“Ons het ’n bietjie moeg gevoel, asof ons verkoue het en lyfseer is,” het die akteur Tom Hanks (63) in ’n verklaring gesê nadat dit bekend geword het COVID-19 is by hom en sy vrou, die vervaardiger en aktrise Rita Wilson (63), in Australië gediagnoseer.

Danielle Rugani (25), een van die Italiaanse kampioenspan Juventis se spelers en spanmaat van Cristiano Ronaldo, is tot dusver die eerste sportman in die land se topliga wat positief vir die coronavirus getoets het.

Hy, sy spanmaats, afrigters en betrokke personeel moet nou vir 14 dae in kwarantyn geplaas word. Dit sal in alle waarskynlikheid tot gevolg hê dat Juventus nie Dinsdag teen die Franse klub Lyon in die kampioenskapsliga op die veld sal draf nie.

“Ek versoek almal dringend om die reëls na te kom, want dié virus tref geen onderskeid nie. Laat ons dit doen vir onsself, ons geliefdes en diegene rondom ons,” het hy op Instagram gepleit.

Die Duitse sokkerspan Hannover 96 het Woensdag bevestig een van sy spelers is in isolasie nadat hy positief vir die virus getoets het.

Die Australiese Grand Prix spring ook nie die virus vry nie. Donderdagmiddag het McLaren bekend gemaak dat hulle van die ren onttrek wat op Sondag, 15 Maart, sou plaasvind. Een van die spanlede het positief getoets vir die coronavirus.

In Amerika het die nasionale basketbalvereniging (NBA) bekend gemaak dat COVID-19 by een van die sport se spelers, Rudy Gobert (27), gediagnoseer is. Dit het daartoe gelei dat die wedstryd tussen Utah Jazz (die speler se span) en Oklahoma City Thunder gekanselleer is. 

Die NBA het in verdere reaksie daarop die seisoen opgeskort tot verdere kennisgewing.

Intussen het pres. Donald Trump alle reise vanaf Europa (Brittanje en 'n paar ander lande uitgesluit) vir 30 dae opgeskort.

Dié wat dit ten alle koste probeer vermy

Die model Naomi Campbell (49) het voluit gegaan om haar van kop tot tone teen die virus te beskerm. Sy het haarself tydens ’n vlug nie net met ’n masker probeer beskerm nie, maar ’n hazmat-oorpak en pienk latex-handskoene gedra.

Howie Mandell (64) het by die stel van America’s Got Talent opgedaag, geklee in ’n hazmat-oorpak, oranje rubberhandskoene en ’n gasmasker. Hy weier ook om blad te skud met enigiemand.

View this post on Instagram

Who wore it better?

A post shared by Howie Mandel (@howiemandel) on

Die Kanadese superster Celine Dion (51) het in ’n verklaring haar spyt uitgespreek omdat sy haar aanhangers moes teleurstel, maar toe verkoue by haar gediagnoseer is, het sy die veilige roete gekies en twee van haar Courage-wêreldtoer optredes uitgestel.

Sy sal dit na verwagting weer op 24 Maart hervat.

Vals nuus

Nee, die Harry Potter-ster Daniel Radcliffe (30) het nie die coronavirus onder lede nie. Sy verteenwoordiger het die gerugte ontken ná ’n vals gerug in omloop was dat hy die eerste bekende is met die virus.

Maak so as jy vermoed jy het die virus aangesteek

Daar is reeds 17 mense in Suid-Afrika wat die coronavirussiekte onder lede het, en meer as 300 is al getoets daarvoor. Wat moet jy doen as jy vermoed jy het aangesteek?

As jy vrae het, kan jy die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) se tolvrye nommer bel (0800-029-999). 

Wanneer jy simptome begin toon, kan jy by jou huisdokter of naaste hospitaal aanmeld.

Maak seker jy bel jou dokter vooruit en waarsku hulle sodat voorbereiding gemaak kan word. As jy na ’n hospitaal toe gaan, sal die personeel by ontvangs jou in ’n veilige area laat wag tot reëlings getref is om jou te laat toets.

Bronne: sports.ndvt.com, bbc.com, latimes.com, vanityfair.com, people.com, nytimes.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.