Foto: Gallo Images/Alamy
Foto: Gallo Images/Alamy

Die reaksie was blitsvinnig, woedend en byna histeries: WhatsApp maak inbreuk op ons privaatheid; hulle spioeneer op ons en lees ons boodskappe! Facebook wil ons gebruik om advertensies te verkoop en ons kontakte se besonderhede te deel!

Baie mense het so heftig op WhatsApp se nuwe beleidsveranderings gereageer dat die maatskappy besluit het om ’n bietjie te wag voor hulle dit implementeer – die veranderings wat op 8 Februarie in werking sou tree, is nou tot middel Mei uitgestel.

Hulle gaan niks aan hul beleid verander nie, sê WhatsApp, maar laat ’n bietjie meer tyd toe sodat mense wat die diens gebruik die veranderings beter kan verstaan.

Dis ’n verrassende skuif vir WhatsApp se houermaatskappy, Facebook, want Mark Zuckerberg se tegnoreus steur hom gewoonlik nie veel aan kritiek op veranderings aan sy platforms nie.

Maar die aantal mense wat byna oornag begin het om WhatsApp se teenstanders Telegram en Signal af te laai, het die WhatsApp-grootkoppe laat besef hulle moet na hul meer as 2 miljard gebruikers reg oor die wêreld luister, sê ontleders.

Wat beteken die voorgestelde veranderings vir jou – en moet jy voortaan liewer op ’n ander diens kommunikeer?

MOET EK BEKOMMERD WEES?

Dit hang af waaroor jy bekommerd is.

Is jy bang Facebook gaan nou skielik deur WhatsApp toegang hê tot jou inligting en dit op ’n manier tot hul voordeel gebruik?

Of is jy besorg daaroor dat die tegnoreus jou WhatsApp-boodskappe kan lees en spesifieke adverteerders jou dan kan teiken met advertensies gegrond op die inhoud van jou gesprekke?

Wat die eerste vraag betref: WhatsApp sal beslis van jou persoonlike inligting met Facebook en sy dogtermaatskappye deel – maar vir baie gebruikers gebeur dit reeds.

As jy WhatsApp se nuwe beleid aanvaar – en jy sal dit moet doen om die diens te kan gebruik – sal Facebook dus jou inligting kan deel.

Die maatskappy se beleid is in 2016 bygewerk om dit toe te laat dat sy platforms inligting met mekaar kan deel, en jy moes toe al aktief gekies het om nié jou data te deel as jy nie wil hê dit moet gebeur nie.

As jy WhatsApp eers ná 2016 begin gebruik het, sou jy geen keuse gehad het nie en word dié data in elk geval nog die hele tyd deur Facebook gedeel.

Nog ’n verskil is dat die vorige bywerking beteken het die deel van data is opsioneel, terwyl dit nou verpligtend sal wees. As jy WhatsApp se nuwe beleid aanvaar – en jy sal dit moet doen om die diens te kan gebruik – sal Facebook dus jou inligting kan deel.

Net jou suster kan die inhoud van jou boodskap sien danksy die eindpunt-tot-eindpunt-enkripsie.

Maar die tweede kwelvraag het ’n maklike antwoord waaroor jy jou kan ophou verknies. WhatsApp se boodskappe bly geënkripteer en nie dié maatskappy of enige ander maatskappy onder Facebook se besit, soos Instagram en Messenger, kan by die inhoud daarvan uitkom nie.

As jy dus vir jou suster ’n boodskap stuur oor ’n kampuitstappie, gaan jy nie skielik oral aanlyn advertensies oor tente sien nie (tensy jy iets daaroor op Google gesoek het, maar dis ’n hele ander storie oor hoe Google en ander webblaaie jou dophou). Net jou suster kan die inhoud van jou boodskap sien danksy die eindpunt-tot-eindpunt-enkripsie.

As jy boodskappe aan ’n onderneming se WhatsApp-rekening stuur, kan daardie boodskappe wel gebruik word sodat die tegnoreus relevante, geteikende advertensies op Facebook en Instagram aan jou kan wys.

HOEKOM DWING WHATSAPP DIT AF?

Facebook beweeg ál meer in die wêreld van e-handel in en hy hoop om WhatsApp as deel van dié strategie te gebruik. WhatsApp Pay, wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie, kan byvoorbeeld gebruik word om iets te koop wat jy in Facebook Marketplace of Instagram se winkel gesien het.

Facebook, Messenger en Instagram gaan steeds die data oor jou wat op dié platforms versamel word, gebruik en deel.

Facebook wil sy hele aanbod ’n meer naatlose ervaring maak sodat jy hul “ekostelsel” nooit hoef te verlaat nie. Hoe meer hulle van jou aanlyn gewoontes weet, hoe beter kan hulle jou teiken met spesifieke advertensies wat jy op Facebook en Instagram sal sien sodat jy dan ook deur hul e-handelopsies sal koop.

As dit jou nie pla nie, hoef jy nie daaroor wakker te lê nie. As dit jou bekommer, kan jy WhatsApp uitvee om te voorkom dat dit gebeur. Maar onthou: Facebook, Messenger en Instagram gaan steeds die data oor jou wat op dié platforms versamel word, gebruik en deel.

WATTER DATA GAAN WHATSAPP DEEL?

  • Jou selfoonnommer, profielfoto, status en ander inligting in die profieldeel van die app sal met Facebook gedeel word.
  • Hoe gereeld jy die app gebruik en wanneer jy aanlyn is.
  • Watter toestel jy gebruik. Dit laat Facebook toe om jou te teiken met advertensies vir bybehore soos laaikabels wat by jou foon pas.
  • Jou presiese ligging as jy toestemming gegee het dat dit mag gebeur. Andersins sal dit jou IP-adres gebruik om te bepaal in watter land jy is sodat advertensies wat aanlyn aan jou gewys word daarby aangepas kan word.
  • Boodskappe wat jy aan ondernemings op WhatsApp stuur.

WATTER DATA WORD NIE GEDEEL NIE?

  • Die inhoud van jou persoonlike boodskappe sal nie gesien, gebruik of gedeel word nie. Wanneer jy ’n boodskap stuur en dit jou foon verlaat, word dit in kode omgeskakel en eers weer ontsyfer wanneer dit by die ontvanger se foon uitkom.
  • Liggingmerkers wat jy met ander deel.
  • Inligting oor die geselsgroepe waartoe jy behoort.
  • Die besonderhede van jou kontakte.

HOE KAN JY KEER DAT JY MET ADVERTENSIES GEBOMBARDEER WORD?

  • Laai ’n advertensieblokkeerder soos AdGuard, wat beskikbaar is vir Windows, Android en iOS, af. Sodra dit geaktiveer is, blokkeer dit alle banieradvertensies en daardie irriterende advertensies wat in die systrook van jou webblaaier opspring.
  • Wysig jou Facebook-privaatheidsverstellings om te beheer watter inligting die netwerk met sy adverteerders deel. Dit sal die geteikende advertensies verminder.
  • Jy kan ook jou advertensievoorkeure so stel dat dit verhoed dat Facebook jou soekgeskiedenis op eksterne webblaaie kan gebruik. Dit beteken as jy by ’n aanlyn winkel na ’n ketel gesoek het, sal jy nie skielik dieselfde produk op Facebook begin sien nie.

WAT IS DIE ANDER OPSIES?

Meer as 20 miljoen mense in Suid-Afrika gebruik daagliks WhatsApp – dit sal dalk nie so eenvoudig wees om sonder dié diens klaar te kom en na ’n ander te skuif nie. Die diens se mededingers hou ook hul eie probleme in. Hier is die opsies waaroor mense nou gons.

TELEGRAM

Foto: Telegram
Foto: Telegram

Wat is dit?

Die boodskapplatform met sy Russiese ontstaan in 2013 het vandag meer as 500 miljoen gebruikers. Dit bied eindpunt-tot-eindpunt- enkripsie en ander privaatheidseienskappe aan gebruikers.

Pluspunt

Die diens waarborg gebruikers dat hy net die data versamel wat nodig is om die app te laat werk en dat dit nie gebruik sal word om geteikende advertensies aan die gebruikers te stuur nie.

Hoe veilig is dit?

Dit is nog onseker. Krakers kon in 2016 toegang verkry tot die telefoonnommers en gebruikers-ID’s van 15 miljoen Telegramgebruikers in Iran. 

Wat moet jy weet?

Mense wat reeds na Telegram oorgeskakel het, was verstom toe hulle sien hul ligging is outomaties gedeel (tensy hulle dit in die verstellings afgeskakel het). Die funksies “Nearby Groups” en “People Nearby” maak dit moontlik vir ander gebruikers of groepe naby aan jou om jou te vind en aanlyn met jou te kommunikeer.

Dit beteken jy kan skielik aanlyn blootgestel word aan gemeenskapsgroepe wat selfs smerige bedrywighede soos dwelms en pornografie adverteer. Sorg dus dat jou ligging afgeskakel is indien jy hierdie platform oorweeg, en moenie jou kind toelaat om die platform af te laai sonder om dit eers met jou te bespreek en die veiligheidsverstellings na te gaan nie.

SIGNAL

Foto: Signal
Foto: Signal

Wat is dit?

Hierdie nuwe app, wat eers vanjaar bekendgestel is, bied eindpunt-tot-eindpunt-enkripsie en word reeds wêreldwyd deur 20 miljoen mense gebruik.

Pluspunt

Die enigste ding wat Signal versamel, is jou nommer – dit word dus beskou as die beste boodskap-app wat privaatheid betref.

Hoe veilig is dit?

Dis so veilig dat die Amerikaanse fluitjieblaser Edward Snowden dit gebruik om vanuit sy wegkruipplek in Rusland te kommunikeer. Ook Elon Musk het mense op Twitter aangemoedig: “Gebruik Signal.”

Wat moet jy weet?

Die diens groei vinnig en moet nog sy kapasiteit uitbrei om tred te hou met al die gebruikers wat bykom.

WECHAT

Foto: WeChat
Foto: WeChat

Wat is dit?

Hierdie diens is in 2011 in China bekendgestel, maar dit is nou reg oor die wêreld gewild.

Pluspunt

Dit bied stemnotas, plakkers, video-oproepe en die kans om vinnige aanlyn betalings te doen.

Hoe veilig is dit?

Die diens bied nie eindpunt-tot-eindpunt-enkripsie nie, maar as jy desperaat is om uit die Facebook-ekostelsel te ontsnap, is dit miskien ’n goeie roep.

Wat moet jy weet?

Dit het reeds meer as 1 miljard gebruikers wêreldwyd. Dis die gewildste kommunikasie-app naas WhatsApp en Messenger. 

Bronne: CNET.COM, CAPETALK.CO.ZA, BLOOMBERG.COM, BUSINESSINSIDER.CO.ZA, BIZNEWS.COM, BUSINESSTECH.CO.ZA

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe