Hier is 'n video van die inhuldiging van die verkose president, Joe Biden:
Ná 'n taai en dramatiese verkiesingstryd teen Amerika se president, Donald Trump, het die Demokrate se presidentskandidaat, Joe Biden, genoeg stemme gekry om die 46ste aangewese president van Amerika te word.
Sy vise-president sal Kamala Harris wees – die eerste vrou wat dié pos in Amerika beklee. Ontmoet die twee ervare politci wat na verwagting van Januarie 2021 die septer in die Withuis – en oor wêreldpolitiek – sal swaai.
JOE BIDEN
Biden is ’n boorling van Pennsylvanië en het ’n graad in die regte aan die Universiteit van Syracuse in New York behaal.
Hy is in 1966 met sy geliefde vrou, Neilia Hunter, getroud en hulle het drie kinders saam gehad: twee seuns, Beau en Hunter, en ’n dogter, Naomi.
Biden se politieke opgang het begin toe hy in 1972 as senator van Delaware verkies is.
Hy sou uiteindelik oudpres. Barack Obama se vise-president word toe Obama as president van Amerika gedien het.
Sy vrou en hul babadogtertjie is op 18 Desember 1972, kort na die begin van sy politieke loopbaan, in ’n motorongeluk dood toe Naomi haar kinders geneem het om ’n Kersboom te gaan koop.
Die Biden-egpaar se seuns, Beau en Hunter, is ernstig in die ongeluk beseer.
Biden is in 1977 weer getroud met Jill Tracy Jacobs, toe ’n onderwyseres. Hulle is steeds getroud. Sy seun Beau is in Mei 2015 in die ouderdom van 46 aan breinkanker oorlede.
Biden het op die dag van sy seun se dood in sy dagboek geskryf: “It happened. My God, my boy. My beautiful boy.” Biden is aanvanklik beskou as ’n moontlike presidentskandidaat vir die 2016-verkiesing, maar het hom aan die wedloop onttrek om oor sy seun se dood te rou.
Hillary Clinton is toe as die Demokrate se presidentskandidaat verkies, maar sy het in die presidentsverkiesing teen Donald Trump verloor.
Sy seun Hunter word dikwels as die swartskaap van die familie beskryf.
Hy het voorheen geworstel met drank- en dwelmprobleme en het ’n morsige egskeiding agter die blad. Trump het Hunter ook vroeër van verdagte sakebedrywighede met die regering van die Oekraïene beskuldig.
We congratulate President-Elect @JoeBiden and Vice President @KamalaHarris and the American people on your election. We look forward to working with you and deepening our bonds of friendship and cooperation. pic.twitter.com/aajOxmL8KI
— Cyril Ramaphosa ???? #StaySafe (@CyrilRamaphosa) November 7, 2020
Biden was Obama se vise-president in die Withuis toe Hunter in 2014 as direksielid van ’n Oekraïense aardgasmaatskappy aangestel is.
Biden het al verklap sy gunstelingfliek is Chariots of Fire, en hy het ’n swakplek vir roomys.
Hy is op 77 die oudste aangewese president van Amerika en sal na verwagting net een termyn as president uitdien.
KAMALA HARRIS
Dié Kaliforniese senator is 55 jaar oud en sal die eerste vroulike vise-president van Amerika wees. Sy is die dogter van Shyamala Gopalan, ’n kankernavorser van Indië, en Donald Harris, ’n ekonoom van Jamaika, en het al tydens haar grootwordjare in Kalifornië dinge begin bevraagteken en opgestaan vir die sake waarin sy glo.
Toe sy 13 jaar oud was, het Harris en haar jonger suster, Maya, ’n betoging voor hul woonstelblok gelei uit protes teen ’n beleid waarvolgens kinders verbied is om op die gras te speel.
Sy en Maya het ná hul ouers se egskeiding by hul ma gewoon. Sy het regte aan die Universiteit van Kalifornië studeer en het in 1990 as ’n assistentstaatsaanklaer begin werk.
Sy het later San Francisco se eerste vroulike distriksaanklaer geword en groot sukses in hierdie pos behaal.Sy is in 2010 tot prokureur-generaal van Kalifornië verkies en het ses jaar later senator van Kalifornië geword.
Harris is in 2014 met die prokureur Doug Emhoff (55) getroud. Al het hulle nie saam kinders nie, het sy ’n hegte band met sy twee kinders uit ’n vorige huwelik.
Tydens die Demokrate se presidentsveldtog het Harris Biden tydens ’n toespraak aangevat oor sy vroeëre teenkanting teen “busing” – die praktyk waar swart kinders uit armer buurte in Amerika met busse aangery word om rasseintegrasie by staatskole te probeer bevorder.
Sy het gepraat oor ’n meisie wat elke dag in Kalifornië aangery is skool toe, en toe ná ’n oomblik se stilte bygevoeg: “Daardie meisietjie was ek.”
Met hul eerste amptelike verskyning as verkiesingsmaats het Biden vir Harris as “slim”, “taai” en “ervare” beskryf.
Bronne: biography.com, snopes.com, theatlantic.com, newyorker.com, edition.cnn.com, indianapolismonthly.com, indystar.com, abcnews.go.com, theguardian.com, politico.com, independent.co.uk, joebiden.com, brittanica.com
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET