“Ek het nog nie volkome herstel nie,” sê die blues-rocker Piet Botha (62). 

“My bewegings word steeds bemoeilik, maar ek kon hierdie week vir die eerste keer op ’n vliegtuig klim en in Bloemfontein op ’n verhoog staan.”

Vroeër het Piet in die Kaap klein optredes gedoen, maar hoofsaaklik gesit en speel.

Die veteraan-rocker het vroeër in 2017 by ’n konsert op Margate in KwaZulu-Natal drie van die werwels in sy lae rug gebreek. Hy het meer as ’n week in die hospitaal deurgebring en ’n rugoperasie ondergaan.

“Ek kyk nou permanent waar ek loop en is ingestel op die kabels op die verhoog. Ek het baie groot geskrik en is nou tentatief ingestel om nie weer te struikel of val nie,” sê hy.

Tog gaan die seun van die voormalige minister van buitelandse sake Pik Botha se kitaar nie gou ophou huil nie.

“Ons werk klaar aan nuwe songs,” verklap hy.

“Baie lekker songs. Ons wil in Januarie ’n huis op Jeffreysbaai uitboek en dit daar opneem.

“Dit is ’n lang herstelproses en sal nog ’n paar maande vat voor ek myself weer volkome kan geniet op die verhoog, maar ek voel klaar weer fighting fit,” sê hy.