Sy was opgetof vir ’n aandete in ’n spogrestaurant. Maar die oomblik toe sy by Donald Trump se hotelsuite instap, het sy besef hy het ander idees. Die toekomstige Amerikaanse president het in sy pajamabroek op die rusbank gesit.

“Ek het gedink ons kan sommer hier ontspan,” het hy vir haar gesê. Ná aandete in Trump se suite het sy badkamer toe gegaan. Toe sy uitkom, het sy glo die wellustige biljoenêr op sy bed aangetref.

Stormy Daniels.

“Hy het vir my gesê: ‘Kom hier.’ En ek het gedink: ‘Jig, hier gaat ons.’ ”

So vertel die Amerikaanse porno-ster Stormy Daniels, wat met haar bewerings die soveelste storm van die 71-jarige Trump se omstrede presidentskap ontketen het.

En sy kritici hoop vuriglik dat “Orkaan Stormy” die een is wat hom eindelik uit die Withuis gaan waai. Nou is hulle boonop nog skietgoed ryker: ’n voormalige Playboy-“Playmate”, Karen McDougal (46), het ook die besonderhede van haar beweerde affair met Trump uitgeblaker.

Trump se politieke vyande het voorspel sy presidentskap sou kort wees, maar hulle is al telkens teleurgestel. Bewerings dat hy met die Russe gekonkel het om die Amerikaanse verkiesing te bekook; aantygings dat die Trump-sakeryk baat vind uit sy presidentskap; openbare woede oor sommige van sy onvanpaste laatnagtwiets – dit het begin lyk of hy alles kan oorleef.

Maar sal Trump kan staande bly teen Orkaan Stormy en die rukwinde weens die ander vroue se bewerings? Dit was 2006 toe die toekomstige president en die porno-ster mekaar ontmoet op ’n gholfbaan by die Tahoemeer, op die grens van Kalifornië en Nevada.

Hy het haar daardie selfde aand vir ete genooi. En nou, 12 jaar later, wil sy alles uitlap oor hoe hulle glo maande lank ’n affair gehad het onder die neus van sy vrou, Melania. Dít nadat Melania pas die lewe geskenk het aan hul seun, Barron. Trump het Stormy glo 10 dae voor die 2016-verkiesing sowat $130 000 (toe sowat R1,8 miljoen) betaal om ’n swygooreenkoms te onderteken.

Terwyl ál meer vroue na vore kom met bewerings oor Trump, vermy sy vrou, Melania, die kollig.

Maar sy probeer haar nou uit die ooreenkoms wikkel en sê Trump se prokureur, Michael Cohen, het “mag en intimidasie” gebruik om haar te laat teken. Intussen praat sy met almal wat wil hoor oor hul eskapades. Boonop word haar bewerings gesteun deur twee ander vroue in die pornobedryf én ’n Playboy-model.

En hul onsmaaklike stories oor Trump se beweerde slaapkamerstreke laat oudpres. Bill Clinton se kaskenades met Monica Lewinsky mak lyk.

Trump het waarskynlik in 2006 nooit kon dink sy kaperjolle met die vroue sou later by hom spook nie. Danksy sy TV-reeks, The Apprentice, was die sakemagnaat destyds boonop ’n vermaakster.

By die veelbesproke Tahoemeer-gholftoernooi het hy klaarblyklik ander sports in gedagte gehad. Karen, ’n voormalige kleuterskoolonderwyseres en Playboy se “Playmate” van die jaar in 1998, beweer hy het daardie naweek met haar ook seks gehad. Die brunet met die groot blou oë het teenoor CNN se Anderson Cooper verklap sy en Trump was 10 maande lank in ’n buite-egtelike verhouding betrokke.

Karen vertel sy en Trump het mekaar ’n paar maande voor die gholfnaweek ontmoet op ’n partytjie in Hugh Hefner se Playboy Mansion in Los Angeles. Daarna het Trump haar glo gereeld na hom toe laat vlieg vir stomende sessies. Hy het haar na bewering selfs aan van sy familielede voorgestel en haar sy luukse dakwoonstel in Trump Towers, New York, gewys. Trump het haar vertel hy en sy vrou slaap in aparte kamers “omdat sy hou van lees en alleen wees”.

Karen McDougal.

Tydens Trump se verkiesingsveldtog in 2016 het Karen die verhaal van hul affair vir sowat $150 000 (toe sowat R2,1 miljoen) aan die National Enquirer verkoop. Maar dis nooit gepubliseer nie – volgens gerugte danksy Trump se vriendskap met die skinderkoerant se baas, David Pecker.

Maar dit was nie die einde van die stories oor Trump se aptyt vir pornoaktrises nie. Jessica Drake (43) het saam met Stormy in pornoflieks gespeel. En Jessica was ook by daardie Tahoemeer-gholftoernooi in 2006. Sy vertel Trump het daardie naweek ook by haar onwelkome seksuele toenadering gesoek. Jessica het by die gholfnaweek promosiewerk vir die pornofliekvervaardiger Wicked Pictures gedoen toe Trump haar sien en na sy kamer nooi.

Jessica Drake.

“Ek het vir hom gesê dit voel nie reg om alleen te gaan nie, en toe het twee ander vroue saam met my gegaan,” sê sy. “Toe ons by die kamer instap, het hy elkeen van ons styf vasgedruk en sonder ons toestemming gesoen.”

Sy beweer Trump het haar later gebel en haar $10 000 (toe sowat R138 000) vir seks aangebied, maar sy het geweier.

“Dit is nie aanvaarbare gedrag vir enigeen nie, nog minder ’n presidensiële kandidaat,” sê sy. Jessica  en Summer Zervos, voormalige ster van The Apprentice, is nou onder talle vroue wat deur die Amerikaanse vuurvreterprokureur Gloria Allred verteenwoordig word. Almal het bewerings van seksuele wangedrag teen die president gemaak.

Alana Evans (41), nóg ’n porno-ster by die gholfnaweek waar Jessica en Stormy was, beweer hy het vir haar geld aangebied vir groepseks met hom en Stormy. Sy het geweier, maar die volgende dag vir Stormy al die sappige details gevra.

Alana Evans.

“Stormy het vir my gesê: ‘Al wat ek gaan sê, is dat ek saam met Donald in sy hotelkamer geëindig het. Stel jou voor, hy jaag my toe rond in sy hotelkamer in sy wit onderklere,’ ” vertel Alana.

“Ek het gesê: ‘Oe, ek het regtig nie nodig gehad om dit te hoor nie.’ ”

Stormy (haar regte naam is Stephanie Clifford) het ondanks die swygooreenkoms met Trump ’n omvattende onderhoud aan In Touch Weekly toegestaan. Die skindertydskrif het haar eers ’n poligraaftoets laat doen voor hulle die artikel gepubliseer het, en sy het dit met vlieënde vaandels geslaag. Sy beskryf die seks as “die definisie van generies”.

“Hy het nie probeer om pornoseks te hê nie. Dit was een posisie; wat jy sou verwag van iemand van sy ouderdom.”

Bewerings van ongure affairs met verskeie vroue kan Donald Trump se presidensie kelder.

Stormy, die ster van pornografiese flieks soos Missionary Impossible en Breast Side Story, sê hul affair het net ’n paar maande geduur, maar Trump was smoorverlief op haar. Hy het haar selfs ’n rol in sy TV-reeks beloof en haar tot in 2010 gereeld gebel. Maar toe hy hom as president verkiesbaar stel, het hy uit sy pad gegaan om hom van haar te distansieer en eindelik die swygbevel verkry.

Daar is gerugte Trump het soortgelyke swygooreenkomste met ander vroue, maar die betaling aan Stormy is die een wat hom die meeste skade kan berokken.  As daar bewys kan word die betaling is gedoen om te verhoed Stormy se verhaal stuit sy opmars na die Withuis, kan dit ’n ernstige oortreding van die Amerikaanse verkiesingswet wees.

En met ál meer vroue wat soortgelyke verhale vertel, kan dit sy kans kelder om vir ’n tweede termyn verkies te word. Sal die Trump-huwelik van 13 jaar ineenstort onder die aanslag van Orkaan Stormy?

Melania het haar die afgelope paar maande onttrek aan ’n aantal hoëprofielgeleenthede waar ’n mens sou verwag om haar as presidentsvrou te sien. Sy doen grootliks haar eie ding en is vanjaar selde aan sy sy afgeneem. Die vraag is hoeveel vernedering die presidentsvrou nog kan verduur. Stormy het immers aangekondig sy beplan om nog meer stories uit te lap.

“Ek dink dis tyd dat sy haar hele storie vertel,” sê haar prokureur, Michael Avenatti, “en tyd vir die publiek om te besluit wie die waarheid praat.” 

Bronne: Dailymail.co.uk, Newyorker.com, Latimes.com, Intouchweekly.com