Dié gratis Afrikaanse nuusapp verander ’n leser in ’n videoredakteur – en goeie video’s kan lei tot roem en rykdom.

Hierdie verandering aan die app bied ’n heeel nuwe faset aan die reeds gewilde “rolnuus”-konsep wat ’n mens op die hoogte bring van die jongste nuus deur kort opsommings van nuusgebeure vir die leser te bied.

“Natuurlik verwag ons video’s van lesers wat belangrike nuusgebeure afneem, soos wanneer daar vloede in Gauteng is, hael die Vrystaat tref of verkeersopeenhopings van kilometers lank motoriste oor ’n langnaweek warm onder die kraag kry,” sê MJ Lourens, redakteur van NetNuus.

“Maar wat ons eintlik graag wil sien, is dat ons lesers hul talent met ons deel.” 

MJ meen dat dit is hoe mense op sosiale media bekendheid verwerf. “Jy is dalk ’n boffin met grimering; jy het nuttige wenke om iemand se lewe makliker te maak of dalk kan jy iets buitengewoons doen? Dít is die soort video wat ons graag wil sien.”

Foto: Verskaf.

Dit is ’n eerste in die nuuslandskap in Suid-Afrika, sê Andreij Horn, uitvoerende hoof van 24.com.

“Suid-Afrikaners het die unieke kenmerk om swaarkry met lekkerkry klaar te kry. Hulle sien blitsvinnig die humor in bykans enige situasie raak. Met dié projek bied NetNuus nou aan sy lesers die geleentheid om video in te span om skeppend deel te word van die nuusstroom.”

NetNuus is beskikbaar vir Android- en iOS-toestelle in die onderskeie app-winkels.

Laai die NetNuus-app nou af.

Pryse en toekomstige projekte

Nie net is daar in April en Mei weekliks R1 000 op die spel vir die gewildste video nie; daar gaan ook  opwindende kitskompetisies gehou word – en op langtermyn is daar sommer groot planne vir dié projek.

“Ons wil later vanjaar ’n veldtog begin saam met Media24 se Afrikaanse tydskrifte om Afrikaanse talent te ontgin. Wenners wat gekies word uit dié veldtogte, kan groot prysgeld wen,” sê MJ.