Die fliek het reeds meer as R1 miljoen by die loket verdien en is al deur ongeveer 23 000 mense gesien. 

“Ek is uit die veld geslaan deur die groot kykersgetalle. Plekke soos die Paarl en Garden Route was heelnaweek uitverkoop. Boonop is ek dankbaar vir die pragtige verering onder resensente,” sê die regisseur, Corné van Rooyen. 

Vaselinetjie is gegrond op Anoeschka von Meck se bekroonde jeugroman en het op Vrydag 22 September in teaters begin wys. 

Die rolprent is vroeër vanjaar as die beste rolprent by die kykNET-Silwerskermfees van 2017 aangewys, en Marguerite van Eeden, wat die rol van ’n ouer Vaselinetjie vertolk, het ook spesiale vermelding vir haar spel ontvang.

Vaselinetjie raak aan talle temas maar is primêr ’n film oor die soeke na identiteit wat elke jongmens ken.

Die fliek gaan oor Vaselinetjie, ’n wit dogtertjie wat deur haar liefdevolle bruin grootouers op ’n afgeleë dorpie in die Noord-Kaap grootgemaak word.

Maar toe die welsyn uitvind Vaselinetjie is nie die egpaar se biologiese kleinkind nie, word sy na ’n staatsweeshuis in Johannesburg gestuur. Daar moet sy aanpas in die rowwe wêreld van ’n kinderhuis, omring deur ander karakters wat ook wroeg met ’n soeke na aanvaarding.  

In die proses raak sy verlief op die Texan Kirby, ’n jong man wat ook spook om uit te vind waar hy hoort.

Vaselinetjie raak aan talle temas, maar is primêr ’n fliek oor die soeke na identiteit wat elke jong mens ken.

Die fliek maak nooit staat op melodrama om die kyker te skok nie. Dit vertel die verhaal met dieselfde rou eerlikheid wat rolprente soos Noem My Skollie en Dis Ek, Anna so treffend maak. 

Visueel kan die fliek beskryf word as eenvoudig en elegant. 

Dit spring byvoorbeeld nie rond tussen verskeie tydlyne soos baie flieks vandag doen nie. Die vertelling is ekonomies en die spel so oortuigend dat dit nooit nodig is om slim truuks uit te haal nie.    

Dit is wel pragtig geskiet met omtrent elke toneel wat lyk asof dit ’n foto uit die blaaie van ’n ou National Geographic kon wees, en ’n buitengewone mooi klankbaan speel ook subtiel met jou emosies. 

Die fliek het wel nog ’n lang pad om te gaan as dit hoop om van die Afrikaanse topverkopers, almal romantiese komedies, by die plaaslike loket in te haal.  

Heel bo sit Ivan Botha en Donnalee Roberts se Vir Altyd met R15,6 miljoen gevolg deur Pad Na Jou Hart met R11,6 miljoen, Semi-Soet met R9,6 miljoen en Vir die Voëls met R8,5 miljoen.

Stem nou aanlyn en jy staan ’n kans ’n idilliese eilandvakansie in die Maledive wen.