Die inskrywing op Annie Klopper se Facebook-blad.
Die inskrywing op Annie Klopper se Facebook-blad.

"Ek bevind my in die vlamme van ’n vreemde hel. ’n Bisarre, bose onderwêreld geskep deur hoogs irriterende, naïewe Duitse kinders en ’n onverklaarbare mistaken identity,” vertel Annie op haar Facebook-blad. Sy smeek om tegniese hulp om alle nommers van daai geweste in Europa te blok.

"As nuwe ma, maak dit my baie bekommerd dat hierdie kinders hulself so in gevaar stel," vertel Annie aan Huisgenoot. "Sê nou net ek was ’n sexual predator wat hulle so kon lok?" Sy hoop dit kan ouers se oë laat oopgaan oor wat kan gebeur as hul kinders by die verkeerde plekke uitkom.

"’n Paar maande gelede begin ek absurde oproepe ontvang - almal van Duitse nommers," skryf sy op Facebook. "Aanvanklik het ek dit geïgnoreer, gedink dis blote toeval, ’n fout. Maar toe raak die oproepe meer gereeld, meer ontydig, en rol die Facetime-versoeke en bisarre Whatsapp-boodskappe in - ook vanaf Oostenryk en Switserland. 

"En dis almal van kinders, pre-teens, irriterende tweenies. En hulle stuur vir my die weirdste s***: video’s van hulle wat dans, zap-signs, daar was selfs 'n doodsdreigement in die vorm van emojis. En natuurlik daai Momo-besigheid.

"En dit raak net erger. Elke dag moet ek hordes nommers blok. Hulle bel my op die k**ste tye moontlik: gewoonlik net wanneer ek besig is om my huilende baba op die bors te sit, of wanneer ek net aan die slaap geraak het ná ’n moeilike nag van nappy-patrollie."

Annie Klopper
Annie Klopper (Foto: Retha Ferguson)

Selfs haar vier maande oue seuntjie, Jax, en haar man, Jaco “Pilot” de Wet, moet dit ongeld. "Selfs in die hospitaal terwyl ek besig was om te kraam, het die oproepe ingestroom,” vertel Annie aan Huisgenoot.

Jaco was pas in Singapoer as deel van die tegniese span van die verhoogproduksie Matilda – The Musical. "Dan was ons besig om op Facetime te gesels en dan word ons heeltyd onderbreek deur oproepe en WhatsApps wat inkom," vertel sy moedeloos.

Teen hierdie tyd kon sy vasstel uit ’n gesprek met een van die "tweenies met behulp van my gebroke Duits en Google Translate" dat iemand iewers op die internet haar nommer gedeel het as die kontaknommer van ’n Duitse YouTube-sensasie genaamd Rebekah Wing, wat byna 2 miljoen getroue kindervolgelinge het.

Op Rebekah se YouTube-kanaal deel sy videos waarin sy opdragte kry van ’n duistere karakter met ’n masker aan, die Game Master. Die ou laat allerhande leidrade vir Rebekah en haar volgers om kamma-diamante in allerhande kleure in die hande te kry. Sy moedig ook die volgers aan om sekere dae net sekere kleur kos te eet.

"‘n Moderne Fluitspeler van Hamelin,” noem Annie op Facebook vir Rebekah. "En hierdie naïewe kindertjies dink ek is sy. En dat dit OK is om goedsmoeds met vreemdelinge via die internet in gesprek te tree."

Ironies genoeg bevind Pamina in haar boek haar in ’n soortgelyke penarie. "’n YouTube-video waarin sy haar baas vloek, gaan viral,” vertel Annie. Nou is sy ook ’n onwillige YouTube-beroemde.

boeke
Die tragiese saak van Pamina Vermaak. Deur Annie Klopper (Kwela, R205*)

Sy het al in Duits met hulle geraas: "Du bist unartig!" (Jy is stout). En ander kere sommer uit moedeloosheid in Afrikaans. "Ek het met hulle geraas oor hulle so stout is en gewaarsku van die gevare om met vreemdes in gesprek te tree.

"Asof hulle hulle nou daaraan gaan steur! Sommiges k** my sommer dan uit, asof ek kamma gepose het as hierdie persoon en hulle opsetlik in ’n lokval gelei het. Die bleddie snotkoppe slaap ook blykbaar nie, want my foon 'klingelt' regdeur die nag!" skryf sy op Facebook.

Annie wil nie haar nommer verander nie, want sy het dit al sedert 2003. "Is daar iemand met raad?" smeek Annie. "Help my."