Elke keer dat Alec Baldwin met sy twee klein maltesers gaan stap, Starbucks toe gaan of ’n galadinee bywoon, bedank iemand hom omdat hy pres. Donald Trump speel. “Dit gebeur gedurig,” sê hy.

“Dis vreemd. Dis belaglik. Ek sal nie verbaas wees as dit op my grafsteen staan nie.”

Sy uitbeelding van Trump op die komediesketsprogram Saturday Night Live het Alec (59) ’n Emmy besorg, en groter lof en openbare toegeneentheid as wat hy ooit as ernstige rolprentster geniet het.

Hy was ook medeskrywer van ’n parodiedagboek oor “The Donald” se eerste 100 dae, getiteld You Can’t Spell America without Me. Maar nee, hou hy vol, Trump is nie pret nie. “Pret sou gewees het as die behoefte hiervoor nie bestaan het nie,” sê hy. “Trump sou weg gewees het. Pret sou gewees het om hom oor die randjie te stoot waarheen hy op pad is.” 

‘Trump het die hele samelewing geestelik verswak. Selfs sy ondersteuners is depressief’

Alec Baldwin se uitbeelding van pres. Donald Trump van Amerika.

Alec se afkeer van Trump, wat hy as ’n “briesende, hatige, galbrakende casino- operateur” beskryf, het in sy eie familie skeuring veroorsaak. Hy vergelyk sy akteurbroer Stephen, ’n Trump-ondersteuner, met Rolf in The Sound of Music. Dié sluit by die Nazi’s aan.

“Daar is ’n spesiale soort spanning tussen ons, want ek kraak Trump elke Saterdag soveel af as wat ek kan en my broer hemel hom met elke asemteug op.” Sal dit ongemak om die Kerstafel veroorsaak? “Nee, want ek sal waarskynlik nie tyd saam met hom deurbring nie.”

By sy broers. Van links is William, Stephen en Daniel. Foto: Getty Images

Alec se enigste troos, en trouens die sleutel tot sy uitbeelding op Saturday Night Live, is Trump se aangebore mistroostigheid, sê hy.

“Wat ook al die uitkoms, hy is miserabel. ‘Ek wil ’n hamburger hê.’ Hy eet dit; hy’s miserabel. ‘Ek wil president wees.’ Hy word dit; hy’s miserabel.”

Die kiesers, sê hy, het The Apprentice gekyk en aanvaar Trump “is hierdie ervare, vergulde uitvoerende hoof wat hy op televisie voorgee om te wees, terwyl hy in die regte lewe hierdie vreemde, grillige seun in ’n toring is. Hy is Edward Scissorhands. Hy is iewers opgesluit en lei ’n baie afgesonderde lewe. Hy is nie ’n mensemens nie. En wat kan erger wees as om president te wees wanneer jy nie van mense hou nie?”

Ironies genoeg, as jy Alec se outobiografie, Nevertheless, lees, kom jy tot die slotsom hy het talle eienskappe met Trump gemeen.

Dié gedagte word in ’n mate bevestig wanneer jy hom ontmoet. Ons onderhoud is in die National Geographic-gebou in die middestad van Manhattan, waar Alec daardie aand die gasheer is by die opening van die oseanografiese “onderwatervermaak-ervaring”.

Ek wag ’n ruk in ’n vensterlose vertrek. ’n Glimlaggende vrou in ’n denimskouerbroek – sy lyk omtrent 15 – bring vir my ’n bottel water.

Dan verskyn Alec: fris maar slank, sy gryswordende hare so glansend soos altyd, voorarms soos harige hamme, die September-oorblyfsels van ’n sonbrand, gemanikuurde hande. Ek sit ’n stoel aan my linkerkant reg om dinge gemoedeliker te laat lyk, maar hy skuif dit terug om my reguit in die gesig te kyk, soos met ’n ondervraging.

Sy blou skrefiesoë sê: “Moenie met my mors nie.”

Hy probeer nie sjarmant wees of verbloem dat hy nie daar wil wees nie; dat hy bloot deur sy kontrak met die uitgewer van You Can’t Spell America without Me tot die onderhoud verplig word. Hy het net ’n bydrae van 5% tot die boek gelewer, erken hy terloops, deur notas en grappe te stuur na die skrywer Kurt Andersen, die stigter van die tydskrif Spy.

In sy beroemde asemrige gegrom verneem hy na die volgende vraag met ’n knorrige: “Wat het jy nog?”

En al smeer ek hom kwistig heuning om die mond, gee enige opmerking hom gou aanstoot. Ek kry die gevoel net een ondeurdagte vraag kan sy legendariese woede laat losbars.

Nes Elvis Presley het Alec twee loopbaanfases gehad: slank en wulps; gewigtig en afgeleef. Hy was slank, swaarmoedig en met indigo oë toe hy van sepies tot flieks gevorder het.

Hy het altyd die slegte kêrel of bose grootbaas gespeel: die minnaar vir wie Melanie Griffith in Working Gril saam met haar beste vriendin betrap, of in David Mamet se Glengarry Glen Ross op sy beste as die blikskottel wat gestuur word om die swakkelingverkoopsmanne af te dank.

“Ek was altyd wat hulle die ‘negatiewe waarde’ in ’n fliek noem,” sê hy. “Ek is mal oor daardie frase.”

Sy grootste rol was dié van Jack Ryan in The Hunt for Red October, maar vir die res van die trilogie is hy deur Harrison Ford vervang, ’n afjak wat hom sy vertroue in Hollywood laat verloor het. Baie jare lank daarna was elke fliek waaraan hy geraak het ’n loketramp.

In Nevertheless skryf Alec Harrison is in lewende lywe ’n “klein mannetjie, kort, skraal en seningrig, wie se sagte stem klink of dit van agter ’n deur kom”.

Ek vra hoekom hy byna 30 jaar later nog ’n behoefte aan wraak het. Hy trek woedend met ’n tirade los oor skelm vervaardigers wat voorgegee het hulle onderhandel met hom terwyl hulle Harrison reeds vir die rol gekry het. Dan sê hy: “Ek ken mense wat ’n wonderlike loopbaan as rolprentster gehad het, maar hul spel is nie noodwendig van die beste nie. Hul flieks maak dalk meer geld, maar ek dink nie my talent kan met hulle s’n vergelyk word nie.”

Hy gluur my aan. “Hulle is soos ’n waterpistool vergeleke met ’n masjiengeweer.”

Alec was die ou wat altyd ’n rol aangebied is lank nadat Robert de Niro of Al Pacino dit van die hand gewys het. En hy is te fyngevoelig, heethoofdig en intelligent om dit as onbelangrik af te maak. Hy erken wel hy het slegte besluite geneem.

Ek kry die gevoel net een ondeurdagte vraag kan sy woede laat losbars.

In die voorwoord van Nevertheless sê hy hy het dit net geskryf om geld te maak. Dié geldsug het hom sy lewe lank voortgedryf: Dit het sy oordeel belemmer, hom ’n miljoen dollar laat aanvaar vir ’n derderangse fliek bo wat waarskynlik ’n Broadway-treffer sou word. Met die skadu van sy pa wat by hom spook, meet hy alles aan geld en sukses.

Sy pa was ’n platsak Iers-Katolieke onderwyser wat, terwyl sy kollegas winsgewende tweede werke gekry het, die sokkerspan verniet afgerig het. As die oudste van ses kinders het Alec in ’n chaotiese tweeslaapkamerhuis in Massapequa, Long Island, grootgeword. Sy helderste herinnering aan sy ma is oor haar stryd met wasgoed.

Tog het die vorige generasie van sy familie gemak en aansien geniet. Sy oupa aan vaderskant, ’n staatsaanklaer in New York, is van omkopery aangekla. Hy is vrygespreek, maar van die rol geskrap en het hom daarna aan drank en dobbelary oorgegee. Alec het grootgeword met die idee dat alles swaar verdien en maklik verloor word.

Terwyl hy aan die George Washington-universiteit regte studeer het met die oog op ’n politieke loopbaan om sy JFK-mal pa te behaag, het Alec op die ingewing van die oomblik ’n oudisie afgelê vir ’n toneelkursus aan die Universiteit van New York. Hy het ’n beurs gekry.

As akteur het hy maklik sukses behaal, hoofsaaklik danksy sy voorkoms. Ek sê bewerig ek wil graag oor manlike skoonheid praat. Sy oë helder op. Jy het in daardie dae seker jou hande vol gehad met die vroue, is my vraag. “Ek het my deel daarvan gehad, ja,” sê hy.

“As jy baie jonk is, is dit belangrik.”

Where did he go?

A post shared by Alec Baldwin (@iamabfalecbaldwin) on

En toe ons van die onderwerp afdwaal, keer hy daarna terug: “So manlike skoonheid . . . wat wou jy sê?”

En hy blaai deur my eksemplaar van Nevertheless op soek na ’n foto van hom in sy 20’s, peinsend en viriel. “Waar’s hy heen?” prewel hy. “Wat het met hom gebeur?”

Tog het Alec eers toe hy nie meer so goed lyk nie, gewig aansit en rolle vertolk wat sy vroeëre beeld van ’n magtige man in ’n pak ondermyn, eindelik geliefd geraak – as die televisiebaas Jack Donaghy in Tina Fey se sitkom 30 Rock (“die beste werk wat ek ooit gehad het”) of as die geskeide man wat by sy eksvrou (Meryl Streep) vlerksleep in It’s Complicated. In een toneel hardloop hy kaal in die kamer rond soos ’n dierbare, mollige beer.

Alec is ook bekend vir sy rol in Tina Fey (naaslinks) se sitkom 30 Rock. By hulle is Trump en dié se vrou, Melania, in 2007 by ’n geselligheid in Hollywood.

“Jack Nicholson het my geleer ’n mens kan nie enigsins ydel wees nie. Jy moet net die rol vertolk, en wie gee om?”

Selfs in sy jeugdige glorie, ’n televisiester met groot rolle wat wink, ’n kas vol Italiaanse pakke en ’n huis in Malibu, het hy ontevrede gevoel, leeg.

Hy vertel hoe hy op 27 hom eenkeer aan kokaïen vergryp het, pas ná sy pa se dood, en dit gevoel het of sy hart gaan “oopbars. Vir alle mense met ’n dwelmverslawing en alkoholisme is sukses vreemder as mislukking. Sukses intimideer jou. Hoe meer sukses ek behaal het, hoe meer werk ek gekry het en hoe meer geld ek gemaak het, hoe ongelukkiger was ek.”

Hy het die dwelms gelos, maar daardie eksistensiële leegheid het voortgeduur. En toe, terwyl hy in 1990 The Marrying Man maak, ontmoet hy Kim Basinger, ’n “suiwer, onversetlike beeldestormer . . . wat geweet het Hollywood is vol nonsens, en tensy jy alles gaan uithaal, sal jy gelukkiger wees as jy dit nie so ernstig opneem nie”.

Hy en sy eerste vrou, Kim Basinger, is nie op goeie voet uitmekaar nie.

Die huwelik was stormagtig, en net toe hy wou skei, raak Kim swanger met hul dogter, Ireland. Dwarsdeur die 1990’s het hulle flieks “gekettingrook”, soos hy dit stel, die een met die ander een aangesteek, en hul baba saamgeneem stel toe. Kim se hardkoppige te-hel-met-jou-eienskappe het syne aangevuur.

Alec sê hy is geneig tot vervolgingswaan en agterdog. Voel hy sy loopbaan word gekniehalter deur sy opvlieënde en moeilike temperament, ’n weiering om te flikflooi en die spel te speel? vra ek versigtig.

“Dis baie veralgemenend van jou om te sê opvlieënd en moeilik,” sê hy en klink opvlieënd en moeilik.

Dan erken hy: “Ek het dit nie altyd vir myself maklik gemaak nie. Ek wou dinge op my voorwaardes hê.”

Hy het ’n reputasie vir fone stukkend gooi en woede-uitbarstings.

Alec, sy dogter Ireland (links) en tweede vrou, Hilaria, in 2015 by ’n geselligheid.

Toe hy ná sy egskeiding gefrustreerd was omdat hy – strydig met die hofbevel – 10 dae nie met Ireland oor die foon gepraat het nie, het hy sy 11-jarige dogter in ’n boodskap op haar foon ’n “vark” genoem. Hy was so skaam toe die bandopname uitlek dat hy wou sterf.

“Ek dink soms aan die verlede en raak baie hartseer en depressief oor die tyd wat ek met my dogter verspeel het.”

Sy is nou 22 en hulle kom baie goed oor die weg.

Just....just....too much @irelandbasingerbaldwin

A post shared by Alec Baldwin (@iamabfalecbaldwin) on

Alec het ’n reputasie vir uitbarstings in die openbaar. Hy is uitdagend oor die keer dat hy ’n steelfotograaf bygedam het en hou vol dié het Kim in die gesig gespoeg. Hy het vir ’n ruk ophou twiet nadat hy ’n verslaggewer ’n “toxic little queen” genoem het. Dit was nadat dié beweer het Alec se tweede vrou, Hilaria, het by ’n begrafnis teksboodskappe gestuur.

Op ’n vlug na New York het Alec met ’n lugwaardin stry gekry toe sy hom vra om op te hou om Words with Friends op sy selfoon te speel. Hy is van die vliegtuig afgeskop. “Daardie vrou was ’n Republikein. Sy het by vier ander mans verbygeloop wat hul foon gebruik en net op my gepik. Dit was heeltemal polities. Sy is ’n regsgesinde.”

Sy humeur, sê hy, het verbeter sedert hy getroud is met Hilaria, ’n joga- instruktrise wat 26 jaar jonger is as hy. Sy het sy dieet reggeruk en hom “meer zen” gemaak.

“My vrou sê: ‘Jy moet besef: As jy aan die aas byt, verloor jy.’ En ek het klein kinders; ek wil nie in die sop beland, hof of tronk toe moet gaan of iets aakligs laat gebeur nie.” (Tog het hy ’n week ná ons ontmoeting tydens ’n rusie met ’n motorbestuurder uit woede sy koeldrank op die sypaadjie neergesmyt.)

Hy sê hy was verlore wanneer hy in sy egskeidingsjare vroue uitgeneem het en wei uit oor hoe Hilaria hom gered het: “Sy is uniek. Sy is baie wys en weet wat saak maak. Ek moet haar uit die huis sleep om te gaan skoene koop. Wanneer ons eers daar is, geniet sy dit gate uit, maar sy is nie materialisties nie. Dis byna onmoontlik om lank neerslagtig te wees terwyl sy in die omtrek is.”

The one thing I wanted to bring home last night...

A post shared by Alec Baldwin (@iamabfalecbaldwin) on

En anders as Kim, met haar mededingende loopbaan en Oscar, is sy nie in die rolprentbedryf nie.

Alec en Hilaria se drie kinders is binne vier jaar gebore. Op sy openbare Instagram-blad sien jy hom stories lees vir Carmen (4), Rafael (2) en Leonardo (1) . Met dié dat hy self uit ’n groot, onhebbelike familie kom, is sy gesin die middelpunt van sy geluk.

“Ek het uitgevind ek is die vrugbaarste man in die wêreld en my vrou die vrugbaarste vrou in die wêreld,” sê hy. “Ons het drie kinders gehad, soos boem, boem, boem! En my vrou wil nog een hê. Ek gaan ’n beleggingsbankier moet word; kinders is ’n duur storie in New York.” En dit lyk of Hilaria (33) se wens vervul is: Die bababoep waarmee sy in November gespog het, bevestig sy verwag hul vierde kind.

It’s another magic cake...

A post shared by Alec Baldwin (@iamabfalecbaldwin) on

Elke besluit gaan nou daaroor om soveel geld moontlik in die minste tyd weg van hulle te verdien. Alec bied die vasvraprogram Match Game aan. ’n Mens sou dink dis ver benede sy talent en statuur. Hy sê hy het al ter wille van sy kinders vir drie regisseurs nee gesê – al wou hy so graag met hulle saamwerk dat hy altyd gesweer het hy sou alles daarvoor los.

Talle aanhangers voel hy het nog ’n groot fliek in hom, een waarin hy eindelik kan wys hoe talentvol hy is. Maar hy haal sy skouers op. “Die dae dat ek berge versit het om rolle te kry om iets aan die publiek of die mense in my bedryf te bewys . . . daardie dae is verby.”

Tuis skakel hy sy foon af; almal met wie hy wil praat, is onder sy dak. Hy sê hy sal waarskynlik oor vyf jaar ophou toneelspeel en haal Cary Grant aan, wat afgetree het sodat niemand hom op die skerm sou sien verouder nie.

Hy vertel van ’n gesprek met die eksvrou van ’n rolprentster, ’n werkslaaf wat nooit hul seun gesien het nie. En toe sterf die seun: “Dit het hom vernietig, want hy het besef jy kan nooit teruggaan en daarvoor vergoed nie. Hy’s weg. Sy het vir my gesê: ‘Wil jy dit op die skerm speel of in die regte lewe beleef? Party mense kan albei doen, maar die meeste nie.’

Saturday Night Live pas hom perfek, want dis naby die huis en ’n uitlaatklep vir sy woede.

Regdeur sy loopbaan het gerugte die ronde gedoen Alec sou hom as senator, burgemeester of goewerneur van New York verkiesbaar stel. Maar sy passie vir politiek het getaan.

“Toe word ek 40, toe 45. En nou word ek met my volgende verjaardag 60.”

Trump is veel ouer, laat ek hoor. Dink net hoe dit sou wees om in 2020 teen sy grootste folteraar te staan te kom.

“Dit kan fantasties wees, ja.” Toe, in ons laaste paar minute, gee hy ’n woedende oorsig van Trump se tekortkomings.

“Hy het die hele samelewing geestelik verswak. Selfs sy ondersteuners is hartseer, depressief en verward.”

Dan verklaar hy: “As ek president van Amerika was . . .” Hierop volg ’n kort toespraak oor hardwerkende Amerikaners. Hy wil hê ek moet weet hy kan wen as hy wil – nes hy daardie ontwykende Oscar kan wen as hy sou probeer. Jy moet jouself verkiesbaar stel, sê ek.

“My vrou sal my skei. Wil jy haar ontmoet?” vra hy en maak ’n deur oop wat na ’n kleedkamer lei.

Die glimlaggende tienermeisie wat vroeër vir my water gebring het, skud my hand. Dis Hilaria! Ek het haar nie herken nie; dis seker vanweë die skouerbroek. Op foto’s lyk sy beheers en gesofistikeerd, maar in lewende lywe wek sy die indruk van ’n sonnige, ontspanne, ongekompliseerde mens. (“Ek is so ’n tipiese mamma,” sê sy.)

Dan vra sy of ek nog water wil hê. Skielik maak al Alec se keuses vir my sin.

© Janice Turner/The Times Magazine/News Syndication

Fotos: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM