Die pa van die gr. RR-onderwyseres aan die Laerskool Kollegepark – wat sedert haar inhegtenisneming geskors is – het vir ’n oomblik lank beheer oor sy emosies verloor terwyl hy die media kort ná die hofverrigtinge toegespreek het.

“Dit wat gebeur het was buite ons beheer. Maar ek . . . ek vra vir julle om verskoning. Die groot Geneesheer sal die wonde toemaak,.” het Riaan Botha (66) snikkend gesê.

Hy was nog besig om te praat toe Christo de Jager, die sesjarige Amy’Leigh se oupa aan vaderskant, nader stap; Riaan omhels en ook in trane uitbars. En toe prewel hy: “Sterkte . . .”

Emosies het hoog geloop toe Tharina Human (27); Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50) Maandag in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn het. Foto: Fani Mahuntsi
Die landdroshof in Vanderbijlpark waar die beweerd
Die landdroshof in Vanderbijlpark waar die beweerde ontvoerders van Amy'Leigh verskyn het. Foto: Fanie Mahuntsi

Emosies het hoog geloop toe Tharina (27); Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50) – die drie verdagtes wat verlede week in verband met die ontvoeringsdrama in hegtenis geneem is – Maandag in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn het. Hulle word aangekla van ontvoering.

Kort voor die hofverrigtinge het ’n familievriend van Wynand en Angeline de Jager, die kleuter se ouers, gesê dis antwoorde, eerder as wraak, waarna die familie nou soek.

“Om hier te moet sit vandag . . . ’n Mens kan jou nie indink deur watter geweldige trauma die twee moet gaan nie.

“Angeline is papgehuil – daar is soveel vreugde omdat haar dogtertjie veilig is; maar ook soveel vrae. Waarom sý. Hoekom hulle. Die wreedheid daarvan om ’n ma se kinders uit haar arms te gryp – dís wat ons almal mal maak.”

In die hof het ’n stukkende Angeline op Wynand se skouers gerus, en kort-kort die trane uit haar oë gevee. Foto: Fani Mahuntsi
Die Gautengse LUR vir onderwys het ook met Amy'Lei
Die Gautengse LUR vir onderwys het ook met Amy'Leigh se ouers gesels. Foto: Fani Mahuntsi

In die hof het ’n stukkende Angeline op Wynand se skouers gerus, en kort-kort die trane uit haar oë gevee. Net ’n meter verder – op dieselfde bankie – het trane vrylik oor Riaan se wange gestroom.

Die ouerpaar was opsigtelik ontsteld en hartgebroke; en het oogkontak met die media deurlopend vermy.

Die drie verdagtes: Soos dit gebeur het

Na wat voel soos ure word die drie verdagtes vanuit die aanhoudingselle tot in hof B gebring.

Dis skuins na 12:00 en die spanning heers tasbaar. Pieter kom eers te voorskyn. Op sy hakke is Laetitia. Albei kyk angstig rond; hul besige oë soek binne sekondes na ’n bekende gesig in die gehoor.

Dan stap Tharina uit. Sy het ’n grys knopiesjas aan; haar blonde haar is in ’n stywe bolla geknoop. Haar oë lyk moeg en haar bolip prewel – en dit vat alles vir die jong onderwyseres om nie in trane uit te bars nie toe sy vir Riaan in die galery soengroet voordat sy haar plek in die beskuldigingsbank inneem.

Maar aan pa Riaan se emosies is geen keer nie. Om te dink sy lieflingdogter word van só ’n misdaad aangekla . . .

'Ek vra uit die diepte van my hart om verskoning .
'Ek vra uit die diepte van my hart om verskoning . . .' het 'n emosionele Riaan Botha snikkend buite die hof gesê. Foto: Fani Mahuntsi

“Ons is hartseer – natuurlik is ons. Maar ons glo,” het Riaan net oomblikke vroeër aan Huisgenoot gesê.

Maar terwyl die drie beskuldigdes voor hulle uitstaar, is dit Angeline se hartverskeurende snikke wat vriende en geliefdes in die galery ontroer. Sy huil terwyl die landdros Tharina se naam uitroep; en Wynand troos haar bemoedigend.

Boesempelle

“Angeline is stukkend – hulle was so na aan mekaar gewees,” vertel ’n familielid wat verkies om anoniem te bly.

“Tharina was elke tweede naweek by hul huis. Hulle was boesempêlle. Kyk maar na al die foto’s wat nou so in die sosiale media versprei word . . . Hulle lyk onafskeidbaar.

“En dis wat haar breek. Sy sou nooit kon raai dat sy eendag hier in die galery gaan sit en toekyk hoe een van haar pelle van die ontvoering van haar kind beskuldig word nie. Dis ondenkbaar.”

Die saak is Maandag uitgestel tot 19 September. Al drie verdagtes sal dan formeel om borgtog aansoek doen.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.