Dit was ’n vreesaanjaende voorval wat hy nooit weer in sy lewe wil beleef nie, vertel die akteur, bekend vir sy rol as Eben Rautenbach in die oud-kykNET-sepie Villa Rosa.

Eers wou hy dié nuus nie met aanhangers deel nie, maar later het hy besluit om juis hierdie verhaal te gebruik om ander te waarsku om waaksaam te wees – en oor hoe vinnig jy ’n misdaadteiken word, sê hy Woensdag aan Huisgenoot.

Jacques vertel hy was op 19 Augustus van Krugersdorp na Newlands in Pretoria, waar hy woon, onderweg toe die voorval gebeur. Dit het op ’n afrit van die N1-hoofweg gebeur.

“Ek het by ’n vriendin gekuier voor ek later die aand huis toe is,” vertel hy.

“Ek was amper tuis toe ek my selfoon by ’n verkeerslig optel om te loer na die boodskap wat ek pas ontvang het. Dit was my vriendin wat wou weet of ek al veilig tuis is.

“Twee mans het vanuit nêrens te voorskyn gekom en my toe met ’n skroewedraaier aangeval. ’n Stoeigeveg het tussen ons ontstaan terwyl ek in die motor was en ek is in die proses in die arm en gesig gesteek.”

Die akteur sê die tweede verdagte het sy selfoon en horlosie, wat albei los in sy motor gelê het, uit sy motor gegryp terwyl die geveg tussen hom en die gewapende verdagte voortgeduur het.

“Jy dink nie werklik in so oomblik nie,” vertel hy.

“Die adrenalien skop onmiddellik in – en dan wil jy veg om jou lewe te behou.”

Hy sê hy het die volgende oomblik die brandstofpedaal getrap en van die toneel weggejaag, maar in die proses in ’n heining vasgejaag. Die twee verdagtes het intussen van die toneel gevlug.

“Ek kyk nooit op my selfoon nie, almal ken my nou al so. Toe ek dit die een keer doen, word ek ’n slagoffer van misdaad,” sê ’n emosionele Jacques.

“Ek is net bly die Here het my daardie dag gespaar – dit kon soveel erger gewees het.”

Die akteur het die voorval intussen by ’n Pretoriase polisiekantoor aangemeld. Hy moes ook steke aan sy gesig kry.

Die akteur vertel sy stiefma is twee jaar gelede, op dieselfde datum, ook gekaap. Hy sê hy wil aanhangers nou waarsku om nie in dieselfde slaggat te trap nie.

“Ek wil hê mense moet besef hoe vinnig so iets gebeur – en dat dit jou jou lewe kan kos as jy nie oplettend is nie. Ek het die fout gemaak om op my selfoon te loer; ander moet dit nie ook doen nie.”