Pei Yuanjin en Pei Yantong van China, het saam met hul ma van Beijing na Qindoa gegaan vir ’n somervakansie voor hul nuwe skooljaar sou begin. Maar toe verdwyn die tweeling Sondagmiddag.

Maandag het die ergste vrees wat enige ouer kan koester, waar geword: Die eerste meisie se lyk is omstreeks halftwaalf Maandagoggend gevind; die tweede een 20 voor vier die middag.

Albei is in die see gevind naby waar hulle vir oulaas die dag vantevore gesien is. Hulle het verdrink en daar was niks meer wat die reddingspanne vir hulle kon doen nie.

Maar hoe het die twee in die eerste plek weggeraak?

Hul ma, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het aan China National Radio erken sy was besig op haar slimfoon terwyl die tweeling naby haar in die sand gespeel en in die vlak water rondgeplas het. Twee uur nadat die drietal by die strand aangekom het, het die tweeling verdwyn.

Hul ma het eers besef daar’s fout toe sy op ’n slag van haar slimfoon opgekyk het na sy haar sosialenetwerk-app ‘Moments’ (soortgelyk aan WhatsApp) bygewerk het.

Sy het die hulp van die polisie ontbied en sowat 400 mense het naarstiglik na die tweeling help soek. Daar is geen lewensredders of -toerusting op die strand waar hulle was nie.

Boonop is daar ook ’n kennisgewing dat strandbesoekers nie in die see moet swem nie. Ten spyte daarvan steur min mense hulle glo aan die erns van die waarskuwing.

Vir Pei Yuanjin en Pei Yantong sou dit juis die verontagsaming van die waarskuwing en ’n ma wie se aandag deur haar slimfoon in beslag geneem is, wat daartoe bygedra het dat hul jong lewens op so ’n tragiese manier tot ’n einde gekom het.

Pei Yuanjin en Pei Yantong. Foto: Facebook (People's Daily, China)

Volgens Xu Shan, kaptein van Qindao se reddingspan, is daar sterk seestrome en ook baie visnette, waarvan talle in onbruik is. Dit sou ook dié nette wees wat duikers se soektog na die twee Sondag belemmer het.

Ene Lulu Luna het op Facebook reageer deur te sê sy verstaan nou hoekom haar eie ma haar en haar suster kleintyd verbied het om naby die strand te kom.

“Ons het dit gehaat en haar kwalik geneem vir haar sterk standpunt daaroor. Sy het ons eers strand toe geneem toe ons ouer was en geweet het wat om te doen."

Soon Guan Neoh stel dit kort en kragtig: “Dis ’n les vir ma’s om nie hul selfone te gebruik terwyl hulle na hul kinders omsien nie.”

Twee soortgelyke en skokkende voorvalle

Noordweste van China

'n Vierjarige seuntjie het in Januarie 2016 kwalik 4 m van sy ma af in 'n plaspoel by Spa World verdrink. Sy was saam met hom in die water maar sy was so gefokus op haar selfoon dat sy kwalik van haar omgewing bewus was.

Toe sy besef haar kind is weg, het sy die oord se personeel om hulp gevra. Die vierjarige se lyk is ná ’n halfuur in die plaspoel gevind.

Waarskuwing: Grafiese video

Reno, Texas

Cheyenne Summer Stuckey (21) van Reno in die deelstaat Texas het op 13 Junie 2017 haar misgis met die tyd wat sy op Facebook deurgebring het terwyl haar babadogtertjie, Zayla Hernandez (6 maande) in die bad gesit het terwyl dit nog besig was om vol te loop.

Stuckey sê ’n ander kind het haar aandag van Zayla afgelei. Daarna het sy boodskappe met twee mense op Facebook Messenger geruil. Dit sou 18 minute duur, maar dit was 18 minute té laat vir Zayla wees.

Stuckey is tronkstraf opgelê en haar oorlewende drie kinders is uit haar sorg verwyder.

Bronne: statesman.com, usatoday.com, chinanews.com, dailymail.co.uk, bj.people.com.cn