Dit is minder as drie uur se ry van Memel na Springs, maar in die klein wit motor voel die rit vandag soos ’n reis terug in tyd. Eers flits die vlaktes van die Vrystaat verby, dan die dorre, vaal Hoëveld van Gauteng.

Oral langs die pad wys swart voorbrand die winter het sy merk gelaat. Op die agtersitplek van die motor skuif Sharease van den Berg (29) senuagtig rond.

Vandag is die dag dat sy haar ma gaan ontmoet – die ma wat byna drie dekades lank vir haar verlore was. Kort-kort pieng nog ’n WhatsApp-boodskap op haar selfoon. “Waar trek julle nou?” lui een boodskap.

“Hoe lank nog?” vra nog een.

Met elke kilometer wat verbyrol, elke kilometer nader aan die Oos-Rand, reis Sharease nader aan die ma wat sy nooit geken het nie; die ma wat ná soveel jare sowaar steeds leef om nou vir haar boodskappe te stuur.

Dis ’n wonderwerk dat albei leef; ’n wonderwerk dat hulle mekaar gevind het. Sedert die dag dat Sharease in haar tienerjare uitgevind het sy is ’n aangenome kind, het sy na haar biologiese ma gehunker.

Sy het deur die jare vasgeklou aan ’n foto van haar as baba op haar ma se bors – ’n foto wat kort ná haar geboorte in Mei 1989 in Huisgenoot verskyn het.

Ria Ohlson. Foto: Lubabalo Lesolle

Sharease is destyds in die artikel by dié foto as “ ’n klein wonderwerkie” bestempel, want vier maande voor haar geboorte het haar pa haar swanger ma byna doodgeskiet.

Haar pa, Frik Ohlsen (toe 36), het haar ma, Ria Ohlsen (toe 27), in die voorkop en wang geskiet nadat hy haar ouers, Johannes (toe 64) en Martha (toe 53) Joubert, by hul huis in Johannesburg doodgeskiet het. Hy het die loop daarna teen sy eie kop gedruk en homself doodgeskiet.

Ria is deels verlam gelaat en het in die hospitaal in ’n koma weggesink. Haar baba is eers weke later gebore, vyf weke voor die verwagte geboortedatum.

“Eindelik!” Sharease van den Berg en haar ma, Ria Ohlson, ontmoet mekaar die eerste keer in 29 jaar. Foto: Lubabalo Lesolle

Daardie baba, Martie Aletta, is aangeneem en liefdevol op Mosselbaai grootgemaak deur Casper en Hazel Jerling. Dit was hulle wat aan haar haar nuwe naam gegee het – Sharease Charlene.

Tot ná haar 29ste verjaardag het Sharease geen kontak met haar biologiese ma gehad nie en het sy by tye gewonder of Ria ooit nog leef.

Ná ’n ge­sinstragedie in die 1980’s is Sharease aangeneem. Foto: Lubabalo Lesolle

Maar toe, net ’n dag nadat Huisgenoot se onlangse storie oor haar soektog na haar ma op die rakke beland het, bel ’n Huisgenoot-leser om te sê hy kan Sharease dalk help om haar ma op te spoor, want hy weet waar Ria se broer hom bevind...

En nou, drie dae en ’n horde reëlings later, is Sharease op pad van haar tuisdorp, Memel, na Springs aan die Oos-Rand, waar sy haar ma die eerste keer sedert haar babadae sal sien.

“Ek is opgewonde, maar ook bang,” erken sy. Bang dat die langverwagte ontmoeting nie alles sal wees waarvan sy gedroom het nie; dat haar ma dalk al die jare minder as sy verlang het... Maar eindelik breek die oomblik aan.

Die motor hou stil voor ’n huis in die voorstad Springs Town. Sharease hou haar asem op en klim uit. ’n Vrou met grys hare en ’n groot glimlag kom na die tuinhekkie gehinkepink. Dit is Ria.

Die jongste briefie wat Ria vir Sharease geskryf het. Foto: Lubabalo Lesolle

“Eindelik!” roep sy uit. Die linkerkant van haar lyf is steeds verlam weens die skietwond wat haar vervreemde man haar destyds toegedien het, maar sy straal.

Haar dogter, oorweldig, sluk die trane terug. Saggies sê sy net: “Haai, ma.”

Woordeloos omhels die twee mekaar. Sharease laat sak haar kop op haar ma se grys hare en druk haar teen haar vas.

Ria (nou 57) se oë blink. Dan sê sy: “Ek kan nou ophou huil. Ek het 29 jaar lank gesoek. En nou het die Here my kind teruggegee.”

Nog ’n vrou staan nader. Dit is Melanie Welthagen (36), Ria se dogter uit ’n verhouding voor haar destydse huwelik met Sharease se pa, Frik.

Melanie se oë skiet ook vol trane. Dan vroetel Ria voor in haar bloes en haal ’n opgevoude vel oranje papier uit.

“Ek het elke dag briefies vir jou geskryf,” sê sy vir Sharease. “Hier is wat ek vandag vir jou geskryf het . . .”

Sy maak die vel papier oop en lees: “Ma se liefling, ma weet dit voel onwerklik . . . Jou ouma sou so graag by wou gewees het. Verskoon al ma se spelfoute . . .”

Met hul arms om mekaar stap die twee die huis in om al die verlore jare in te haal sedert daardie dag in 1989 toe baba Martie Aletta vir oulaas op haar ma se bors kon lê.

Die Huisgenoot-­artikel uit 1989 oor die tragedie.

In November 1988 was Sharease veilig en geborge in haar swanger ma se liggaam toe die tragedie in haar grootouers se huis in Johannesburg afspeel. Van die skietery op haar ma en grootouers kon sy niks weet nie.

’n Koeël is vandag steeds in Ria se voorkop ingebed, want die dokters het destyds gereken dit sou te gevaarlik wees om dit te verwyder. Aan haar linkerwang is die letsel van nog ’n koeëlwond byna soos ’n kuiltjie – ’n sigbare herinnering aan die gebeure wat daartoe gelei het dat die jongste van haar vier kinders op die ouderdom van drie maande in aanneming geplaas is.

Daarna het sy die kosbare bondeltjie nooit weer gesien nie – tot vandag toe. Ria was nog nie eens bewus van die artikel in Huisgenoot nie toe ’n leser na Huisgenoot se kantoor bel om te sê hy weet waar haar broer, Jannie Joubert, hom bevind.

Dit was dieselfde Jannie wat in 1989, kort ná Sharease se geboorte, oor die tragiese gebeure met Huisgenoot gepraat het. Oproep ná oproep het gevolg, en van Jannie af het die spoor na Ria gelei.

Sy word die afgelope agt jaar in ’n sorgsentrum vir epilepsielyers in Daggafontein, Springs, versorg. Toe Sharease haar biologiese ma se selfoonnommer by haar oom Jannie kry, het sy Ria gebel en gesê: “Ek is die baba op jou bors op die foto.”

Ria lyk oorweldig toe sy vertel van die oomblik toe sy haar dogter se stem hoor. “My linkerbeen het begin ruk. Die huil het soos ’n stortvloed uitgekom.”

Ria en Melanie het foto’s van hulself vir Sharease gestuur; dit was toe eers dat dit haar werklik tref: Die soektog na haar ma is verby, want die familietrekke was onmiskenbaar.

Nou draai Ria hier op die bank in die sitkamer van Melanie-hulle se huis na Sharease en sê: “Ek het bly vashou aan die Here dat jy leef.”

Sharease en Ria kuier saam met Melanie en haar dogter, Leonie, op Springs. Foto: Lubabalo Lesolle

Melanie is ewe aangedaan oor die herontmoeting met haar halfsuster. Sy en haar ouboet, Johan van Zyl (nou 38), is uit Ria se eerste huwelik gebore, en Sharease en haar broer Frikkie (nou 34) uit Ria se tweede huwelik met Frik.

Melanie vryf oor haar nat oë en sê: “Ek het laas jou voetjie daar in die hospitaal vasgehou nadat jy gebore is.”

Melanie, vandag self ’n ma van ’n 16-jarige dogter en sesjarige seun, sê: “Toe ek weer daar aankom en vra waar my sussie is, was jy weg. Ek het nooit ophou wonder waar jy is nie.”

Tog, ondanks die blydskap oor die herontmoeting, hang hartseer in die lug. Want nes met haar ma het Sharease se lewe aan skerwe gespat weens huishoudelike geweld.

Sharease se halfsuster, Melanie Welthagen (links), help met Ria se bagasie vir haar kuiertjie op Memel. Foto: Lubabalo Lesolle

Haar seuntjie, Helgaardt (6), is in Junie vanjaar by sy pleegouers in sy slaap oorlede, vermoedelik weens die impak van die skade wat hy berokken is toe sy pa, Tertius van den Berg, hom as drie maande oue baba aangerand het.

Die aanranding het Helgaardt verlam gelaat aan die regterkant van sy lyf en met sulke kwaai breinbeserings dat hy nooit kon praat nie. Tertius, Sharease se vervreemde man, dien nou tronkstraf uit vir poging tot moord, en sy wil van hom skei.

“Ek is so jammer oor jou seuntjie. Ek sou hom so graag wou ontmoet het,” sê Ria oor die kleinseun wat sy nou nooit sal ken nie.

“Hy was ’n pragtige seun,” sê Sharease. “Hy was hierdie enetjie se size,” voeg sy by en wys na Melanie se sesjarige woelwater wat agter sy troeteldiere aanhardloop.

“Hulle sou lekker gespeel het.”

Hier in Melanie se sitkamer loop die trane kort-kort. Sy help om vir Sharease die gebeure op te diep van daardie dag toe haar biologiese pa, ’n dieselmotorwerktuigkundige, by haar ma se ouerhuis ingestap het op soek na haar.

Ria het hom drie maande tevore verlaat omdat hy haar mishandel het. Melanie, destyds ’n dogtertjie van ses jaar oud, onthou toe haar stiefpa voor die huis stilhou, het ’n tante wat die dag daar gekuier het, gewaarsku daar kom moeilikheid. Melanie en haar kleinboet, Frikkie (toe 4), moes in die sitkamer gaan wegkruip. 

“My boetie het in my pa vasgeloop voor ons gaan wegkruip het, en hy (Frik) het gesê: ‘Wag ’n bietjie,’ ” onthou sy.

Dan vervolg sy saggies: “Ons het die skote gehoor. Frikkie was bang, en ek het hom vertel dis klappers, maar ek het geweet wat dit regtig is . . .”

Frik het oupa Johannes en ouma Martha eers in hul slaapkamer doodgeskiet terwyl hulle ’n middagslapie geniet het. Ria het die skote gehoor en na haar ouers se slaapkamer gehardloop. Haar oë raak troebel toe sy onthou hoe sy haar sterwende ma se kop opgelig het.

Tuis in Mac­Gyver Verwey en Sharease se huis op Memel. MacGyver pak die koolstoof vir hitte teen die winterkoue. Foto: Lubabalo Lesolle

En toe skiet Frik haar in die voorkop en wang. “Ek het geroep: ‘Mammie, mammie,’ ” onthou sy.

Die gebeure daarna is uit haar geheue weggevee.

Maar Melanie onthou wel. Sy en kleinboet Frikkie moes ná die aanval in ’n kinderhuis gaan woon. Sy vertel sy het jare lank in die kinderhuis nagmerries gekry oor wat hulle moes hoor en sien. “Ek het my wakker geskree.”

Toe sy as dogtertjie uit haar wegkruipplek kom en na haar ouma en oupa se slaapkamer hardloop, het sy gesien hoe haar ouma op die vloer lê.

“Sy het geroggel in haar bloed. My ma het haarself van die grond probeer oplig en met haar hand op my oupa se rug gedruk, maar sy het nie die krag gehad nie,” onthou sy met ’n snik.

Toe die polisie en nooddienste opdaag, is die swanger Ria met ’n helikopter hospitaal toe geneem.

“Anders was ek en jy nie hier nie,” sê Ria nou en kyk aangedaan na Sharease.

In die maande daarna het sy van tyd tot tyd in ’n koma verval en dan weer haar bewussyn herwin. Toe sy haar bewussyn die dag permanent herwin, was baba Martie Aletta weg.

Ria moes ’n jaar lank in die hospitaal bly en rehabilitasie ondergaan om van voor af te leer loop en praat. Haar vorige man het hul seun, Johan (toe 8), kom haal, maar nie vir Melanie nie.

Sy was die volgende ses jaar saam met Frikkie in die Abraham Kriel-kinderhuis. In 2000 is Ria weer getroud, “met ’n goeie man wat nie gedrink het nie”.

Hulle is ná ’n huwelik van twee jaar geskei, en daarna het Ria saam met Melanie en Frikkie rondgeswerf.

Die impak van Ria se destydse wonde was blywend: Sy het gesukkel om te loop en met ’n sleeptong gepraat weens die skade wat die koeël aan haar mond aangerig het. Maar die grootste verlies was die baba wat sy verloor het, en sy het bly hoop sy sou haar dogter weer eendag in haar omswerwinge raakloop.

Sharease sê haar aanneemouers kon haar nie vertel waar haar biologiese ma haar bevind nie. Veral nadat haar huwelik met Tertius op die rotse beland het, het sy die land platgereis op soek na haar biologiese ma. 

Dit was toe sy haar seuntjie in ’n stadium moes stuur om by Tertius te gaan kuier dat hy klein Helgaardt aangerand het en die seuntjie daarna in pleegsorg geplaas is.

Sharease se soektog na haar ma het haar in ’n stadium na Memel geneem, en dit is waar sy haar lewensmaat, MacGyver Verwey (53), ’n nutsman en motorwerktuigkundige, ontmoet het.

Deesdae is haar halfbroer, Johan, ’n werktuigkundige in Vereeniging. Frikkie is glo soos sy ma en sus Sharease ’n swerwer.

“Laas toe ek hoor, was hy op Harrismith,” vertel Ria hartseer. “As ons hom net kan opspoor.”

Want dan, hoop die drie vroue, sal die gesin wat destyds aan flarde geruk is weer heel word.

Met soveel verlore jare om in te haal nooi Sharease vir Ria om ’n ruk by haar op Memel te gaan kuier. Voor hul vertrek gee Melanie eers vir haar raad oor hul ma se versorging.

“Jy moet haar help met trappies. Haar verlamde voet laat haar sommer agteroor val. Wees daar wanneer sy loop. Keer dat sy struikel.”

Dan haal Melanie Ria se pille uit.

“As sy nie hierdie pille drink nie, kan sy epileptiese toevalle kry.”

Sharease sien kans vir die verantwoordelikheid wat nou op haar skouers rus.

“Ek het my seuntjie ook twee weke lank versorg,” vertel sy van die tyd toe Helgaardt voor sy dood by haar gekuier het.

MacGyver het een van die huis se slaapkamers vir Ria ingerig. Foto: Lubabalo Lesolle

“Hy was ook soos my ma verlam. Ek moes hom ook help bad en aantrek met sy stywe armpie. Ek moes ook na hom kyk met geduld, liefde en baie aandag.”

In die motor op pad terug na Memel gesels ma en dogter land en sand.

“Ek het heeltyd presentjies vir jou deur die welsyn probeer stuur, maar hulle kon dit nie by jou uitkry nie,” vertel Ria.

Vir Sharease se derde verjaardag het sy ’n armbandjie gestuur met die woorde “Aan ’n wonderlike dogtertjie” daarop gegraveer en haar geboortedatum aan die ander kant.

Sharease vertel Ria van haar aanneempa, Casper Jerling (nou 71), wat haar aangemoedig het om na haar biologiese ma te soek. Sy vertel ook hoe MacGyver haar aangemoedig en gesê het: “Jy is elke dag soos ’n zombie. Gaan haal haar en bring haar hierheen terug.”

Nou berei Sharease haar ma voor: “Memel is ’n plaasdorpie. Dis rustig. Baie lekker wanneer jy eers aan die stilte gewoond is.”

Sy vertel MacGyver is goed vir haar. “As ek wil baklei, dan stap hy uit buitentoe. Daar sal nie ’n bakleiery wees nie.”

Dan wys Sharease ’n WhatsApp-boodskap wat sy van haar oom Jannie gekry het. Dit lui: “Net so ongeveer twee maande gelede sê ek vir my vrou: Kan ’n mens nie die een of ander plan maak om Martie op te spoor vir Ria se onthalwe nie?

“Ek het toe daardie aand in gebed gevra dat God ons leiding gee as Hy dit sou goed vind dat daar ’n ontmoeting plaasvind . . . en toe gebruik God sommer vir jou om alles bymekaar te bring. Ek is baie bly en verheug vir jou en jou ma.”

In die motor speel sy die stemnotas wat Ria die laaste paar dae vir haar gestuur het. Saggies klink Ria se stem uit die stemboodskappe op: “Hallo, my babatjie. Lief vir jou, my skat . . . Nou net opgestaan. Sien jou môre. Voel onwerklik. Môre is dit werklik.”

Later die middag hou die wit motor voor MacGyver se huis op Memel stil. Hy kom groet vriendelik, opgewonde om te vertel van die reëlings wat hy getref het: Ria se kamer is amper reg; hy wil nog net ’n laer bed kry sodat sy nie met die op- en afklim sukkel nie. Hy en Sharease wil ook ’n TV, radio en gasverwarmer in haar kamer sit; ma moet gemaklik wees.

MacGyver kyk ingenome na Ria terwyl sy haar tuismaak. “Sy was ’n wrak toe ek haar ontmoet,” sê hy van Sharease.

“Ek is bly jy is hier. Nou kan julle lekker gesels. Julle moet lost time opmaak.”

Sharease glimlag sag en ’n stil vrede skyn uit haar neutbruin oë.

“Ons kan nou oor die hartseer in ons lewe praat, maar met vreugde in ons hart omdat ons mekaar leer ken.”