Vier jaar nadat die hooggeregshof in Kaapstad Shrien Dewani (38) onskuldig bevind het aan die moord op sy vrou, Anni (28), lyk hy baie gelukkig in die arms van die Brasiliaans gebore Gledison Lopez Martins. 

Shrien en sy nuwe kêrel, Gledison Lopez Martins. Foto: Instagram

Anni en Shrien was op hul wittebrood in 2010 in die Kaap toe hulle gekaap en Anni doodgeskiet is. 

Dit het op die eerste dag van die verhoor uitgekom dat Shrien biseksueel is en vir seks betaal het met ’n Duitse manlike sekswerker, Leopard Leisser, wat ook bekendgestaan het as die “German Master”. Leopold is in September 2016 dood in sy woonstel aangetref nadat hy homself gehang het. 

Shrien op die bors van sy spiertier-ou, Gledison Lopez Martins. Foto: Instagram

Anni se familie vertel aan Daily Mail dat hulle steeds nie kan aangaan met hulle lewe ná Anni se wrede dood agt jaar gelede nie. “Shrien het nog nie met ons daaroor kom praat nie.

“Ons het nog nie aanbeweeg nie. Ons aanvaar hy het Anni nie vermoor nie, maar hy het vir ons gelieg en het ’n geheime gay lewe. Hy skuld ons ’n verskoning vir sy leuens,” sê Anni se oom, Ashok.

Die vermoorde Anni Dewani. Foto: Facebook

Hulle het eers geleer van Shrien se biseksualiteit tydens die verhoor, want Shrien wou nie met Anni voor die huwelik seks hê nie, berig Daily Mail.

Maar Shrien lyk heel gelukkig in die arms van sy nuwe liefde. Die twee gaan glo al 18 maande uit en het al verskeie vakansies in Indië en die Spaanse partytjie-eiland Ibiza gehad.

Shrien en Gledison het ook lekker uitgespan tydens hul vakansie in Mumbai, waar hy en Anni in 2010 getrou het. 

A post shared by SD (@shrien.dewani) on

Anni was glo ook nooit bewus van Shrien se seksuele oriëntasie nie. Shrien se ouers het intussen sy kêrel met ope arms verwelkom te oordeel na die foto’s uit 2017 waar hy en Shrien saam met die Dewani-gesin by restaurante uiteet en selfs met die Dewani-familie Kersfees deurgebring. Gledison is selfs Facebook-vriende met Shrien se ouers, Shila en Prakash.

Foto’s van Shrien wat op Gledison se gespierde bolyf lê en slaap, pryk op Gledison se Instagramblad. Gledison se Instagramprofiel is vol halfnaak prente van hom wat sy spiere wys. 

Gledison wys gereeld lyf op sy Instagramblad. Foto: Instagram

Dit lyk asof hy vir Shrien aangesteek het met sy fiksheidsleefstyl. Shrien laai deesdae gereeld foto’s van die gim en aanhalings oor ’n fikse leefstyl en gesonde maaltye op sy Instagramprofiel.

Shrien het ook ’n video opgelaai van hom en Gledison by ’n dieretuin waar gehoor kan word hoe Shrien lekker lag vir sy kêrel wat roomys aan ’n apie gee. 

A post shared by SD (@shrien.dewani) on

Ashok sê Dewani moet maar sy lewe geniet. “As hy in Ibiza is, hoop ek hy geniet die strande. My familie en ek sal nooit weer dieselfde wees nie, want Anni was mal oor die strand en elke keer as ons daar is, is ons in trane.” 

Drie mans, Zola Tongo, Mziwamadoda Qwabe en Xolile Mngeni is almal tronkstraf opgelê vir hul rol in Anni se moord. Die drie het in die hof getuig dat Shrien hulle gehuur en betaal het om Anni tydens ’n besoek aan Gugulethu in Kaapstad op hul wittebrood dood te skiet. Shrien het hulle as leuenaars bestempel en die hof het hom onskuldig bevind.