Juliana Coetzer
Juliana Coetzer. Foto: Verskaf

Juliana Coetzer, ’n sielkundige, vertel in haar topverkoperboeke die verhaal van haar en haar man, Fanus, se jongste kind en enigste dogter, Anneke, wat enkefalitis opgedoen het nadat die waterpokkievirus haar brein binnegedring het en haar agteruitgang daarna.

Bloedvreemd het in 2015 en Die kind se naam is Anneke het vroeër vanjaar verskyn. Hierin beskryf Juliana die uitdagings en uitwerking van Anneke se gestremdheid en die gesin se stryd om aanvaarding met ’n rou eerlikheid.

In 2000 het sy en Fanus uit desperaatheid met Anneke na Lagos, Nigerië, gevlieg om by pastoor TB Joshua se nedersetting gesond te word. "Sy is nie gesond gemaak nie, maar ons het heling gevind," vertel Juliana aan Huisgenoot. "Niemand wat saam met ons daar was, het gesond geword nie," erken sy. "Maar die atmosfeer van omgee en liefde het soos ’n wolk daar gehang," onthou sy.

Die TV-evangelis en stigter en leier van die Synagogue Church of All Nations is onlangs op pad na ’n hospitaal in Lagos dood, luidens berigte. Hy is enkele dae voor sy 58ste verjaardag oorlede. Hoewel die oorsaak van sy dood nog nie bekend is nie, word daar beweer dat hy voor sy dood twee dae lank siek was en dat dié siekte met covid-19 verband gehou het.

Hy was bekend vir sy kerkdienste wat in Lagos opgeneem is en waarin hy voorspellings oor wêreldgebeure, politiek en die ekonomie gemaak het. Hy het ook ’n groot aanhang in Suid-Afrika en daar is verskeie van sy kerke oor die land. Gemeentelede het dikwels na Nigerië gereis om sy dienste by te woon.

tb joshua
TB Joshua het skielik gesterf. Foto: Pius Utomi Ekpei/Gallo Images

Onder sy volgelinge is die EFF-leier, Julius Malema, wat Joshua in 2013 in Lagos besoek het kort nadat hy die EFF gestig het om sy seën en raad te vra. 

Die oud-Springbokrugbyspeler Ruben Kruger het hom ook in 2000 – nes die Coetzer-gesin – in Lagos besoek sodat hy vir hom kon bid nadat breinkanker op 30-jarige ouderdom by hom gediagnoseer is. Kruger is in 2010 dood. Ander Springbokke soos Jaco van der Westhuyzen en Wium Basson het hom ook besoek. 

Nes hulle het Juliana en Fanus gehoop vir verlossing van die siekte en pyn. Dit is nou 23 jaar sedert Anneke siek geword het en Die kind se naam is Anneke vertel van haar latere agteruitgang. Anneke was 13 toe hulle Lagos toe is.
TB Joshua is dood. Foto: Facebook/TB Joshua Minist
Die TV-evangelis TB Joshua is onlangs dood. Foto: Facebook/TB Joshua Ministries

"Mense aanlyn vertel hy is ’n fraud en dat dit goed is dat hy dood is. Maar vir ons was die besoek 10 jaar gelede ’n waardevolle ervaring. Ons het absolute liefde en ondersteuning ervaar en sal dit nooit vergeet nie. Hy het baie hoop gebring vanuit Nigerië," vertel Juliana.

Sy het gehoor van toere van R25 000 wat deesdae Lagos toe gegaan het om die pastoor te ontmoet.

"Ons het in 2000 niks betaal nie," sê sy. Die week daar het hulle ’n "ontsettende sterk ondersteuningsnetwerk" bygekry. "Al het ons kind nie gesond geword nie, het ons gesond geword," voeg sy by.

Fanus en Juliana in die kombuis. Die egpaar kies o
Fanus en Juliana in die kombuis tydens 'Huisgenoot' se onderhoud in Maart. Foto: Gallo Images/Misha Jordaan

"Ons het wonderlike mense van reg oor die wêreld ontmoet. Die vrou wat die regterhand van die pastoor was, het soos ’n suster vir my gevoel. Ek was nie baie godsdienstig toe ons gegaan het nie, maar die boodskap was duidelik dat Jesus die enigste weg is.

"Ek weet nie wat nou gaan gebeur nie. Daar was vier junior profete toe ons daar was. Een van hulle sal seker oorneem."

Juliana teken haar boek. Foto: Verskaf
Juliana teken haar boek. Foto: Verskaf
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe