Pieter is dankbaar dat sy vrou en dogtertjie gesond is en daar geen komplikasies met die geboorte was nie, vertel hy.

Vandag is daar ’n nuwe lied in Pieter se hart nadat hy Donderdagaand sy en sy vrou, Lanie, se dogtertjie kon vashou. Hy vertel hy het gehuil toe die verpleegpersoneel die kleine Emily Lea vir hom gee om vas te hou terwyl die naelstring geknip word. Sy weeg 2,9 kg en is 51 cm lank.

Maar hy was amper te laat vir hierdie groot gebeurtenis . . .

Hulle wou normaal die lewe skenk, "soos God dit bestem het", vertel die sanger wie se enkelsnit My Harlekyn nou op die treffersparades boer.

Hoewel Lanie Woensdagaand reeds in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem is, het hulle nie werklik geweet wanneer die kleinding haar opwagting gaan maak nie. Nadat Pieter Donderdag langs Lanie se hospitaalbed was, is hy die middag gou na hul huis toe.

Dit was ongeveer 18:00 Donderdagaand toe sy hom bel nadat sy 18 uur in kraam was. Al wat sy kon uitkry, was "kom". In daardie stadium is sy na die teater geneem.

"Toe spring ek in my kar en jaag die 4 km na ons huis soos ’n blits," vertel hy aan Huisgenoot. "Toe ek by die teater instap, is ek net betyds om te sien hoe sy gebore word."

Maar pappa Pieter kan nie die naweek saam met Lanie en Emily deurbring nie, want vanaand tree hy in Mokopane in Limpopo op, en môreaand in Jacobsdal in die Vrystaat.

Lanie en Pieter tydens die swangerskap.