Georic Lomas
Die sanger en akteur Georic Lomas sê hy het gedink hy gaan sterf toe hy deur twee gewapende rowers aangehou, vasgebind en beroof is. Foto: Verskaf

Toe twee swaar gewapende mans hom tydens ’n privaat kooptransaksie met kabelbinders vasbind en in ’n kamer inboender, het die akteur en sanger Georic Lomas gedink hy sal dalk nooit lewend uit dié kamer ontsnap nie.

Dis die angswekkendste ervaring wat hy nóg gehad het, vertel Georic (23), veral bekend om sy rol as Morné in die fliek As jy sing.

Die akteur sê sy nagmerrie-ondervinding het gevolg kort nadat hy in Februarie ’n Apple Mac Pro-rekenaarboks te koop op die gratis advertensiewebtuiste Facebook Marketplace adverteer het en ’n potensiële koper met hom in aanraking gekom het.

Die rekenaarboks, wat hy hoofsaaklik vir musiekproduksie en videoredigering gebruik het, was aanvanklik vir R23 000 gelys.

“Ek was nog altyd skepties daaroor om sulke duur toerusting aanlyn te verkoop omdat ek weet wat die gevare is; daarom het ek dubbel seker gemaak ek doen my huiswerk toe ’n koper my gekontak het,” vertel Georic Dinsdag aan Huisgenoot.

Georic Lomas
Hy wil nou ander teen die gevare van aanlyn koop- en verkoop waarsku, sê Georic. Foto: Verskaf

Nadat hy en die koper – ’n vrou wie se naam weerhou word – kontaknommers uitgeruil het, het hy ondersoek ingestel, vertel die akteur.

“Ek het haar profiel en foto’s in die sosiale media nagegaan, maar ek het geen onraad gemerk nie. Ek het selfs van Google se soekenjin-funksie gebruik gemaak wat jou in staat stel om te kyk of iemand se foto’s eg is of nie. Maar deur alles was daar geen tekens wat kommer gewek het nie,” sê hy.

Nadat die twee meer as ’n week lank oor en weer gesels het – en hy die prys van die rekenaar na R19 500 verlaag het – het hulle afgespreek om mekaar by ’n woonstelblok in Die Hoewes, Centurion, te ontmoet.

Georic sê die koper het voorgehou sy is by haar ma se woonstel omdat sy internet- en kragonderbrekings ervaar.

Hy en ’n vriend, Jeandré Liefbroer (23), is op 17 Februarie na die woonstel.

Georic Lomas
Die rekenaarboks wat Georic op die gratis advertensiewebtuiste Facebook Marketplace adverteer het. Foto: Verskaf

“In die dae voor dit het ons op WhatsApp begin gesels en die vrou het selfs stemnotas aan my gestuur,” vertel Georic.

“Ons het afgespreek om mekaar by die woonstel binne ’n veiligheidskompleks te ontmoet, maar die vrou het gevra of ek die rekenaarboks na bo kon bring sodat sy kon sien dat dit in ’n werkende toestand is. Steeds het ek nie onraad gemerk nie – die toestel is duur en ek sou dieselfde doen.” 

Jeandré het in die motor onder in die parkeerterrein gebly terwyl hy boontoe gestap het, vertel die akteur. Binne die woonstel het hy die rekenaarboks op ’n tafel neergesit en die kragkabels en monitor gekoppel.

Hy onthou: “Sy het my gevra of ek iets wou hê om te drink, en toe bars twee gewapende mans deur die voordeur. Ek het my doodgeskrik. Hulle was aggressief en het my dadelik laat verstaan dis nie ’n speletjie nie. Daarna het hulle my hande en bene met kabelbinders vasgebind en my in die kamer ingeboender,” sê hy.

Die gewapende rowers het geëis dat hy sy Apple-slimfoon en -selfoon ontsluit en die “Find my phone”-funksie, wat bedoel is om die ligging van ’n verlore toestel na te spoor, af te skakel.

“Ek vermoed hulle het gedink ek sou alleen daar opdaag; daarom het hulle gesê ek moet my vriend na die woonstel ontbied. Ek het senuagtig geraak en vir hulle gesê dat hy onderneem het om die polisie te bel as ek nie binne 15 minute terug by die motor is nie,” vertel hy.

Georic Lomas
Foto’s wys die merke aan sy arms nadat die rowers Georic met kabelbinders vasgebind het. Foto: Verskaf

Georic is hierna in die badkamer toegemaak.

“Die mans was ontsettend aggressief en het my rondgepluk, maar ek het my nie teëgesit nie – nie vir materiële dinge nie,” onthou die akteur.

“Trouens, ek was bang hulle sou my dalk vermoor. Ek het in een stadium gewonder of dit die einde gaan wees – of ek dit lewend uit die woonstel sou maak.”

Die rowers het hom beveel om binne die badkamer te bly terwyl hulle vir Jeandré “gaan uitsorteer”. 

“Die hele beproewing het seker byna ’n halfuur geduur en ek het deurentyd gebid dat Jeandré ’n voorgevoel sou kry om dalk te ry – ek was doodbang oor wat hulle aan hom kon doen.” 

Hy moes ’n plan bedink om sy lewe en die lewe van sy vriend te probeer red, vertel hy.

“Ek het ’n hartprobleem en het vanuit die badkamer geskree ek kort dringend mediese aandag; dat ’n ambulans gebel moet word. Daar was stilte. Toe ek niks hoor nie, het ek sukkel-sukkel opgestaan en gekyk vir beweging binne die woonstel deur die gleufie tussen die teëls en die deur – daar was niks. Toe sê ek: ‘Ek gaan nou die deur oopmaak, moet asseblief nie skiet nie.’”

Georic Lomas
Die kabelbinders wat gebruik is om sy hande en voete mee vas te bind. Foto: Verskaf

Toe hy die deur oopmaak, was die rowers en die koper skoonveld. Georic het sukkel-sukkel na buite geloop waarna ’n inwoner van die woonstelblok die kabelbinders losgeknip het.

“Toe ek met die trappe afkom, het ek gesien Jeandré is ongedeerd – dit was vir my ’n groot verligting,” sê Georic.

Intussen het hy gehoor die woonstel is as oornagverblyf deur die verblyfdiens Airbnb gelys. Daar word vermoed die rowers het die woonstel bespreek om die rooftog daar uit te voer – dis ook hoe hulle toegang tot die kompleks en woonstel bekom het.

Al is hy dankbaar om te leef, sê Georic die impak van die emosionele trauma is veel groter as dié van die skaaf- en skuurplekke aan sy lyf.

“My hart is nie seer oor die rekenaar wat gesteel is nie; daarvoor is daar in elk geval versekering. Maar dis ontsettend traumaties om in die loop van ’n geweer vas te kyk en te weet jou lewe kan enige oomblik beëindig word.

“Dit maak 'n mens bang. Daarom is dit vir my so belangrik om nou ander te waarsku wat ook aanlyn transaksies doen of koop en verkoop. Die gevare is groot en dit kan met enigiemand gebeur.” 

Kapt. Dave Miller, woordvoerder van die polisie in Lyttelton, het bevestig ’n saak is aanhangig gemaak en word tans ondersoek. Miller sê die ondersoek kyk na talle soortgelyke sake in die omgewing waar rowers dieselfde werkwyse toepas. Hy kon nie bevestig of dit moontlik ’n sindikaat is nie.

“Die ondersoek is in ’n sensitiewe stadium omdat ons kyk na ’n groep mense wat almal dieselfde werkwyse het,” sê hy. “Maar ja, ons is bewus van soortgelyke sake wat ook elders kop uitsteek. Wanneer jy koop of verkoop, sou die polisie se raad wees om altyd liefs die koper of verkoper in ’n openbare plek te ontmoet.”
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe