Dave Miller
Kapt. Dave Miller van die Lyttelton-polisie. Foto: Verskaf

Dit was nes ’n toneel uit ’n aksiefliek: ’n Gewapende bende wat losbrand op die polisie, glasruite wat versplinter namate die skote klap en die ontstellende angsgille van omstanders wat die gange vul.

Maar dis nié fiksie nie – al is daar ook al die elemente van ’n senutergende draaiboek. 

Angsbevange inwoners van ’n woonkompleks in Olympus, aan die ooste van Pretoria, moes Maandag luister hoe die skote klap nadat ’n skietery tussen die polisie en ’n gewapende bende uitgebreek het.

Die skietery het ontstaan kort nadat die polisie van Lyttelton, in Centurion, toegeslaan het op dié gewapende groep wat oor die afgelope weke agt niksvermoedende slagoffers beroof het. 

Die groep – vermoedelik ’n sindikaat wat sedert die begin van die jaar slagoffers in veral Centurion en die ooste van Pretoria teiken – staan bekend as die Facebook Marketplace-bende weens hul unieke werkwyse. Hulle het telkens verkopers op die gratis advertensiewebtuiste Marketplace gekontak en met hulle ’n afspraak gemaak om die items kwansuis te besigtig. Wat die verkoper nie weet nie, is dat die bende ’n woonstel op die verblyfdiens Airbnb bespreek en dan die rooftog by dié eiendom uitvoer.

Facebook Marketplace Bende
’n Handwapen wat op die toneel agtergebly het. Foto: Verskaf

“Ons het Maandag deur die loop van die dag ’n wenk gekry oor waar die bende hulle later daardie dag sou bevind,” sê kapt. Dave Miller, ’n polisiewoordvoerder in Lyttelton, aan Huisgenoot

Miller sê die polisie het ’n span gemobiliseer en fyn beplan hoe hulle later daardie dag op die niksvermoedende bende sou toeslaan. Al wat hulle toe geweet het, is dat die bende ’n rooftog by die woonkompleks beplan.

“Die ouens is so ervare en beplan die rooftogte so haarfyn, dat hulle selfs klere en speelgoed uitsit sodat dit lyk of dit werklik hul eiendom is – en die slagoffers het natuurlik niks vermoed nie,” sê Miller.

Dis dieselfde groep wat die akteur en sanger Georic Lomas in Februarie van sy Apple Mac-rekenaarboks beroof en in ’n kamer ingeboender het voor hulle op die vlug geslaan het. In Maart het Georic nog aan Huisgenoot vertel: “Hulle was aggressief en het my dadelik laat verstaan dis nie ’n speletjie nie. Daarna het hulle my hande en bene met kabelbinders vasgebind en my in die kamer ingeboender. Ek het gedink ek gaan sterf.”

Georic Lomas
Die akteur en sanger Georic Lomas is in Februarie deur die bende beroof. Foto: Facebook/Georic Lomas

Nou is die groep eindelik in hul spore gestuit. Miller sê die polisie het Maandagmiddag om halfvier toegang tot die gebou verkry en hulle vasgeloop in ’n vrou. Sy is die eerste verdagte en is vermoedelik gebruik om beweging buite die eiendom dop te hou.

“Die volgende oomblik hoor ons net: ‘Polisie! Polisie!’ En toe begin die skote klap. Benewens die vrou, was daar twee gewapende mans binne die eiendom. Die een man het daarin geslaag om die deur toe te druk en hulle het ontsnap.” 

Polisielede het die een verdagte binne die woonkompleks vasgetrek en die tweede man, wat daarin geslaag het om oor ’n muur te spring, ook vasgetrek. Die twee is saam met die vrou in hegtenis geneem.

Waarop hulle egter nié voorbereid was nie, was dat die bende teen daardie tyd reeds in die proses was om twee rooftogte uit te voer, sê Dave.

“Ons het twee slagoffers binne die eiendom aangetref wat reeds beroof en vasgebind was. Dis angswekkend wanneer jy kyk na die tydlyne: Die groep het omstreeks kwart voor drie die middag toegang tot die eiendom verkry, maar net ’n driekwartier later is al minstens twee mense beroof,” sê hy.

Facebook Marketplace Bende
Dié messe is vermoedelik ook gebruik om slagoffers te intimideer. Foto: Verskaf

Niemand is in die skietery beseer nie. Ook die slagoffers het nie beserings opgedoen nie. “Dit was eintlik so ongelooflik dat ons die verdagtes kon vang, want die een slagoffer het ná die tyd vertel hoe sy in een stadium, terwyl sy vasgebind was en gevrees het vir haar lewe, nie net magteloos gevoel het nie; sy het ook geen geloof gehad in die polisie nie. Maar toe slaan ons toe – en daarvoor is ons baie dankbaar.” 

Die drie verdagtes is tans in aanhouding by die Boschkop-polisiekantoor in Pretoria. Besonderhede oor hul hofverskynings is nie in dié stadium bekend nie.

Miller sê hoewel daar vreugde is oor die deurbraak, is daar ook kommer dat die sindikaat – of die bendelede wat daarby betrokke is – verder kan uitkring.

“Daar is natuurlik ook ’n moontlikheid dat daar nog verdagtes is, maar in hierdie stadium kan niks bevestig word nie. Ek weet van agt sake in die omgewing wat ons nou hopelik met die drie verdagtes sal kan verbind, maar die ondersoek sal voortduur.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe