Sy is die Raponsie van die Jakarandastad. Haar lang bruin haredos is soos ’n waterval oor haar skouer gedrapeer en hang tot byna op haar enkels.

Maar dis waar die ooreenkoms met die prinses in die sprokie ophou. Die 10-jarige Nikitha van Reenen het haar hare sommer “vir die lekkerte” laat groei.

Anders as die arme Raponsie, wat in ’n hoë toring opgesluit was en desperaat moes wag op ’n ridder om teen haar lang, wuiwende hare op te klouter en haar te red.

“Ek het nog nooit haar hare geknip nie, nie eens die punte nie, ook nie toe sy ’n babatjie was nie,” verklaar haar ma, Yana (40), ’n tuisblyma, by hul huis in Mountain View, Pretoria.

Die langhaar­meisie by haar ma, Yana. Foto: Papi Morake

Nikitha, wat net oor die 1,5 m in haar sokkies staan, se hare is ’n verstommende 1,4 m lank. Sy sal nie sommer ’n haarskêr naby haar toelaat nie, want op dié haredos is sy baie trots.

“Ek het die langste hare in my skool,” spog sy. “Baie van my maatjies is jaloers daarop.” Haar hare blink in die strale van die somermiddagson en sy glimlag toe haar ma vertel hoekom hulle nooit Nikitha se hare laat sny het nie.

“Daar is nie eintlik ’n rede nie,” sê sy. “Toe dit begin uitgroei, het dit vir ons mooi gelyk. En toe sy ouer word, het sy gesê sy wil dit laat aanhou groei. Dit het ons laat besluit sy sal nie naby ’n haarkapper kom nie.”

Dit lyk sowaar soos ’n meermin wat voor jou sit wanneer sy die lang bos met een beweging oor haar skouer gooi. “Sy is mal oor hare,” sê Yana.

“Sy kam en stileer gereeld haar poppe of die honde s’n.” Maar sy kan nie sommer met haar eie kapsel speel nie, want dis ’n tydrowende taak om dit te was en versorg. Ma en dogter se ergste nagmerrie is dat dit sal koek.

Dit neem hulle sowat vyf uur om haar hare te was en die koeke uit te borsel; dus doen hulle dit net oor naweke. Foto: Papi Morake

Toe Huisgenoot Nikitha en haar ma vir ’n onderhoud nader, moes ons die afspraak vir vroegmiddag reël. Enigiets vroeër sou doodeenvoudig nie werk nie, want die versorging van Nikitha se kroon sou ’n hele voormiddag in beslag neem.

Nikitha se pa, Hennie, ’n eiendomsagent, was tydens ons besoek by die werk. So een keer per week gaan hulle deur die tydsame proses om Nikitha se hare te was en uit te borsel.

Hulle moet maar die dagboek dophou en ’n dag kies waarop hulle nie veel ander dinge het om te doen nie. Omdat dit as’t ware ’n hele skooldag in beslag neem, is hul “haarafspraak” deur die kwartaal altyd oor ’n naweek.

Dit is nie die was wat so lank neem nie; dis die uitborsel. “Die lang hare koek vreeslik maklik,” sê Yana. “Dit vat ons sowat vyf uur om haar hare te was en van al die gewraakte koeke ontslae te raak. Van agtuur die oggend tot eenuur die middag.”

Ná die was gaan sit Yana en Nikitha voor die televisie, ma met ’n borsel in die hand en dogter se oë vasgenael op die televisie of haar tablet.

“Sy kan minstens deur so een fliek sit terwyl ek haar hare borsel,” vertel Yana.

Nikitha is gelukkig nie kleinserig nie en kla min. Net soms ontstaan ’n hareklowery oor die koeke, skerts Yana.

“Dan praat ek en sy in tale! Ons het al al die wenke en rate probeer om van die koeke ontslae te raak, maar al wat werk, is om dit geduldig uit te borsel.”

Sy beskou die lang proses as gehaltetyd saam met haar enigste kind. “Ons sal gewoonlik oor allerhande dinge sit en gesels,” sê Yana.

Nikitha dra haar hare gewoonlik in ’n bolla of vlegsel en slaap saans met ’n bolla. “Ek kan dit net op dié twee maniere dra,” sê sy. Sjampoe is nie iets wat in die Van Reenen-huis lank hou nie.

Nikitha het nie veel haarstyl­opsies nie weens die lengte van haar hare. Foto: Verskaf

“Ons gebruik sowat ’n liter sjampoe en ’n liter opknapper elke maand net vir haar,” sê Yana.

“Aan die begin het ons goedkoop sjampoe gebruik, maar dit het die hare vreeslik uitgedroog en dit nog meer laat koek. Ons koop nie die duurste op die mark nie, maar dit is darem van goeie gehalte en laat haar hare lekker sag voel.”

Kan dit wees dat sy nog nooit las gehad het van gesplete haarpunte nie?

“Ons smeer silikoon aan die punte van haar hare en sy het vandat sy ’n dag oud was nog nooit ’n dooie punt gehad nie. Ek dink dit is net in haar gene.” Noudat dit somer is, gaan Yana en Nikitha nog meer spook om die haredos te tem.

“Nikitha is mal oor swem, en wanneer sy eers in die swembad geduik het, is dit weer ’n proses om al die koeke uit te kry. Gelukkig is haar hare ook droog teen die tyd dat dit uitgeborsel is.”

Al kry sy nooit hoofpyn van die pragtige poniestert wat so swaar is nie, begin dit tog nou vir ma en dogter ietwat van ’n las word.

Sy kan ’n bolla of lang vlegsel dra. Foto: Verskaf

“Sy sien dikwels op Facebook haarstyle wat sy ook graag wil hê, soos Franse vlegsels, maar met haar lang hare is dit ongelukkig nie moontlik nie. Sy wou in die revue ook twee poniesterte gehad het, maar jy kan jouself net indink hoe dit sou gelyk het.

“Nee wat, dit is nou tyd dat die hare waai. Ons albei voel ’n verandering is nodig.” Nikitha knik.

“Ons weet nog net nie wanneer nie,” sê Yana.

“Dit sal beslis vir ons die einde van ’n era wees, maar ons het nog nie op ’n datum besluit nie.” Intussen bly Nikitha se grootste vrees dat iemand haar hare in die nag terwyl sy slaap skelm sal afknip.

“Dit sal vir my verskriklik wees. Dit sal ’n nagmerrie wees,” sê sy. Raponsie wil die besluit self neem; sy sal sê wanneer die “lekker” van die lang hare verby is. Tot dan sal die haarskêr weggebêre bly.

Yana stel haar gerus. “Dit bly haar keuse. Ons sal haar nie dwing om dit te laat knip nie, en wanneer sy die dag na my toe kom en sê sy wil haarkapper toe gaan, sal ek haar met graagte neem.”

Tot dan kan sy nog die koppe laat draai met ’n haredos wat die kroon span.