Drie jaar ná hul dogter se skokdiagnose het hulle goeie nuus gekry: ’n Geskikte skenker­lewer is beskikbaar wat dalk haar lewe kan red.

Maar pleks daarvan om ’n nuwe begin vir hul kind te vier, rou Deon en Rojeanne de Jager nou oor haar dood.

Shanitha-Lee (21) het op 1 Maart vanjaar op die operasietafel gesterf. Boonop is haar ouers in ’n ambulans na haar begrafnis geneem nadat nóg teenspoed hulle getref het: Die egpaar van Brackenfell in die Kaap was kort voor hul dogter se operasie in ’n motorfietsongeluk.

Rojeanne en Deon de Jager na hul dogter Shanitha-L
’n Ambulans het Rojeanne en Deon de Jager na hul dogter Shanitha-Lee se begrafnis geneem.

Sedert Budd-Chiari-sindroom in 2016 by Shani, soos haar ouers haar noem, gediagnoseer is, het die gesin desperaat vir ’n skenkerlewer gebid. Dit is ’n seldsame en ongeneeslike siekte waar ’n bloedklont die are vernou of blokkeer wat bloed uit die lewer vervoer.

Die egpaar en Shani se jonger suster, Deonè (17), is ná toetse as geskikte skenkers uitgeskakel. Om dus te hoor sy sou eindelik ’n nuwe lewer kry was ’n uitkoms waarop die De Jagers lank gewag het.

Die gesin het ’n moeilike tyd agter die rug. Ons gesels met hulle in die Inter­care Tyger Valley-hospitaal in Kaapstad waar albei nog rehabilitasie ondergaan.

’n Lang herstelpad lê voor, sê hulle, fisiek en emosioneel. Rojeanne (48) het haar dogter se begrafnis in ’n rolstoel bygewoon; Deon (47) is in sy hospitaalbed in die kerk ingestoot.

“Ek sou my dogter graag na haar graf wou dra,” vertel hy deur die trane.

“Maar ek kon dít nie eens doen nie.”

Die paartjie deel hul storie om bewusmaking te skep oor die belangrikheid van orgaanskenking. As meer mense skenkers was, het Shani dalk vroeër ’n lewer ontvang en was sy dalk vandag nog hier, sê haar ma.

Shani se siekte het hulle soos ’n weerligstraal uit die bloute getref.

In 2015 was sy nog blakend gesond op haar matriekafskeid, maar in Desember daardie jaar het sy verskriklike maagpyn begin kry.

Shanitha-Lee het tydens ’n leweroorplanting gester
Shanitha-Lee het tydens ’n leweroorplanting gesterf.

“Sy het baie opgegooi, maar ons het gedink dis stres oor die matriekeksamen,” sê Rojeanne, ’n sakeontleder by die lewensversekeraar Sanlam.

Die pyn en naarheid het oor die volgende maand vererger en hulle het Shani van die een dokter na die volgende geneem op soek na antwoorde.

In Februarie 2016 het ’n dokter voor­gestel hulle doen ’n endo­skopie van die boonste maagdermkanaal, waar ’n kamera in die lyf geplaas word. Die uitslae was verpletterend: Dit was Budd-Chiari-­sindroom.

“Ek was histeries,” vertel Rojeanne.

“Jy het ’n dogter wat nog altyd gesond was en skielik het sy ’n ongeneeslike siekte.”

Shani se toestand het vinnig verswak. Met die bloedvloei van haar lewer na haar liggaam afgesny, het dik spatare in haar nek en aan haar arms, bene en bolyf gevorm.

Sy was in ondraaglike pyn en moes haar studie in geleentheidsbeplanning aan die Prestige Academy in Bell­ville, Kaapstad, laat vaar.

Dik spatare het oor haar lyf gevorm.
Dik spatare het oor haar lyf gevorm.

Shani moes bloedverdunningsinspuitings ontvang en is op medikasie geplaas om haar lewerfunksie te steun en die swelling van haar maag en voete, veroorsaak deur waterretensie, te beheer.

“Dokters het gesê hulle kon nie veel meer vir haar doen nie, maar ons het geweier om dit te aanvaar,” sê Deon, ’n produksiebestuurder by ’n maatskappy wat seile vir seiljagte maak.

Shani is na die Wits Donald Gordon- Mediese Sentrum in Johannesburg verwys waar lewerspesialiste haar sou behandel.

Dokters was huiwerig om ’n leweroorplanting te doen omdat toetse getoon het sy sou slegs ’n 20%-kans op oorlewing hê.

Rojeanne en Deon het twee jaar met Shani heen en weer tussen Kaapstad en Johannesburg gevlieg en in Oktober verlede jaar het hulle daarop aangedring dat hul dogter op die oorplantingslys geplaas word.

“Ons het vir die dokters gesê as die oorplanting nie werk nie, het ons ten minste probeer,” sê Rojeanne.

Omdat die gesinslede nie geskikte skenkers was nie, moes ’n geskikte lewer eers gekry word.

Shani het einde verlede jaar Johannesburg toe getrek, want as ’n lewer beskikbaar sou raak, moes sy binne twee uur by die hospitaal wees. Sy het eers by familie gebly, daarna by vriende en later, twee weke voor die oorplanting, in ’n oue­tehuis van die gesin se kerk, Spade Reën.

Met die gemoedsrus dat hul dogter in goeie hande is, het Deon en Rojeanne verlede maand op ’n wegbreeknaweek besluit om hul huweliksherdenking te gaan vier. Hulle het op Deon se motorfiets na Montagu gery, maar was toe in ’n ernstige ongeluk op pad terug.

Rojeanne het haar regtervoet en ’n been in haar knie gebreek en haar skouer ontwrig. Deon, wat bestuur het, was vier dae lank in ’n koma. Hy het sy regtersleutelbeen en agt ribbes gebreek, sy bekken was op vier plekke gebreek, en een van sy longe het platgeval.

Deon en Rojeanne in die hospitaal nadat hulle in F
Deon en Rojeanne in die hospitaal nadat hulle in Februarie in ’n motorfietsongeluk was toe hulle van ’n naweek op Montagu terugkeer. Albei is ernstig beseer.

Toe dit duidelik word Deon gaan oorleef, het dokters gesê dit sou maande duur voor hy weer op sy voete sou wees. En toe kom die oproep presies twee weke later: ’n Lewer is vir Shani gevind.

Op 1 Maart is sy in die teater ingestoot. Rojeanne het haarself uit die hospitaal laat ontslaan en Johannesburg toe gevlieg om by haar dogter te wees.

Ma en dogter ná die motorfietsongeluk.
Ma en dogter ná die motorfietsongeluk.

“Ek het ’n uur saam met haar deur­gebring voor sy ingestoot is. Sy het geglimlag, maar ek dink sy het geweet sy gaan dit nie maak nie. Terwyl ek gevlieg het, het sy vir my ’n boodskap gestuur met al die wagwoorde vir haar foon. Ek dink dus sy het geweet.”

Ná etlike ure het ’n chirurg uit die operasiesaal gekom: Shani het gesterf.

“Ek was gebroke,” sê Rojeanne.

“Ek het heeltyd gedink miskien moes ek vroeër gekom het, meer gedoen het.”

Twee warrelwindweke het gevolg waartydens Rojeanne, wat haarself weer in die hospitaal laat opneem het, tussen fisioterapiesessies deur voorbereidings vir die begrafnis getref, Deon gesteun en seker gemaak het Deonè is oukei.

Deon se ouers, Gerrie en Hetty de Jager, het uit Oudtshoorn Kaap toe gekom om na hul kleinkind om te sien.

“Shani het soveel mense geraak,” sê Rojeanne.

“Mense wat nooit tevore gebid het nie, het begin bid. Mense wat nie geweet het van orgaanskenking nie, is nou bewus daarvan. As dit God se plan vir Shani was, as dit haar lewensdoel was, het sy dit bereik. Dalk is dit hoekom Hy haar van ons weggeneem het.”

Meer oor Shani se siekte
  • Budd-Chiari-sindroom, ’n seldsame siekte wat een uit ’n miljoen mense wêreld­wyd raak, kom voor wanneer die lewerare vernou of deur bloedklonte versper word.
  • Simptome sluit in maagpyn, ’n oorgroot lewer of milt, naarheid en braking. Die oorsaak is onbekend, maar sommige gevalle hou verband met oortollige rooibloedselle, sekelselsiekte, inflammatoriese dermsiekte of bindweefselsiektes.
  • Behandeling sluit in chirurgiese verbreding van die aangetaste are, poortaar-omleidings­chirurgie waar die bloedvloei van een aar na ’n ander oorgedra of ’n stent in die aar geplaas word om bloedvloei in stand te hou.
  • In aggressiewer gevalle kan ’n leweroorplanting nodig wees.

    Vir nog inligting oor orgaanskenking in Suid-Afrika, besoek odf.org.za of bel 0800-22-66-11.
EKSTRA BRONNE: MERCK MANUAL, RARE DISEASES.ORG; Foto's: Misha Jordaan, Verskaf
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.