’n Erfenis van miljarde dollars het op hom gewag – ’n media­ryk soos min, en daarmee saam ’n invloed in die kringe wat besluite neem wat die wêreld raak. Maar hy het dit alles die rug toegekeer – en so gewys watter krake daar in een van die magtigste families op aarde lê.

Die stryd tussen pa en seun klink soos die draaiboek van ’n televisieprogram – trouens, dié voortslepende drama wás die inspirasie vir Succession, die trefferreeks oor ’n skatryk mediafamilie en hoe alles verander toe die patriarg uittree.

In die een hoek: James Murdoch, die 47-jarige seun en gekose opvolger van die mediamagnaat Rupert Murdoch (89). In die ander hoek: die oudste seun, Lachlan (48), wat ook die familierykdom in sy visier het.

Maar James het hom van die sage onttrek en uit die raad van die Murdoch-­familie se News Corporation-­ryk bedank.

James se bedanking beteken Lachlan is nou die enigste “aanspraakmaker” in die familie wat by Rupert kan oorneem. En dit beteken die bespiegeling van byna drie dekades oor watter een van Rupert se kinders hom sou opvolg, is verby.

Die oudste van die Murdoch-sibbes, Prudence (62), uit sy eerste huwelik met die Australiese model Patricia Booker, het min belangstelling in die onderneming getoon.

Rupert en sy eerste vrou, Patricia Booker. Hulle
Rupert en sy eerste vrou, Patricia Booker. Hulle is in 1967 geskei. Foto: Gallo Images/Alamy
Prudence, dogter van Rupert en sy eerste vrou, Pat
Prudence, dogter van Rupert en sy eerste vrou, Patricia Booker. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar sy drie kinders uit sy tweede huwelik met die Skotse joernalis Anna Mann – Lachlan, James en Elisabeth (52) – het teen mekaar gewedywer om hul pa op te volg.

Rupert het ook twee tienerdogters, Grace (19) en Chloe (17), uit sy derde huwelik met Wendi Deng (51), en hy is sedert 2016 met die voormalige model Jerry Hall (64) getroud.

Die mediamagnaat het twee dogters, Grace en Chloe, by sy derde vrou, Wendi Deng. Foto: Gallo Images/Getty Images
Rupert Murdoch is in 2016 met sy vierde vrou, Jerr
Rupert Murdoch is in 2016 met sy vierde vrou, Jerry Hall, getroud. Foto: Gallo Images/Reuters

James het met sy pa en broer koppe gestamp oor die maatskappy se regse standpunt, veral wat die klimaats­krisis betref. Die laaste strooi vir James en sy vrou, die omgewingskampvegter Kathryn Hufschmid, was die groep se dekking van Australië se veldbrande verlede jaar.

James en sy vrou, Kathryn Hufschmid, was ontsteld
James en sy vrou, Kathryn Hufschmid, was ontsteld oor die familieonderneming se nuus­dekking van die Australiese brande. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wetenskaplikes het gesê aardverhitting was die groot oorsaak van die ramp, terwyl Murdoch se koerante volgehou het die brande was nie erger as in vorige dekades nie.

James was glo toenemend ongelukkig oor die konserwatiewe menings wat verwoord is in News Corp se publikasies en kanale, onder meer Fox News, The Wall Street Journal en die New York Post.

Terwyl Rupert ’n nieamptelike raad­gewer is vir pres. Donald Trump, het
James en Kathryn groot bedrae geld aan die Demokratiese presidentskandidaat, Joe Biden, en verskeie omgewingsprojekte geskenk.

Die Australies gebore Rupert is een van pres. Don
Die Australies gebore Rupert is een van pres. Donald Trump se ver­trouelinge. Foto: Gallo Images/Getty Images


Tog het James nie alle bande met sy familie verbreek nie. Hy is steeds ’n begunstigde van die familietrust en sal aanhou om uit die winste van die Murdoch-ondernemings voordeel te trek – sowat R680 miljoen per jaar.

Die Murdoch-kinders se opvoeding klink ook soos iets uit ’n televisieprogram.

Elisabeth, Lachlan en James het in ’n weelderige woonstel in New York se 5th Avenue grootgeword. Aan die ontbyttafel, een van die min plekke waar hulle saam met hul pa tyd deurgebring het, het die kinders soggens geluister terwyl Rupert vir hulle ’n lesing oor die koerante gee.

Rupert en sy tweede vrou, Anna Mann, in die 1980’s
Rupert en sy tweede vrou, Anna Mann, in die 1980’s saam met hul kinders, Lachlan, James en Elisabeth. Foto: Gallo Images/Gettyy Images

Al drie kinders was dol oor hul pa, maar James het dikwels uitgesluit gevoel.

“Ek moes James gereeld gerusstel daar was niks met sy pa se gehoor fout nie,” het Anna (76) aan die tydskrif Time gesê. “Sy pa het bloot nie na hom geluister nie.”

James het na sy pa se goedkeuring gestreef. Toe hy 15 was, het hy een somervakansie by die poniekoerant Sydney Daily Mirror gewerk.

Maar toe hy tydens ’n mediakonferensie op ’n rusbank aan die slaap geraak het, het ’n opposisie-­koerant dié foto geplaas: “Mediamagnaat se kind slaap by die werk.”

James het geweier om nog somer­vakansies by die maatskappy te werk.

Hy is by Harvard aanvaar, maar het opgeskop om ’n hip-­hop-onderneming, Rawkus Records, te begin. Met sy ge­bleikte hare, jeans en tatoes het hy dit duidelik gemaak hy sou nie ’n korporatiewe kantoorwerker word nie.

Lachlan het makliker by die maat­skappy aangepas en op 18 na Australië verhuis om die koerantbedryf te leer ken. Hy het die onderneming daar oorgeneem toe hy 22 was. ’n Paar jaar later het hy na New York teruggekeer om die Amerikaanse maatskappy te bestuur en het hy met die Australiese model Sarah O’Hare (48) getrou.

Lachlan en sy vrou, Sarah O’Hare. Foto: Gallo Imag
Lachlan en sy vrou, Sarah O’Hare. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2005 het Lachlan en sy pa ’n uitval oor die televisieprogram Crime Line gehad. Rupert het gesê dit was te duur om te vervaardig. Roger Ailes, die gevalle seksuele teisteraar wat Fox News toe bestuur het, het Murdoch sr. later oortuig om sy goedkeuring vir die program te gee.

“Dit was die laaste strooi vir Lachlan,” sê ’n bron. “Hy het tot dusver sy pa se inmenging verduur in die onderneming wat hy veronderstel was om te bestuur, maar het genoeg gehad en bedank.”

Net so, sê die bron, “het Lachlan van die uitverkorene in die verlore seun verander”.

Elisabeth was die besturende direkteur van die satelliettelevisieonderneming, maar het in 2000 bedank toe sy nie tot uitvoerende hoof bevorder is nie.

Lachlan se vinnige opgang het haar ook frustreer, en sy was seergemaak toe haar pa aan die tydskrif Newsweek gesê het haar broer gaan hom opvolg.

En dan was daar haar pa se toenemende steun vir kleinboet James. Rupert het sy seun se platemaatskappy gekoop en hom stil-stil as digitale en tegno­kenner na die binnekring teruggebring.

James het ál beter gevaar, tot die News of the World-skandaal in 2011 op die lappe gekom het. Joernaliste by dié Murdoch-­skinderkoerant het onwettig aan telefoonoproepe meegeluister en polisiebeamptes omgekoop om stories te kry.

James is in 2014 in beheer van die rolprent-en-televisiemaatskappy 21st Century Fox geplaas en het die familie se nuus- en vermaakondernemings in twee maatskappye verdeel: News Corp en 21st Century Fox.

Die mediamagnaat Rupert Murdoch se jongste seun, J
Die mediamagnaat Rupert Murdoch se jongste seun, James, het hom aan die familie­onder­neming onttrek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit het hom aan die spits geplaas van die seksuele skandale waarby Roger Ailes betrek is. Hy en Lachlan, wat intussen teruggekeer het, het saamgespan om van Ailes ontslae te raak.

James het geleidelik ál ongelukkiger geword, tot hy tou opgegooi het. Hy fokus nou op die tegno-ondernemings wat hy in 2018 gestig het en laat sy broer in vrede om na hul pa se pype te dans.

“Dis alles in die haak,” het James aan The New Yorker gesê. “Ek voel gelukkig dat ek in dié stadium die kans het om met ’n nuwe bladsy te kan begin.”

Bronne: nytimes.com, bbc.com, theguardian.com, theconversation.com, npr.com, forbes.com, newyorker.com, dailymail.co.uk, cnn.com, Rupert Murdoch: The Untold Story of the World’s Greatest Media Wizard by Neil Chenoweth (2002, Crown Business), thecut.com, nymag.com