskaf

Die ouerpaar, wat in 2016 getroud is, het na ’n natuurlike geboorte uitgesien en was taamlik teleurgesteld toe hulle hoor sy moet ’n keisersnee kry.

Mbali, ’n voormalige kantoorbestuurder, vertel sy het Sizwe dadelik gebel nadat sy die nuus gekry het dat die baba op pad is.

“Hy het my gerusgestel dat dit belangrik is om die baba veilig gebore te kry, maar ek was alleen, bang en verpletterd.”

Die volgende wat Sizwe van sy vrou verneem het, was dat sy ná die geboorte in ’n koma was en aan ’n asemhalingsmasjien in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg gekoppel is.

“Mbali het teen daardie tyd van covid herstel, maar haar long het nie herstel nie,” sê dr. Paul Williams, ’n pulmonoloog.

“Een van die komplikasies van die virus is dat dit longe soms onherstelbaar beskadig. In Mbali se geval was die skade so ernstig dat sy ’n skenkerlong nodig gehad het om te oorleef.”

Een week nadat Mbali op die waglys geplaas is, was ’n skenkerlong beskikbaar.

“Ek is ingelig die operasie kon plaasvind, maar die dokters kon nie die sukses daarvan waarborg nie,” vertel Sizwe.

Twee maande nadat sy gekraam het, is Mbali eindeli
Twee maande nadat sy gekraam het, is Mbali eindelik met haar man, Sizwe, en hul babadogtertjie, Kuhle, herenig. Foto: Verskaf

“Ek onthou die eerste dag dat ek Mbali in ’n koma gesien het,” sê hy.

“Ek het gesê: ‘Jy is die siekste mens wat ek al ooit gesien het, maar jy sal ook die grootste wonderwerk wees wat ek nog aanskou het. Ons gaan saam uit hierdie hospitaal stap.’”

’n Wonderwerk het hulle toe wel gekry. “Die longoorplanting was nie net suksesvol nie; dit was verstommend,” sê Paul.

Vir ’n ontvanger om binne dae ’n geskikte orgaan te kry is reeds ongewoon. Maar Mbali se operasie het ook van haar die eerste covid-19-pasiënt in Afrika gemaak wat ’n longoorplanting gekry het.

Die nuwe ma was nog bewusteloos toe haar dogtertjie, Kuhle, 36 dae ná haar geboorte uit die hospitaal ontslaan is om by die huis deur haar ouma Christine Mbatha versorg te word.

Op 30 Maart is Mbali ontslaan en kon sy haar dogtertjie eindelik die eerste keer tuis vashou. Mbali moet medikasie drink om te keer dat haar lyf die nuwe orgaan verwerp, maar sy is gek daaroor om ’n ma te wees.

“Om tyd saam met my dogter deur te bring is van onskatbare waarde. Ek aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.