Vision Semicon, ’n maatskappy wat in kunsmatige intelligensierobotte spesialiseer, het ’n robotiese barista- en kelnerstelsel ontwerp wat nou in ’n kafee in Daejon in Suid-Korea ontplooi is. 

“Hier’s jul lattes, geniet dit. Dit smaak selfs beter as jy dit roer,” sal ’n wit R2D2-agtige robot byvoorbeeld laat hoor wanneer dit ’n skinkbord met drinkgoed na ’n tafel karwei. Vision Semicon sê hul stelsel het “van bestelling tot bediening geen insette van mense nodig nie”.

In die prototipe virusveilige koffiekafee word tafels verder uitmekaar as normaalweg gerangskik "sodat die robotte vrylik kan rondbeweeg.” Alles skakel goed in by Suid-Korea se beleid van “distansiëring in die daaglikse omgang”, noudat die land baie van sy inperkingregulasies opgehef het.

Met sy robotarm wat 60 verskillende soorte koffie aanmekaar kan slaan en sy kelnerrobot kan die stelsel byvoorbeeld ’n bestelling van ses drankies binne minder as sewe minute afhandel. Die enigste vlees-en-bloed-werknemer in die kafee is daar om met die hervulling van bestanddele te help en bepaalde skoonmaaktakies te verrig. 

Baie mense het natuurlik bedenkinge oor die Daejon-kafee se benadering tot die pandemie-uitdagings. “Robotte is pret, en dis gerieflik dat jy nie self jou bestelling hoef te gaan kry nie.

"Maar ek’s ook bekommerd oor wat dit aan die arbeidsmark kan doen. Baie van my vriende doen deeltydse werk by kafees, en hierdie robotte sal mense eindelik vervang,” het een koffiedrinker daar dit saamgevat.

Hier’s ander planne waarmee die restaurantbedryf wêreldwyd intussen vorendag gekom het:

EK KYK GRAAG SO DIEP IN JOU OË… DEUR MY PLASTIEK-KOEPEL

Plex’eat het dalk ’n oplossing waardeur uiteet – darem soveel romantieser as wegneemetes – met gemoedsrus hervat kan word. Jy en jou liefde sit elkeen in ’n plastiekhulsel by jul tafel. Plex’eat se persoonlike antiviruskoepels lyk min of meer soos groot deursigtige lampskerms wat bo die tafel aan die plafon hang. 

H.A.N.D. in Parys, Frankyk, is een van die eerste restaurante wat dié toerusting vir distansiëring tussen gaste onderling en gaste en restaurantpersoneel nou beproef.

Die ontwerper Christophe Gernigon het sy konsep gegrond op iets wat hy in ’n winkel in Bangkok gesien het - individuele koepels oor stoele waarin ’n mens kan sit en musiek luister - en die soort groot gesigskerms wat te midde van COVID-19 opgeduik het.

SELFS AFSONDERLIKE GLASHUISIES

Die restaurant Mediamatic ETEN in Amsterdam gaan nog ’n stappie verder deur jou en jou gas in jul afsonderlike glashuisie op ’n rivieroewer – net langs hul normale hoofgebou – te laat bedien… deur kelners wat beskermende skilde dra.

Party koffiekroeë in Rome se middestad het ook stylvolle glasafkortings aangebring wat tafels in die middel verdeel… straks net die ding vir ’n vinnige sakeontmoeting.

MANNEKYNE OM KLANTE UITMEKAAR TE HOU

Augustas & Barbora in die Litause hoofstad Vilnius is een van die restaurante wat nou begin het om winkelpoppe by elke tweede tafel te sit om klante uitmekaar te hou. Die kamma-gaste word boonop hetsy in slenterdrag of baluitrustings uitgedos. Enersyds word die werk van plaaslike ontwerpers só te toon gestel, en andersyds, “wou ons net die ruimtes met prettige dinge vul”, het die restaurant verklaar.

TEDDIEBERE VIR KNUSSER ATMOSEER

Die Beef ’n Beer in Hofheim meen weer groot teddiebere by leë tafels dra by tot ’n geselliger, minder kliniese, atmosfeer wanneer gaste met ’n veilige afstand tussen hulle aansit. Nog ’n uitbreiding op dié tema kry jy by die Maison Saigon in Viëtnam, waar net een mens per tweesitplektafel toegelaat word, maar die leë stoel oorkant jou deur ’n oulike opgestopte panda gevul word.


SPESIALE HOEDENS OM GASTE HUL AFSTAND TE HELP BEHOU

Maar Café Rothe in die stad Schwerin het dalk nog meer mense laat grinnik met hul pasgemaakte ‘swembadnoedel-hoedens’, wat fisies help keer dat gaste te op mekaar sit of te ver na mekaar toe oorleun. “In hierdie uitdagende tye is dit ‘n plesier om ander te laat glimlag,” het die eienaar laat hoor.

GEEN SPYSKAARTE WAARAAN VIRUS KAN KLEEF

Spyskaarte behoort tot die verlede by die Barcelona-strandfrontrestaurant El Salamanca. Pleks daarvan gebruik klante hul slimfone om QR-kodes te skandeer wanneer hulle besluit wat hulle wil eet en bestellings plaas.

Griekse tavernas gebruik byvoorbeeld ook weggooibare spyskaarte of gelamineerdes wat ontsmet kan word en rus hul personeel met ontwerpermaskers of -gesigskerms toe.

DEEGLIKE ‘DEKONTAMINASIE’ VOOR JY AANSIT, MET RASIELEIERS WAT JOU AANPOR

By Cheers One in Tokio dra kelners wat as rasieleiers uitgedos is asook gaste sowel maskers as gesigskerms. Voor hulle aansit ondergaan klante 'n multi-stap-proses, wat temperatuurmetings, ontsmettende voetmatte en verskeie reiniger-bespuitings insluit.

HIER’S JUL KOS PER FOEFIESLAAID

Die Sweedse restaurant Bord för en open daagliks vir een bespreking op ’n slag. Die gas sit by ’n enkele tafel aan by die eetplek wat oor ’n afgesonderde weiveld, ver weg van alles en almal, in die dorpie Ransäter uitkyk.

Koningskos soos seewier-kaviaar, bloubessies met jenewer en bevrore karringmelk en Sweedse plaatkoekies word in die restaurantkombuis 50 meter weg deur eienaars Rasmus Persson en Linda Karlsson berei. Dan word elke dis in erdepotte geskep, in ’n mandjie gepak en aan ’n soort katrolstelsel gehang wat dit deur die kombuisvenster tot regstreeks op jou tafel karwei.

Wanneer jy reg is vir die volgende gereg lui jy bloot ’n klokkie. Andersins is daar nie veel interaksie nie, het Linda vertel. “Een gas het byvoorbeeld al vir ons van ver af geskreeu dat die kos baie lekker was, maar daar word nie verder geklets nie.”

Bronne: weforum.org, apnews.com, japantoday.com, insider.com, wired.com, Facebook, YouTube