Joe Dimeo (22) het die wêreld se eerste gesig- en handoorplanting gekry. 

In Julie 2018 het Joe agter sy motor se stuurwiel aan die slaap geraak terwyl hy in New Jersey op die Route 22-pad gery het.

Sy motor het omgeslaan en in vlamme uitgebars. ’n Verbyganger kon Joe gelukkig red, maar sy gesig en hande was reeds erg verbrand. Sy ooglede, ore en baie van sy vingers het weggebrand. 

Volgens dokters het hy net ’n 6%-kans gehad om ’n pasmaat te vind wat met sy immuunstelsel versoenbaar is. Hulle wou ook iemand met dieselfde geslag, velkleur en oorheersing van die hand vind.

Tydens ’n 23 uur lange operasie by ’n New Yorkse hospitaal het Joe in Augustus 2020 die wêreld se eerste ontvanger van ’n suksesvolle gesig- en handoorplanting geword. Joe sê dis ’n “tweede kans op lewe”. 

Dr. Eduardo Rodriguez, die hoof van die span van meer as 80 mense wat by dié oorplanting betrokke was, het eers vandeesweek die media ingelig dat die operasie ’n sukses was hulle wou eers seker maak dat die oorplanting nie verwerp is nie. 

“Dit is vir ons almal baie verblydend,” het Eduardo oor hul sukses gesê. “Daar is ’n geweldige gevoel van trots.”

Daar is nog net twee pogings aangewend om die gesig en albei hande van ’n pasiënt oor te plant en albei was onsuksesvol.

“Daar is meer as honderd handoorplantings suksesvol uitgevoer, en byna 50 gesigoorplantings. Daar was dus fundamenteel geen rede waarom hulle nie suksesvol saam kon plaasvind nie,” sê Eduardo. 

Albei hande en gesigweefsel van ’n sterwende skenker is versigtig verwyder en vervang met 3D-prostese. In die ander operasiesaal is Joe se eie hande en gesig met presiese snye verwyder om hom voor te berei op die skenkerweefsel.

In al hierdie operasies is dit belangrik om te besef dat iemand sy lewe moes prysgee sodat ander kan bly leef.

Eduardo sê hulle het ’n oomblik van stilte gehad om die skenkerfamilie te eer en hulle was bekommerd oor Joe, wie kon sterf as sy eie hande en gesigweefsel nie reg verwyder word nie. 

“Ons begin die operasie altyd met ’n oomblik van stilte om die skenkerfamilie te eer, om hul groot verlies te respekteer en om nooit die donasies wat gemaak is, te vergeet nie,” het Eduardo gesê.

“In al hierdie operasies is dit belangrik om te besef dat iemand sy lewe moes prysgee sodat ander kan bly leef.”

Tydens die operasie was daar baie goed wat Dimeo se lewe sou kon beëindig as dit nie reg gedoen word nie, het Eduardo gesê.

Joe het ná die operasie 45 dae in ’n intensiewesorgeenheid deurgebring. Hy het byna twee maande lank rehabilitasie ontvang, waar hy geleer is hoe om sy oë oop te maak, sy hande te beweeg en te glimlag. Hy moet nog met sy terapie voortgaan, sê Joe.

“My hande is nog nie daar nie. Ek moet aanhou oefen.

“Dit is soos wanneer jy ’n baba is. Hulle beweeg net heeltyd hul hande tot hulle die vermoë het om dinge te doen. Ek het nou nuwe hande gekry, nes hulle,” sê Joe. 

Bronne: CNN, APNEWS

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe