Dis waar die idee vandaan kom vir ’n heel nuwe soort Airbnb, die webtuiste waar mense hul woonplek, gastehuis of hotel kan adverteer vir vakansiegangers uit alle wêrelddele. 

Die paartjie Petri en Minna Karjalainen het Naturist BnB sowat twee maande gelede begin. Op die webtuiste word plekke geadverteer wat mense kan huur of waar hulle vakansie kan hou, maar poedelkaal. 

Tientalle blyplekke wêreldwyd maak reeds van die nuwe webtuiste vir nudiste gebruik, berig CNN. Daar is tot dusver drie plekke in Suid-Afrika wat op die webtuiste adverteer en noem dat gaste gerus hul klere kan laat waai. 

Dié drie plekke in Suid-Afrika is in Salt Rock by Durban, op Vanderbijlpark in Gauteng en een in Houtbaai in die Kaap. Dié een is binne loopafstand van die nudistestrand Sandybaai. Maar dit is net beskikbaar aan “nudiste-paartjies en -gesinne”. 

Die een in Durban bied wel kaalbasvakansies aan, maar “geen kos en drankies mag in die slaapkamers verbruik word nie”. 

Die oord op Vanderbijlpark “glo in die aanvaarding van ons liggaam en is passievol om daardie vryheid te bewaar”.

Volgens Naturist BnB se wenke op hul webtuiste is dit nie mooi om te staar nie. “ ’n Nudiste-omgewing moet veilig en ’n nieseksuele ruimte wees,” lui die webtuiste se wenkelys. 

Dis ook verbode om ’n kamera uit te pluk in die kaal mense se teenwoordigheid. “Sommige mense wil nie kaal in jou fotoalbum beland nie,” lui die webwerf, Naturist BNB

Bronne: CNN, Naturist BNB