Dis die eerste keer in haar 65 jaar op die Britse troon dat sy dié grootse modeskou in die Britse hoofstad bywoon, berig Time.com.

Dit was boonop moeilik om die 91-jarige koningin mis te kyk terwyl sy in haar vaalblou Angela Kelly pakkie langs die koningin van styl, Anna Wintour, die redakteur van die Amerikaanse modetydskrif Vogue, in die voorry van die opkomende Britse ontwerper Richard Quinn se modevertoning gesit het. 

Die koningin het die modeweek bygewoon om die Koningin Elizabeth II-prys vir Britse ontwerp aan Richard te oorhandig, berig Time.com.

Daar het ’n stilte geheers toe die koningin die vertrek binnekom, berig The Guardian. Mense in die gehoor het opgestaan om die monarg te groet en het links en regs hul selfoon uitgepluk om kiekies te neem en in die sosiale media te deel.

Die koningin het toe in die voorry haar sitplek ingeneem – ewe op ’n spesiale fluweelkussing wat op haar stoel was – langs Anna en haar rokmaker, Angela Kelly.

Die koningin het ontspanne gelyk by die vertoning, word vertel, en het selfs ’n grappie gemaak met Anna, wat soos gewoonlik regdeur die vertoning met ’n sonbril op die oë gesit het.

Anna het ook ’n draai by Buckingham-paleis gemaak waar Kate, die hertogin van Cambridge, en Sophie, die gravin van Wessex, gasvrou gespeel het vir ’n modeuitstalling.

Tydens die modeweek was alle oë egter op die koningin gerig toe sy by Richard se modevertoning opdaag. Ná sy vertoning het sy die Koningin Elizabeth II-prys vir Britse Ontwerp aan hom oorhandig. 

Volgens Accessonline.com het Richard onlangs aan die Londense kunsskool Central Saint Martins afstudeer. Hy het reeds in 2016 sy eie modereeks begin.

Sedertdien het hy vinnig erkenning gekry as een van Brittanje se jong en talentvolle ontwerpers. Die Britse Moderaad het hom gekies om die gesogte prys van die koningin te ontvang.

Queen Elizabeth II Award for British Design is deur die koningin aan Richard Quinn oorhandig. Foto: Getty Images

Volgens die koningin wil sy die prys aan nuwe, jong talent gee, berig Accessonline.com

“As ’n eerbewys aan die modebedryf en my nalatenskap aan almal wat ’n bydrae aan Britse mode gelewer het, wil ek hiermee die prys aan nuwe, jong talent gee,” het die koningin gesê.

Een ding is verseker, koningin Elizabeth kan op 91 beslis nog kers vashou by die modieuse jonges.

Bronne: The Guardian.comAccessonline.comTime.com