Dis een van die vele mediese gonswoorde wat jy deesdae hoor: teenliggaampies. En almal wil dit hê.

Want sodra jy ’n virus gehad het, ontwikkel jy teenliggaampies – die onsigbare “soldaatjies” wat in jou liggaam rondbeweeg en vir ’n ruk teen die infeksie baklei.

Maar is dit werklik beskerming teen nog aanslae deur die coronavirus? En kan dit jou ook beskerm teen die nuwe variant? Hoe weet jy of jy teenliggaampies het, en hoe werk dié verdedigingstelsel van jou liggaam?

WAT IS TEENLIGGAAMPIES?

Teenliggaampies is proteïene wat immunoglobuliene of Igs genoem word.

Dit word deur die liggaam vervaardig as verdediging teen ’n infeksie, verduidelik dr. Vidya Lalloo, ’n spesialis in noodgeneeskunde by die Steve Biko Akademiese Hospitaal.

“Daar is vyf klasse teenliggaampies, maar as ons oor immuniteit praat, verwys ons gewoonlik na IgM- en IgG-teenliggaampies.”

Immunoglobulien M (IgM)

Dit is die eerste teenliggaam wat vervaardig word wanneer ons ’n infeksie opdoen.

Vervaardiging begin vinnig, binne drie tot 10 dae nadat ’n infeksie opgedoen is, sê Vidya. Maar die produksie daal binne enkele weke.

Immunoglobulien G (IgG)

Hierdie teenliggaam word gewoonlik later geproduseer, ongeveer sewe tot 21 dae ná infeksie, en in gewone omstandighede duur die produksie maande of selfs jare langer as IgM.

Ongeveer 70-80% van die immunoglobuliene in die bloed is IgG, en vorm die grondslag van langtermynimmuniteit.

Wanneer jy ’n infeksie het (behalwe by covid-19) bou die liggaam ’n katalogus van IgG-teenliggaampies op wat vinnig herproduseer kan word wanneer dit weer aan dieselfde infeksie blootgestel word.

Gewoonlik word genoeg IgG by mense met normale immuunstelsels vervaardig om herinfeksie te voorkom.

Maar dit lyk asof covid-19-teenliggaampies net beperkte beskerming teen herinfeksie bied.

“Hierdie teenliggaampies neem ook vinnig af, en by sommige pasiënte kan dit twee tot drie maande ná besmetting onopspoorbaar wees,” sê dr. Howard Newman, ’n kliniese viroloog by PathCare.

HOE WEET EK OF EK TEENLIGGAAMPIES HET?

Die meeste apteke, insluitend Clicks en Dis-Chem, bied toetse aan met vinnige uitslae teen bekostigbare pryse.

Groot patologielaboratoriums bied omvattender toetse aan.

In ’n apteek

’n Paar druppels bloed van ’n vingerprik is nodig vir ’n laterale vloeistrooktoets waar ’n lyn sigbaar word as teenliggaampies voorkom.

Sommige van die toetse kan sowel IgG as IgM meet, sê Newman.

Maar omdat nie alle fabrikate van laterale vloeitoetse albei – IgG en IgM – optel nie, is dit miskien nie so akkuraat soos ’n toets wat in ’n laboratorium gedoen word nie.

  • Voordele: Uitslae is binne 15-30 min beskikbaar. Koste tussen R130 en R150.
  • Nadele: Vinnige teenliggaampietoetse is nie volmaak nie en kan vals as positief aangedui word.
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

In ’n laboratorium

Daar moet genoeg bloed in ’n buis getrek word vir ’n serologietoets.

Laboratoriumtoetse is meer gesofistikeerd: Tegnici gebruik ’n proses wat die binding van teenliggaampies en proteïene meet, genaamd ’n ensiemgekoppelde immuunsorberende essai (ELISA), wat die sensitiefste resultate lewer.

  • Voordele: Vals positiewe is seldsaam.
  • Nadele: Uitslae kan tussen 24 en 48 uur duur.

’n Laboratoriumtoets kos meer: tussen R225 en R274, afhangend van die laboratorium wat jy besoek.

WAT IS DIE VOORDELE VAN TOETSE?

’n Covid-19-teenliggaamtoets is veral nuttig om onlangse infeksies te identifiseer, ook by asimptomatiese mense, sê dr. Lee-Anne Godinho, spesialis by die Mediclinic Midstream-hospitaal naby Pretoria.

Medies gesproke is die teenliggaampietoetse voordelig op drie vlakke:

Diagnosties

Wanneer ’n covid-19-toets negatief is, maar ’n pasiënt covidsimptome het.

As ’n pasiënt simptome soortgelyk aan post-covid-komplikasies het, maar nie ’n covid-19-toets gehad het nie.

As daar ’n verskil in toetsuitslae is.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Navorsing 

  • Om skenkers vir herstellende plasmabehandeling te identifiseer. Plasmaterapie vir covid-19 is nog in die studiefase.
  • Om te kyk of entstowwe suksesvol genoeg teenliggaampies produseer by dié wat ingeënt is.
  • Om die voorkoms van die siekte in ’n bevolking te bestudeer.

Sifting

  • Vir mense sonder simptome in hoërisikoberoepe wat covid gehad het.
  • Vir asimptomatiese individue in kwarantyngeriewe.
  • Vir asimptomatiese pasiënte voor opname in die hospitaal vir elektiewe prosedures.

IS EK DAN VEILIG – EN WAT VAN DIE NUWE VARIANT?

Jy het ’n mate van immuniteit teen die coronavirus as jy reeds teenliggaampies opgebou het. Hoe lank immuniteit duur, is een van die groot vrae in die pandemie.

Navorsing duur nog voort. Jy moet altyd optree asof jy in gevaar is, meen die kenners.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes van Suid-Afrika het onlangs die volgende in ’n verklaring gesê: “Mutasies het toegelaat dat die virus weerstand bied teen teenliggaampies.

"Bloedmonsters van die helfte van die mense wat ons getoets het (wat voorheen covid-19 gehad het), het getoon dat alle neutraliserende aktiwiteite verlore gegaan het.”

’n Studie in Amerika het bevind dat 10% van vlootsoldate wat covid-19 gehad en daarna herhaaldelik negatief getoets is, weer deur ’n nuwe variant besmet is.

“Vorige infeksies gee jou nie ’n vrypas nie,” sê dr. Stuart Sealfon van die Icahn School of Medicine in New York. “Daar bly ’n wesentlike risiko vir herinfeksie.” 

EKSTRA BRONNE: BRITANNICA.COM, SCIENCEALERT.COM, CDC.GOV, MERCKMANUALS.COM, ASSOCIATED PRESS, THE SCIENTIST, NICD.CO.ZA
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe