Dit kan een van die mensdom se belangrikste wedlope teen die tyd wees: om ’n entstof te ontwikkel voor die nuwe coronavirus nóg dood en verskrikking wêreldwyd kan saai.

Terwyl die virussiekte COVID-19 daagliks honderde lewens eis en die pandemie die wêreldekonomie enorme skade berokken, spook talle spanne navorsers om ’n entstof te ontwikkel wat ’n einde aan die nagmerrie kan help maak.

In Amerika het ’n biotegnologiemaatskappy, Moderna, reeds ’n eksperimentele COVID-19-entstof ontwikkel en dit onlangs aan ’n vrywilliger, Jennifer Haller (43), toegedien.

Die vrywilliger Jennifer Haller kry haar eerste i
Die vrywilliger Jennifer Haller kry haar eerste inspuiting in ’n studie om die veiligheid van ’n eksperimentele COVID-19-entstof te bepaal. Foto: AP Images

“Dis ’n ongelooflike geleentheid om iets te help doen,” het dié ma van twee van Seattle gesê.

Sy is een van 45 gesonde vrywilligers wat in die komende weke verskillende dosisse van die sogenaamde “kandidaat-­entstof” sal ontvang. Dié entstof is in same­werking met die Amerikaanse National Institutes of Health ontwikkel.

Anders as met tradisionele entstowwe, byvoorbeeld dié vir masels, wat van ’n dooie of verswakte virus gemaak word, is dié eksperimentele entstof – met die voorlopige naam mRNA-1273 – nie van die nuwe coronavirus self gemaak nie, maar wel van ’n kort segment skadelose genetiese materiaal wat in ’n laborato­rium geskep is.

Dit is gedoen aan die hand van inligting oor die genetiese kode van ’n proteïen in die nuwe virus wat in Januarie vanjaar deur Chinese weten­skaplikes ontsyfer is. Hopelik sal dié entstof die liggaam se immuunstelsel kan stimuleer om die virus af te weer. Maar vir eers word bloot gekyk of dit beduidende newe-effekte toon.

Pleks van die lang en tydrowende proses om ’n nuwe entstof te ontwikkel probeer ander navorsers nou bestaande middels teen die coronavirus inspan. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het onlangs gesê hulle wil met kliniese toetse bepaal watter medisyne vir ?MIV- en malariapasiënte moontlik teen COVID-19 doeltreffend kan wees.

Suid-­Afrika is een van 10 lande wat aan dié WGO-studie deelneem.

Ander navorsingspanne benewens Moderna probeer ook nuwe tegnologieë gebruik om ’n COVID-19-entstof te ontwikkel wat vinniger as tradisionele entstowwe vervaardig kan word.

Nog ’n Amerikaanse biotegnologiemaatskappy, Inovio Pharmaceuticals, het vandees­maand met veiligheidstoetse vir ’n eks­perimentele entstof in Pennsilvanië en Missouri begin.

Maar selfs al verloop sulke proeflopies vlot, reken kenners dit kan van ’n jaar tot 18 maande duur voor ’n COVID-19-­entstof gereed sal wees.

Intussen werk ook Chinese wetenskaplikes onvermoeid aan ’n entstof.

In Duitsland het die gemoedere hoog geloop toe pres. Donald Trump van Amerika luidens berigte van hul wetenskaplikes wat in Tübingen aan ’n entstof werk met miljoene dollars probeer afrokkel het.

Hy wou glo hê die entstof moet eerste in Amerika beskikbaar gemaak word. Die Duitse minister van ekonomie, Peter Altmaier, het verontwaardig verklaar: “Duitsland is nie te koop nie.”

’n Amerikaanse staatsamptenaar het olie op die water probeer gooi en beloof: “Enige oplossing sal met die wêreld gedeel word.”

Maar wat behels die ontwikkeling van ’n entstof?

Hoe werk ’n entstof?

Die coronavirus wat COVID-19 veroorsaak. Foto: Gal
Die coronavirus wat COVID-19 veroorsaak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Mense wat ’n virusinfeksie op ’n natuurlike manier opgedoen het, “is dikwels daarna daarteen immuun en kan nie weer dieselfde infeksie kry nie, of hulle raak minder ernstig siek as hulle weer aan die virus blootgestel word.

’n Entstof is daarop gemik om dieselfde beskermende immuunrespons te ontlok.

“Dis omdat die aanvanklike blootstelling ’n beskermende immuunreaksie ontketen het,” sê prof Gert van Zyl, ’n mediese viroloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.

’n Entstof is daarop gemik om dieselfde beskermende immuunrespons te ontlok. Maar pleks daarvan dat jou immuun­stelsel aan die gevaarlike virus of mikro-­organisme blootgestel word, word dit net aan dele daarvan blootgestel sodat jy die gevaar van infeksie vryspring.

“As jy daarna aan die virus blootgestel word, is jou immuunstelsel reeds daarmee bekend, en die immuunrespons is vinnig en beskermend of gedeeltelik beskermend omdat daar reeds teen­liggaampies en selle is wat die virus beveg,” sê Gert.

Hoekom die lang wag?

“Entstowwe moet veilig en doeltreffend wees voor dit bemark word. Om dít te bepaal, vereis dikwels dat verskeie ‘kandidaatentstowwe’ ontwikkel moet word en eers deeglik getoets word voor ’n entstof in grootmaat vervaardig kan word,” beskryf Gert die tydrowende proses.

Uitgebreide navorsing is nodig om eers ’n teikenproteïen van die virus te identifiseer, ’n entstof daarvoor te ontwikkel en dit te toets. En dit alles verg tyd, beaam dr. Glenda Davison, hoof van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se departement biomediese wetenskappe.

“By SARS-CoV-2 – die nuwe corona­virus wat COVID-19 veroorsaak – het hulle gelukkig reeds ’n geskikte proteïen (NSP-15) geïdentifiseer en ’n genetiese sekwensie vir die virus vasgestel. Dit kan dinge bespoedig,” voeg sy hoopvol by.

Selfs al sou dit tot 18 maande duur voor ’n entstof vir die publiek beskikbaar is, sal dit steeds vinnig wees ?“vergeleke met tradisionele entstowwe wat jare kan verg”, sê prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Mediese Navorsingsraad. Danksy nuwe tegnologie kan entstowwe nou vinniger ontwikkel word.

Voorheen, soos met die ears- (erns­tige akute respiratoriese sindroom) epi­demie van 2002-’03, “was die krisis reeds verby teen die tyd dat ’n entstof gedeeltelik ontwikkel is. Die biotegnologiemaatskappye het toe hul navorsing laat vaar,” vertel Glenda.

Die COVID-19-pandemie sal “eindelik die krisispunt verbysteek en ­infeksies sal begin afneem.

Omdat ears (oftewel SARS in ander tale) ook deur ’n soort coronavirus (SARS-CoV-1) veroorsaak is, kan die navorsing oor ’n entstof vir daardie epidemie nou nuttig wees vir die ontwikkeling van ’n COVID-19-entstof.

Glenda sê die COVID-19-pandemie sal “eindelik die krisispunt verbysteek en ­infeksies sal begin afneem”. Al sou dit gebeur voor ’n COVID-19-entstof beskikbaar is, sal die navorsing hieroor “nuttig wees” as dié corona- of ander virusse weer in die toekoms kop uitsteek.

Sal dit gratis wees?

Dr. Rhonda Flores kyk na monsters by Novavax in Ma
Dr. Rhonda Flores kyk na monsters by Novavax in Maryland, een van die laboratoriums wat ’n entstof ontwikkel teen die coronavirus wat COVID-19 veroorsaak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om ’n entstof te ontwikkel is ’n peperduur proses.

“ ’n Maatskappy kan miljoene daaraan bestee om ’n entstof in die laboratorium te vervaardig en op mense te toets, bloot om dan vas te stel dis nie veilig of doeltreffend genoeg nie,” sê Gert.

“Iemand sal vir die ontwikkeling en die vervaardiging van die entstof moet betaal. Dit gebeur soms dat noodsaaklike middels teen kosprys aan armer lande gelewer word en ryker lande of filantrope dit subsidieer.”

Jeffrey meen ’n COVID-19-entstof behoort, anders as met gewone griep­inspuitings, gratis te kry te wees.

Die meeste lande sal noodgedwonge aan ­hoërisikogroepe moet voorkeur gee.

“Want as jy so ’n pandemie wil beheer, moet jy watter openbare gesondheidsmaatreël ook al gratis aan die publiek beskikbaar stel.”

Wanneer so ’n entstof eindelik vir die mark gereed is, kan dit steeds problematies wees om genoeg daarvan in grootmaat te vervaardig, sê Jeffrey.

“Die meeste lande sal noodgedwonge aan ­hoërisikogroepe moet voorkeur gee.”

Daaronder tel gesondheidswerkers, ouer mense wat geneig is om die kritieke vorm van die virussiekte op te doen, mense met onderliggende gesondheidstoestande en dié met ’n verswakte immuunstelsel.

Omdat dit ’n nuwe virussiekte is, het ons nog ’n baie lae of zero bevolkingsimmuniteit daarteen.

Glenda twyfel of die inenting met so ’n entstof vir almal verpligtend sal wees, soos die geval met maselsinenting vir skoolgaande kinders is. “Maar die geleentheid daarvoor behoort aan almal beskikbaar gestel te word,” sê sy.

Jeffrey voorspel almal sal wel aangespoor word om hulle teen COVID-19 te laat inent. “Omdat dit ’n nuwe virussiekte is, het ons nog ’n baie lae of zero bevolkingsimmuniteit daarteen,” vertel hy.

Tydens noodtoestande kan dit moontlik verpligtend gemaak word om jou teen COVID-19 te laat inent, meen Gert. “Maar dit sal waarskynlik net gebeur as sulke maatreëls uiters noodsaaklik is en daar genoegsame inligting is dat die entstof veilig is.”

Ander wapens in die stryd

Afgesien van entstowwe kan voorkomende medikasie soos teenvirusmiddels ook in die stryd teen die nuwe coronavirus ingespan word.

“Teenvirusmiddels is reeds doeltreffend gebruik om MIV te voorkom. Vroeë behandeling van COVID-19 daarmee kan mense ook moontlik minder aansteeklik maak en verspreiding help bekamp,” sê Gert.

Voorkomende chemiese middels kan gouer as entstowwe beskikbaar wees, want middels wat reeds gebruik word om mense vir ander infeksies te behandel, word nou teen die nuwe coronavirus getoets.

“Omdat hul veiligheidsdata reeds beskikbaar is en die middels reeds bemark is, hoef net die doeltreffendheid hiervan vasgestel te word. Nog ’n alternatief vir entstowwe is die regstreekse toediening van teenliggaampies om mense te beskerm,” sê Gert.

Hiervoor word teenliggaampies uit die bloed van mense vervaardig wat reeds virusbesmetting oorleef het en dus immuun daarteen is. Voorheen was dié prosedure baie duur, maar nuwe tegnologie kan dit bekostigbaarder maak, reken dié kenner.

EKSTRA BRONNE: WHO.INT, NIH.GOV, BBC, CNN
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.