Haar gunsteling was ’n boereworsrol. ’n Tjoppie oor die kole was ook lekker, maar niks kon kom by ’n lekker, sappige stukkie wors nie . . .

Maar dit was in die goeie ou dae – die dae voor sy langs die vleisbraaivuur moes verduidelik: “Ek is allergies vir braaivleis.”

“Mense verstaan dit nie,” sê Jeandré Oosthuizen (20).

“Hulle dink net ek is vol nonsens en karring: ‘Ag, eet hierdie klein stukkie vleis.’

Hulle besef nie hoe gevaarlik dit is nie.”

Sy haal haar bril af om die trane weg te vee terwyl ons in ’n ontbytplek in George gesels oor haar seldsame allergie wat ná ’n bosluisbyt toegeslaan het.

Sy eet vanoggend net eiers op roosterbrood, want dis nie net braaivleis wat sy nie meer kan eet nie.

“En ek was altyd so lief vir braaivleis”

Sy is allergies vir alle vleis van soogdiere soos skaap, bees en vark, en vir enige produkte van hierdie diere, soos ’n kapsule of geurmiddel wat gelatien bevat of hoenders wat beenmeel gevoer is.

Hier aan die ontbyttafel is spek taboe – ook melk, botter, kaas en jogurt.

Nadat verskillende huisdokters kopgekrap het oor wat presies die allergiese reaksie by haar veroorsaak, is hierdie allergie vir rooivleis in Desember verlede jaar by haar gediagnoseer.

Dit was nadat ’n bloedtoets volgens ’n patoloog se verslag ’n baie hoë vlak van die koolhidraat alfa-gal in haar bloed getoon het. Dié koolhidraat kom in die vleis van soogdiere buiten mense en ander primate voor.

Rooivleis. Foto: Gallo Images/ Getty Images

In Amerika het navorsing getoon die Lone Star-bosluis, waarvan verwante spesies in Suid-Afrika voorkom, kan die “draer” wees van die alfa-galkoolhidraat nadat dit op soogdiere gevoed het.

Ons word dan op verskillende maniere gesensiteer, vertel prof. Mike Levin van die Allergiestigting van Suid-Afrika. Wanneer die koolhidraat met ’n bosluisbyt aan die mens oorgedra word, kan dit in seldsame gevalle die mens sensitief maak vir die alfa-gal-koolhidraat en ’n allergiese reaksie op rooivleis en verwante diereprodukte veroorsaak.

“My dood was altyd boereworsrolle,” sê Jeandré en lag wrang, want nou kan dit haar letterlik in ’n koma laat verval en haar dood beteken. Sy kan wel vis en pluimvee soos hoender en volstruis eet. Maar moenie dink sy kan vir haar ’n stukkie hoender eenkant op die rooster braai nie.

As rooivleis aan die rooster geraak het en haar hoender met daardie gedeelte in kontak kom, is dit genoeg om ’n allergiese reaksie te ontlok. Selfs wanneer haar kêrel, Kevin Fry (19), haar soen nadat hy vleis geëet het, kry sy ’n veluitslag.

Jeandré se ma, Jorita (48), kyk met medelye na Jeandré terwyl sy vertel van haar lippe wat soos “trekkerbande opgeswel het” en die nagte wat sy nie kon asem kry nie voor hulle uitgevind het wat fout is.

Jeandré raak emosioneel wanneer sy oor haar allergie praat, veral omdat mense dink sy sit aan.

Dan sug Jorita: “Watter erger allergie kan ’n mens in Suid-Afrika hê as vir rooivleis?”

Wanneer die res van die gesin – Jorita, haar kêrel, Mark Jacobson (54), haar seun, Jacques (24) en sy verloofde, Tasha Jacobson (25), braai – gaan maak Jeandré haar eie kos, soos pasta met hoender, in die kombuis.

Sy leef na aan die natuur in Denneoord, ’n uitbreiding van George in die Suid-Kaap waar bokke en ander diere uit die omliggende woude gereeld in hul oorgroeide tuin kom kuier.

Vandaar kan die gesin se drie katte en drie honde maklik bosluise in die huis inabba. Op 14 Julie verlede jaar het ’n bosluis haar op haar linkervoet gebyt. Sy was in die salon waar haar ma as haarkapper werk toe dit vir haar begin voel asof haar voet “aan die brand” is en sy die bosluis op haar vel sien.

Sy gil toe: “Bring die tweezer, ma!” Maar vandag vertel sy: “Dit was die verkeerdste ding wat ek kon doen.”

Jeandré het sedertdien uitgevind dit is beter om nie ’n bosluis te probeer aftrek nie, want sy pootjies en bek kan aan jou vel afbreek en jou verder besmet.

Die gogga moet eerder met die soort ys verwyder word wat vir vratjies gebruik word. Dit kan ook versigtig – sonder om druk op die bosluis se lyf uit te oefen – gedoen word met ’n spesiale haartangetjie met ’n fyner punt as die gewone een waarmee wenkbroue gepluk word.

Haar lippe het in November opgeswel weens die allergie.

’n Maand later het Jeandré uit die bloute ’n allergiese reaksie getoon.

“My hele liggaam het uitgeslaan; dit het soos masels gelyk,” vertel sy.

Sy het ’n paar uur tevore braaivleis geëet, maar hulle het gedink sy is dalk allergies vir die tamatie op die braaibroodjies. Eers later het dit geblyk dit was haar eerste allergiese reaksie op rooivleis.

Sy het by die apteek antihistamien gekry en die uitslag het ’n paar dae later verdwyn. Op 12 November is sy weer deur ’n piepklein bosluisie gebyt; dié keer aan die been. Aanvanklik het sy geen reaksie op die byt getoon nie, maar enkele dae later, op 19 November, het sy om halfdrie die oggend wakker geskrik nadat sy die vorige aand ’n stukkie wors geëet het.

“Ek kon nie my gesig voel nie. My lippe wou bars. Ek het soos Angelina Jolie gelyk, maar nie op ’n goeie manier nie. Om al my litte was groot, rooi kolle. Dit het gevoel asof warm sement deur my are loop.”

’n Uitslag wat soos masels lyk, is ook ’n simptoom van dié allergie.

Haar ma het vir haar antihistamienpille ingejaag, maar die uitslag was so hardnekkig dat dit eers twee dae later opgeklaar het. Drie dae later, nadat Jeandré die vorige aand ’n steak geëet het, het sy weer om halfdrie die oggend wakker geskrik.

Sy het gesukkel om asem te kry, haar gewrigte het gepyn en haar arms het gejeuk. Herhaaldelike gebruik van ’n asmapompie en antihistamien het verligting gebring, maar sy het steeds die volgende dag gevoel asof ’n bus oor haar bors en keel gery het, sê sy.

‘Ons het gedink dis dalk die MNG-geurmiddel in die wors. Tog net nie die tjoppies nie’

Nadat ma en dogter haar simptome op Google ingetik het, het hulle begin vermoed sy het dalk ’n allergie vir rooivleis ontwikkel en ’n dokter gevra om ’n bloedtoets te doen. “Ons het gedink dis dalk die MNG-geurmiddel in die wors. Tog net nie die tjoppies nie . . . ” onthou Jorita.

Op 12 Desember het die uitslag van die bloedtoets hul vermoede bevestig en ’n rooivleisallergie is amptelik by haar gediagnoseer – toevallig op dieselfde dag dat Burger King ’n tak in George geopen het.

“Ons was almal so opgewonde daaroor,” sê Jeandré, wat nou dalk nooit een van dié bekende burgers sal kan proe nie. Selfs al eet sy hoender, moet sy seker maak die meul waarin die vleis gemaal is, is nie ook vir rooivleis gebruik nie.

Dis sedert haar diagnose ’n oneindige stryd om seker te maak Jeandré kry geen neweprodukte van soogdiere in nie. Stowwe soos gelatien, keratien, vitamien D3 en nog vele ander is vir haar op die gevaarlys.

Jorita het ’n vergrootglas gekoop om die bestanddele op etikette te fynkam. Jeandré skryf nou selfs aan die vervaardigers van ontbytkos en medisyne om seker te maak hul produkte bevat geen spore van soogdierprodukte nie.

Sy het roomys met kokosneutroom leer maak en gebruik seep sonder dierevette. ’n Kenmerk van die allergie is ’n vertraagde reaksie nadat die persoon aan rooivleis of ’n neweproduk blootgestel is; daarom is dit soms moeilik om vas te stel wat presies die reaksie veroorsaak.

Die geur van vleis wat gaargemaak word en selfs biltong in ’n winkel het haar al laat naar word. By ’n alfa-gal-steungroep op die internet het Jeandré en Jorita al waardevolle raad gekry. “Wanneer haar kopvel begin jeuk en haar mond swel, kan ek seker wees sy gaan tussen drie en ses uur later ’n reaksie hê,” weet Jorita nou.

Jeandré loop nou met ’n adrenalienspuit in haar handsak rond vir ’n noodgeval. “Dis nie lekker nie,” sê sy. “Maar ek maak die beste daarvan eerder as om alewig te kla. Ek wil net veral ouers hiervan bewus maak.

“Ma’s, voor julle jul babas op die gras neersit, kyk uit vir bosluise. Jy weet nie wat in hul ingewande skuil nie.”

Lees meer hier
Gaan na allergyfoundation.co.za en die Facebookblad @SAallergy vir nog inligting.